Bobotie, koeksisters, malvapoeding, potjiekos, herzoggies, bokkoms en biltong – dis maar net ʼn paar van die geregte en peuselhappies wat ons met trots Suid-Afrikaans noem. Ek was aangenaam verras om uit vind daar is soveel restaurante regoor die land waar jy na hartelus aan eg Suid-Afrikaanse geregte kan smul. Hoe dan nou anders as om die kollig op van hulle te plaas!

Bobotie, ʼn dis met Maleise herkoms wat hoofsaaklik bestaan uit kerriemaalvleis, sultanas en eiervla, is waarskynlik die naaste ding wat ons het aan ʼn nasionale dis. Bo-Kaap Kombuis bedien hul bobotie met geurige rys, groente en ʼn skeppie blatjang vir R85. Verder kan jy kies en keur tussen kerries, seekos, frikkadelle, sosaties en platters. Die hoogtepunt van dié feesmaal is die smullekker nageregte ‒ 13 unieke poedings om van te kies wat Amarula Crème Brulee, Rooibos Panacotta en Hertzoggies insluit. Sluit byvoorbeeld jou maaltyd af met eg Suid-Afrikaanse malvapoeding of ‘n Kaaps-Maleise koeksister (ʼn kruierige en geurige oliebol wat met kokosneut besprinkel is en verskil van die “Afrikaanse” weergawe). Sit op die balkon en bewonder die prentjiemooi uitsig op Tafelberg en die reënboogkleure van die vrolike Bo-Kaap!

021 422 5446

1 - Copy

Hier moet jy nie blink eetgerei en spierwit tafeldoeke verwag nie – Om stukke brood in souserige kerrie te doop en aan ʼn halwe brood vol kerrie te smul is ʼn morsige storie en dis hoe dit moet wees! Ons sou nie voorstel dat jy iemand hierheen neem vir ʼn eerste date nie. Dit is wel in die middel van ʼn industriële omgewing geleë, maar dit keer beslis nie die skares wat gereeld om dié eetplek saamdrom nie. Bestel ʼn ‘mutton bunny’ (basies ʼn uitgeholde brood met kerrieskaapvleis in) vir R42. Dit ‘n groot gunsteling onder plaaslike inwoners en besoekers en daarom word daar op ʼn besige dag tot 11 skape deur gulsige klante verorber. Gounden’s is so gewild dat besoekers soms eers daar inloer voor hulle nog by hul gastehuis kon inklok, so gaan maak ʼn draai as jy volgende keer in die Durban-omgewing is.

031 205 5363

Die beste plek vir ʼn potjie is gewoonlike saam met familie en vriende in jou eie huis (al wat jy nodig het is ʼn driepootpot, warm kole, vleis, groente en twee ure). Maar by Chief’s Boma by Jozi’s Indaba Hotel in Fourways kry jy potjie PLUS ʼn buffet met ʼn verskeidenheid ander ikoniese Suid-Afrikaanse disse.  Steak, aartappelslaai, bredies, kerrie, bobotie en allerhande souse is maar enkele van die opsies om van te kies! Die Zoeloe-ontwerpe en ʼn lewendige marimba-orkes skep die ideale atmosfeer vir ʼn egte tradisionele gereg.

011 840 6600

1

Karooskaap se kenmerkende smaak kom van die verskillende inheemse bossies waaraan die skape in vreet in hierdie kontrei. Antie Evelyne Olifant, wat in die Pienaarsig-nedersetting in Nieu-Bethesda grootgeword het, bied jou nie net die lekkerste lamsvleis nie, maar ook ware Karoogasvryheid en heilsame, outentieke geregte. Die mengelmoes van breekware wat hoegenaamd nie bymekaar pas nie, die geel mure en die blomskilderye sal jou geensins pla as jy eers aan die lamtjops en tuisgemaakte tamatiesmoor weglê nie.

083 873 5526

3

Mense wat in dié deel van die Weskus bly, is mal oor bokkoms, maar as jy nog nie voorheen aan die Weskus was nie, sou ek voorstel dat jy dit maar stukkie vir stukkie probeer. Dit is baie sout en gee nogal ‘n skerp klankie af. Blikkie Pizzeria maak wel ʼn baie lekke pizza – The Paternoster (R87) – met gerookte snoek, gemarineerde bokkoms, Peppadews en uie. Die binnekant van dié bekoorlike sink geboutjie is versier met allerhande outydse advertensies en antieke kaste en toonbanke wat nostalgie in enige besoeker sal opwek. Kyk of jy ʼn lekke tafel op die dek kan kry sodat jy die luisterryke dorp- en see-uitsigte kan bewonder terwyl jy aan jou pizza smul of geduldig aan jou bokkom kou.

022 752 2246

By Towerbosch op die Knorhoek-wynlangoed buite Stellenbosch word vleis op ‘n oop vuur gebraai en outydse, porseleinborde vol kos word na jou tafel toe gebring. Smul aan ʼn lendeskyf en lam wat in jou mond smelt saam met gebraaide aartappels, kaneelbotterskorsie en boontjies. Bederf jouself daarna met eg Suid-Afrikaanse malvapoeding vir nagereg! In die winter kan jy na hartelus aan jou heerlike maaltyd smul voor die snoesige kaggel en gedurende die somermaande kan jy saam met jou vriende of gesin onder eikebome sit en eet en die uitsig oor die tuine, speelgrond en rotspoel bewonder. Sondae kan jy jou gesin bederf met die luilekker en heilsame Country Feast-middagete ‒ ʼn driegangmaaltyd wat bestaan uit ‘n verskeidenheid opsies vir elke gas se persoonlike smaak. Dié feestelike en watertandlekker-maaltyd sal ongetwyfeld die hoogtepunt van jou naweek wees!

021 865 2958

Dié buitelug-seekosbuffet duur 3 uur lank, maar jy sal gou besef jy het heelwat meer tyd nodig om werklik Muisbosskerm en sy kos ten volle te waardeer. Die buffet begin met sout bokkoms, stroopsoet mielies en soetpatats, varsgebakte brood en smaaklike snoek. Teen dié tyd dat jy besef dit was maar net die begin, is jy klaar trommeldik wanneer jy besef! Paella, aartappeltjippies, kabeljou, stokvis in ʼn beslag, waterblommetjiebredie, hotnotskoolbredie en kreef volg, om nie eers te praat van die kraakvars koeksisters vir nagereg nie … Die restaurant se ligging op die strand, omring en beskut deur ‘n heining van muisbos, verleen aan hom sy naam en verseker jou van ʼn egte Weskus-ervaring.

027 432 1017

4 - Copy (2)

Dié plattelandse restaurant in die pragtige dorpie Stanford bied klassieke Afrikaanse disse wat hulle ‘skaap-en-dinges’ en ‘ouma se hoenderpastei’ noem. Outentieke Kaapse geregte met Franse en Italiaanse invloede word ook hier voorgesit. Marianas is veral bekend vir die hartlike gasvryheid waarmee gas begroet word in dié slentersjiek Victoriaanse kothuis met ʼn uitsig op die berge, Kleinrivier en pragtige groente- en kruietuine. Die meeste van die vars produkte wat in Marianas se disse gebruik word, kom uit dié tuin en die res word ook alles van nuuts af gemaak. Dis g’n wonder die restaurant is reeds deur Eat Out bekroon as “Best Country Kitchen” nie.

028 341 0272

Weet jy van nog ʼn restaurant waar ʼn mens sulke liplek-lekker Suid-Afrikaanse geregte kan eet? Laat weet ons hieronder sodat ons ʼn opvolg-blog kan skryf!