Die Weskus se vissersbote, kreef en vissershuisies is aan almal bekend, maar vir die meerderheid Kapenaars is dit minder algemeen om die langpad verder as Paternoster of Velddrif aan te durf. Noord van hierdie plekke betree jy ’n ander koninkryk met sierlike rotsvorms, grotte en oorblyfsels van Suid-Afrika se vroegste bewoners. Lambertsbaai, wat deel vorm van die Sederberg Munisipaliteit, lê dalk net ’n bietjie te ver van die Kaap af om die skares te lok. LekkeSlaap het die voorreg gehad om hier te kom vertoef, die dorpie plat te stap en ’n paar staaltjies oor die omgewing wys te raak.
Om die meeste uit die ervaring te put stel ons voor jy volg die Weskuspad via Dwarskersbos, eerder as die N7, sodat jy by Elandsbaai ook kan inloer. Ons uitstappie aan die Weskus het hiér afgeskop en dit was beslis ’n goeie voorsmakie van wat nog op ons wag. Verlorenvlei, ’n vleiland-ekosisteem by die ingang van Elandsbaai, was ongelukkig droog tydens ons besoek, maar dit noop ons om tog eendag terug te keer wanneer die lewe weer gedy.
Die ander hoogtepunt in Elandsbaai was natuurlik die lang, ongerepte strand wat as een van die beste branderry-bestemmings in die land beskou word. Buite die spitsseisoen is daar beswaarlik ’n enkele ander siel te bespeur. Die rotsformasies eie aan dié distrik, asook die vissersgemeenskap wie se bestaan rondom dié kus draai, dra by tot Elandsbaai se unieke karakter en sal nog vir lank in ons gedagtes geëts wees.
Dit was net woerts-warts en ons val terug in die pad na ons bestemming. Ons het immers in ons agterkoppe die idee gekoester om tóg Die Wit Mosselpot Restaurant se naamgenoot-spesialiteitsgereg op pad terug op die proef te stel, so ons beplan om gou weer terug te kom.
Ná ’n dag van verkenning aan die Weskus, hou ons stil by West Coast Eagle’s Nest in Lambertsbaai waar ons die aand gaan rus. Die grootste verrassing wat jou inwag as jy by die boonste eenheid instap, is die potblou see-uitsig wat die hele lengte van die groot glasdeure beslaan. Eagle’s Nest en Arendzicht se eenhede het heel moontlik die beste ligging in Lambertsbaai ─ reg op die strand met ’n onbelemmerde uitsig oor die pier wat die see in strek. Jy kyk ook direk oor die bekende Voëleiland met witmalgasse wat konstant soos ’n draaikolk bo hulle broeiplek saamdrom.
Oor naweke en gedurende die spitsseisoen is dit alte lekker om die uitbundigheid van die strandgangers van Eagle’s Nest se dek af dop te hou. Op stiller dae is dit weer die ongerepte, uitgestrekte strand met ’n paar siele wat nou en dan op die strand kom dwaal wat jou vermaak.
Eagle’s Nest se boonste eenheid het die mooiste uitsig en is verhewe bo al die strandaktiwiteite. In die onderste eenhede is jy een met die strand en kan jy na hartelus net ’n paar treë vorentoe stap om die sand onder jou voete te voel of jou tone in die water te steek. Vir die kleinspan is dié eenheid ’n absolute wenner, aangesien hulle enige tyd van die dag hulle energie op die grasperk en sand kan uitput en vir skulpies rondsnuffel.
Jy kan selfs vroegoggend uitglip vir ’n drafsessie op die sewe kilometer lange strand. Die sagte sand sal jou kuite beproef, so ons waarborg beslis nie dat jy die volle afstand sal baasraak nie. Na ’n vinnige afkoelsessie in die verfrissende Weskus-water is jy betyds terug om saam met die res van jou geselskap, wat teen dié tyd nog dik van die slaap is, die eerste boeretroos van die dag te geniet.
As daar nou een ding is wat ’n mens help om af te skakel van die alledaagse gejaag na niks, is dit om lekker te eet, en Lambertsbaai is nét die plek daarvoor. By High Tide Restaurant in die pragtige ou Kreefhuis-gebou met dekor so eie aan die Weskus, kan jy aan Kaap-Maleise mossels met rys en groente smul, of sommer al die oggend aanmeld vir rooibos-gegeurde gestoofde vrugte.
’n Entjie in die pad af is Isabella’s, ’n regte hawerestaurant met ’n luilekker atmosfeer, hope karakter en heerlike pizzas en seekos.
Langs Isabella’s by die hawe is nog ’n onverwagse ontdekking: ’n Aanleg wat verbasend genoeg nie met vis of kreef werk nie, maar met bevrore aartappelskyfies. Dié streek is immers waar Suid-Afrika se bekende Sandveld-aartappels vandaan kom. Dit was interessant om te sien hoe die aartappels verwerk word en die skille uit ’n pyp in ’n enorme trollie te sien val. Die eindproduk word na winkels regoor die land vervoer, maar plaaslike inwoners kan sommer op Donderdae direk by die fabriek koop.
Aan die ander kant van Isabella’s is die ingang na Voëleiland. Dit word deur Cape Nature bestuur en ’n bewaringsfooi van R50 word by die ingang gevra. Besoekers stap deur die hek en oor die hawemuur verby interessante inligtingsborde tot by die eiland waar daar ’n museum met geraamtes en ’n groot standbeeld van ’n walvis is.
Strukture is gebou waar kormorante, oftewel trekduikers, kan nesmaak en daar is ’n voëlskuiling vanwaar jy die enorme kolonie witmalgasse se dansies kan dophou. Die eiland is een van net ses plekke in die wêreld waar laasgenoemde, met sy 170 cm-vlerkspan, nesmaak en die enigste in sy soort waartoe die publiek so maklik toegang het.
View this post on Instagram
Om asem te skep en so ’n bietjie perspektief oor die hele toneel te kry kan jy stelling inneem op een van die walviskaakbeen-bankies.
Na ’n dag van verkenning is dit lekker om om die braai te ontspan met ’n glasie wyn in die hand en die gesuis van die branders as agtergrondmusiek. Eagle’s Nest se boonste eenheid het ’n braaiplek binne en buite, so jy kan ongeag die weer jou vleisie oor die kole gooi en vanaf die dek die son oor Voëleiland sien sak. Selfs wanneer jy die deure moet toeskuif om die briesie uit te hou, is die magtige dreuning van die Atlantiese Oseaan steeds digby om jou te herinner dat jy aan die Weskus is.
Die volgende been van die naweek is ’n uitstappie na Steenbokfontein See Plaas. Die motors staan dik geparkeer by Muisbosskerm wat sy jaarlikse opedag vier en jy voel sommer die feestelike atmosfeer aan wanneer jy daar verbyry op pad plaas toe.
Op Steenbokfontein gaan kuier ons eerste by Tannie Kitta se Plaaskombuis. Die brakwater maak die koffie ekstra lekker en die skons is kraakvars. Die mure van dié restaurant is getooi met geskiedkundige foto’s, soos die skip Sybille wat tydens die Anglo-Boereoorlog in 1901 daar regoor die plaas op die rotse geloop het.
Die grotte op Steenbokfontein is ’n skatkis vir argeoloë wat met hulle gesofistikeerde metodes opgrawings kom doen en die rotstekeninge bestudeer, en heelwat navorsing is oor die jare daaroor gepubliseer. Die geskiedenis van die vroegste bewoners hier word so ver terug as 60 000 jaar geskat!
Verblyf is daar in oorvloed op Steenbokfontein. Gaste kan kies tussen Steenbokfontein See Plaas Akkommodasie se selfsorg-eenhede, en verblyf in die vorm van ’n hokkie, ’n grotjie en selfs ’n gruisgroef so ’n entjie dieper die plaas in. Weskus Hokkie is die mees afgesonderde van die drie, versteek agter ’n rots met ’n uitsig wat ’n paar kilometer oor die plaas tot by die see strek. Die buitebadkamer wat in die rots gebou is, sal jou werklik een met die natuur laat voel.
Weskus Grotjie, aan die ander kant van die rotskoppie, is soos sy naam aandui, in ’n grot gebou. Sy binnekant het stukkies erfenis uit die gesonke Sybille-skip, en die hoogtepunt is die klipbadkamer met sy uitsig oor die plaas en see in die verte.
Aan Weskus Quarry is ’n paar interessante staaltjies verbonde. Die hawemuur by Lambertsbaai moes verleng word en die mees verkrygbare materiaal wat die aanslag van die branders kon weerstaan was Tafelberg-sandsteen vanaf Steenbokfontein. Daar waar die rots ontgin moes word was egter ’n grot met rotstekeninge. Die Universiteit van Kaapstad moes eers toestemming verleen om by die argeologiese terrein te kon grawe, en die tekeninge moes verwyder word en na die museum geneem word.
Van die plaaswerkers was oortuig dat hierdie bedrywighede op die oerbewoners se turf veroorsaak het dat ’n Boesmangees daar begin spook het. Die gees is eers verdryf toe die plaaseienaars onder protes ingestem het om ’n skaap te slag.
Die groef wat vandag daar is, is waar Weskus Quarry se oulike tentverblyf tans pryk. Die verblyf bestaan uit 2 struktuurtente met basiese beddegoed, ’n gemeenskaplike selfsorgkombuis en ’n badkamer.
Na ’n aangename tydjie in Lambertsbaai was dit weer tyd om via die Weskuspad terug Kaap toe te keer. By Elandsbaai het ons uiteindelik die kans gekry om by Die Wit Mosselpot Restaurant aan te doen. Die buitekant van die restaurant is verteenwoordigend van die luilekker surfer-atmosfeer wat in E’Bay, soos dit onder branderryers bekend staan, heers. Aan die binnekant is daar branderplanke, skulpies, natpakke, aardse houttafels en restaurantgangers wat lyk of geen probleem in die wêreld hulle kwel nie. En die mosselpot was absoluut heerlik!
Dit was lekker om laatmiddag-skemer op die Weskuspad terug te ry terwyl die pragtige kleure van die sonsondergang die lug inkleur. Ons het die Weskus gegroet met ’n paar mooi tonele, soos die verlate pier by Velddrif en die rotsagtige kuslyn by Grottobaai.
Terug by die huis is die naweek se aangename herinneringe nog vars in die are en voel ’n mens selfs of jy van die Weskus se wyshede met jou saamgebring het.
Hooffoto: Jana Barnard
Alle foto’s deur Jana Barnard en LekkeSlaap.co.za