Groot gesinne en groepe is teen hierdie tyd al gewoond aan die unieke uitdagings wat hulle byna daagliks in die gesig staar, maar ten minste hoef verblyf g’n klip in hul pad te wees nie. Maak al die kinders, die hele familie en sommer die harige vierbeenvriende bymekaar vir ’n ontspannende wegbreek met oorgenoeg slaapplek en beweegruimte vir almal. LekkeSlaap het vir julle ’n paar verblyfopsies met Jacuzzi’s gaan soek sodat almal die meeste van die gesinswegbreek kan maak en uitgerus kan terugkeer huis toe. Spring sommer dadelik in en kies ’n plek waar julle soveel moontlik van die volgende familiebyeenkoms kan geniet.

Strand Beach Lodge

Strand, Wes-Kaap

Ons spring weg in die Wes-Kaap met die spoggerige Strand Beach Lodge op ’n gholflandgoed teen die strandfront. Dié villa in die Strand op die randjie van die Kaapse Wynlande bied slaapplek aan tien gaste en spog met ’n Jacuzzi, swembad en braaigeriewe waar julle heerlik agteroor kan sit en die geselligheid met ’n glasie van die land se beste wyn kan geniet en julle in goeie geselskap en sprokiesagtige berguitsigte kan verdiep.

At The Blue Door 

Jeffreysbaai, Oos-Kaap

Hierdie selfsorghuis in Jeffreysbaai is die perfekte plek vir dié wat naby die strand wil wees. Dit het slaapplek vir agt gaste en bied ’n asemrowende see-uitsig vanaf die balkon. At The Blue Door het ’n Jacuzzi, braai-area en ’n lieflike grasperk wat ideaal is aangesien julle ook vir ou Buksie kan saambring. Geen gesinslid hoef hierdie wegkomkans mis te loop nie, want almal is welkom.

Hunter’s Pride 14

Hammanskraal, Gauteng

Hunter’s Pride 14 skuil sowat een uur se ry vanaf Pretoria en bied slaapplek aan ’n groep van agt. Die huis het elke denkbare gerief wat julle verblyf genotvol sal maak, insluitend ’n eetarea met ’n ingeboude braai en ’n buite-area met ’n Jacuzzi en ’n boma met ’n vuurput. Daar is ook ’n batterystelsel vir beurtkrag en julle kan ’n verskeidenheid aktiwiteite soos putt-putt, tafeltennis en wildritte op die landgoed geniet. 

Maratongfontein Villa

Mookgopong, Limpopo

Maratongfontein Villa bied slaapplek aan agt gaste op ’n gholflandgoed in Mookgopong met ’n gholfbaan wat aan internasionale standaarde voldoen. Buiten die Jacuzzi wat ure se ontspanning beloof, is daar ook ’n kabelkarretjie vanaf die klubhuis na die restaurant waar julle heerlik saam kan eet. Los sommer ook al die bekommernisse oor beurtkrag by die huis, want hiér is sonpanele!

Twin Greens

Hartbeespoort, Noordwes

Vir tien-uit-tien-verblyf op die rivieroewer van die Hartbeespoortdam waar troeteldiere ook saam kan kuier, is Twin Greens nét die regte vakansiehuis vir julle volgende wegbreek. Die huis bied slaapplek aan tien volwassenes en twee kinders en het ’n lieflike kaggel in die leefarea waar julle in die winter sommer lekke snoesig bordspeletjies kan speel. Geniet gesellige geselsies in die Jacuzzi op die stoep of kuier by die eetarea terwyl julle die uitsig oor die gholfbaan bewonder. 

Walking Tall Private Bush Retreat

Marlothpark, Mpumalanga

Verruil die geraas van die stad vir die gesang van meer as ’n honderd voëlspesies! Walking Tall Private Bush Retreat bied ’n toevlugsoord sowat 300 meter vanaf die Krokodilrivier in Marlothpark langs die Krugerwildtuin. Die selfsorghuis is die perfekte plek vir ’n groep van nege natuurentoesiaste en het ’n Jacuzzi en ’n boma met braaigeriewe — ideaal vir ’n bosveldwegbreek! Kom ontspan en verwonder julle aan ’n verksiedenheid wild wat gereeld die watergat, net tien meter vanaf die huis, kom besoek. 

Vale2Vaal

Parys, Vrystaat

Vale2Vaal bied ’n rustige wegbreek in Parys wat veral bekend vir pragtige natuurskoon en besienswaardighede soos die Vredefortkoepel is — maak ’n draai! Met slaapplek vir 17 gaste is daar oorgenoeg plek vir die hele gesin, almal se maats en sommer die buurman ook. Die verhitte plonspoel voor die ingeboude buitesitarea is soos iets uit ’n tydskrif en dra tot die verblyf se ontspanne atmosfeer by. Troeteldiere is ook welkom en julle kan saam met Snippie op die stoep sit en die uitsig oor die grasperk, tuin en rivier bewonder. 

Leisure Legacy

Port Edward, KwaZulu-Natal

Maak almal bymekaar en kom slaap stapafstand vanaf die swemstrande in Leisure Bay. Met slaapplek vir agt gaste, ’n Jacuzzi en ’n dek met ’n pragtige see-uitig en ingeboude braaigeriewe, is hierdie die heel beste plek om te wees vir ’n groot gesin wat graag die vierbeen-familielid ook wil saambring. Leisure Legacy is ook naby klein winkels in die area en daar is dus geen gerief wat by dié verblyf ontbreek nie. Pak julle tasse en gryp die swemhanddoeke — die strand wag!

***

Daar het julle nou heelwat verblyfopsies waar julle onvergeetlike herinneringe saam met die hele groep kan skep. Kies tussen die see, berge of die bos en gaan groot met groepsverblyf!

Hooffoto: Strand Beach Lodge


Lees ook:

10 sakpaswegbreke naby Gauteng

Kampplekke vir gesinne in die Wes-Kaap

Mpumalanga: Aktiwiteite vir jou volgende avontuur