Oor ‘n plattelandse bestaan kan jy my min vertel. As kind het ek in Tuinstraat, ‘n doodloopstraat in Klawer, gewoon. Toe was daar nog nie ‘n Wimpy langs die dorp nie (en ‘n kuierplek is daar nou nog nie). Terwyl ek en my tweelingsuster se fiets veilig op die bure se onomheinde grasperk gelê het, en ons heel moontlik in die aangrensende straat in ‘n mangoboom geklouter of selfgemaakte kaartjies aan huisvriende verkoop het, het stadsliggies ons aan Kersfees laat dink … die donker aan spoke se skuilplekke, en flitsende vure aan draakbekke.

Toe Piekenierskloof Mountain Lodge die LekkeSlaap-span nooi om ‘n naweek in Citrusdal te kom kuier, kon ek nie help om weer na dié gelukkige kindertonele te dink nie. Toe was alles dan so veilig en rustig, sonder ADT-karretjies wat soos skimme stadig deur die strate ry of sekuriteitswagte wat om elke hoek en draai sit of staan (maar gewoonlik sit). Sou Citrusdal ook soos my droomjare in Klawer wees, of het tye verander? Is Citrusdal nader aan die Kaapse Metropool, en die gejaag na wind dus meer algemeen? Ek kon nie wag om uit te vind nie!

EERSTE INDRUKKE

Piekenierskloof Mountain Lodge is hoog op in die Piekenierskloofpas in die Sederberge, geleë, so twee ure se ry van Kaapstad af, op die N7. Ons span van vier was ongelukkig in die verkeerde oorgangseisoen daar om die lentekombers van Namakwalandse madeliefies te aanskou, maar die uitsigte en vooruitsigte van die naweek het daarvoor opgemaak.

Wenk: Bring jou kamera saam!

KLOOF RESTAURANT

Gedurende die naweek het ons by Kloof Restaurant op dieselfde perseel onder andere steak, pizza, slaai en kerrie geëet. Die sjef se kookvernuf regverdig die veer in haar hoed, want die steak was volgens ‘n mede-blogger “die beste steak ooit”. Vir honger gaste is die stewige pizza-porsies die top keuse, terwyl die geurige hoenderslaai gesondheidsbewuste smulpape se smaakknoppies sal prikkel. Die pryse is nie buitensporig nie, en die kelners is vol stories en grappies.

Wenk: Bestel die steak, jy sal nie spyt wees nie.

ONTBYT

Nes aandete, is ontbyt ook ‘n sosiale geleentheid. Hier hou die gaste én personeel van opbouende staaltjies deel, iets wat opvallend anders is as by hotelle en lodges in die stadskern. Die ontbyt het die hele tutti ingesluit, van eiers en wors tot vrugte en croissants. Maar as daar een bederfie is wat beslis nie misgeskep moet word nie, is dit die muffins! Ons is verlei met papawersaad-, sjokolade-, en bloubessiemuffins. Hulle bak die muffins op die perseel, en mens proe dit. Dis nie ‘n winkelsakkie-muffin of grootmaat-grootte nie, dis soos jou ouma dit sou maak … miskien net sagter, varser en met ‘n baie besonderse brosserige bokant.

Wenk: Eet klein porsies, sodat jy ten minste een muffin as ontbyt-nagereg kan probeer.

AKTIWITEITE

Piekenierskloof Mountain Lodge het ‘n speelkamer en speelgrond met trampolien en buitelugskaakspel vir die kleinspan. Aan aktwiteite vir die ouer garde skiet die plek egter ook nie tekort nie. Die lodge het ‘n dameskroeg, konferensiekamer, welwees-sentrum, buitelug-swembad en ‘n ruim, en daar is ‘n verhitte swembad grondvloer. Avontuurlustige gaste kan ook Zip Line.

Wenk: Pak gemaklike klere in.

ZIP-LINE

Zip 4

Zip 5

Zip-Line is ‘n fancy term, wat eintlik maar net beteken dat jy in ‘n harnas aan kabelhandvatsel vashou en teen ‘n helse spoed by ‘n kabel afgly om bome, bosse en water onder jou te sien. SA Forest Adventures bied die Zip-Line-sessies op die perseel aan.

Alle grappies op ‘n … uhm … kabeltjie. As jy in die lug hang met ‘n vreemde oorpak, sonder hoë polvye of enige behoefte om vir foto’s te glimlag, is dinge nie meer so snaaks nie. Tydens al sewe glysessies het my hart harder geklop as die fynbosvoëltjies se getjilp waarna ek veronderstel was om te luister. En die uitsig? Ek onthou dit dofweg, ‘n vaalgroenigheid en blou lug bo my kop. (Herman, my mede-blogger, blog binnekort oor sy Zip Line-ervaring. Miskien was hy minder bang en meer avontuurlustig. Hou hierdie spasie dop!)

Wenk: Pak genoeg reukweerder in … want sweet, dit sal jy!

LEKKESLAAP

Die hotel-gedeelte van Piekenierskloof Mountain Lodge is verlede jaar oorgebou en opgeknap, en bestaan uit 22 hotelkamers. Alles is spoggerig, skoon en nuut: die Cobra-krane, die spa-bad in die luukse suites, die beddegoed en minimalistiese afwerkings. Hoewel daar muskietweerders beskikbaar is, was dit nie nodig om dit aan te skakel nie.

De suites is ideaal ingerig vir wegbreeknaweke saam met die gesin, maar ook vir sakelui wat vir ‘n week of meer in die area moet werk, of toeriste wat na Namibië toe ry. Elke suite het onder andere tee- en koffiemaakgeriewe, ‘n kroegyskas en ‘n gasvryheidspakkie met sepies, sjampoe en opknapper.

Die lodge het ook 16 grasdak-chalets, ideaal vir kindervriendelike vakansies wat nie jou beursie sal boelie nie. Elke chalet het drie slaapkamers vir tot ses gaste, ‘n gemeenskaplike eet-area en ‘n volledig toegeruste kombuis.

By Piekenerskloof Mountain Lodge ontmoet die veilige gevoel en kalmte van Klawer die Kaap se liggies en bedrywighede! Die geriewe hierso is modern en luuks, maar die omgewing en sy mense is iets wat my laat hunker het na daai dae in die mangoboom … toe my ouers maar ons fietse in die agteryard weggesteek het, om ons die lessie oor diefstal te kon leer.