Die Karoo het nou maar net sy manier om ’n mens weer mens te laat voel. Dis asof die oop vlaktes en die groot niet jou weer aan die dink sit ─ nie soos in die stad waar jou warrelwindgedagtes tussen die wolkekrabbers gaan vassteek en die getoeter en rumoer jou denke onhoorbaar demp nie. Dís seker hoekom ons paaie maar altyd terug na die Karoo lei ─ vir ons siel om weer asem te skep.
Ná die warm Karoo-gasvryheid en uitstekende diens wat ons by De Zeekoe Guest Farm ervaar het, het ons geweet Kristy se uitnodiging om ’n naweek by hul suster-lodge Wildehondekloof deur te bring, sou ’n ervaring soos min wees en ons was maar te bly om ’n rede te hê om die mooie Karoo-vlaktes weer in te vaar.
Vrydagoggend vat ons die pad Oudtshoorn toe en draai KFM se oggendtreffers op ’n blêrvlak-volume ─ hard genoeg sodat ons nie onsself hoef te hoor sing nie. Toe ons weer sien is dit tyd om die grondpad-afdraai net anderkant Calitzdorp te vat. Hiér hou ons op ’n klein bultjie stil om ’n foto te neem voor ons die grondpad met my Hyundaitjie aandurf. Die knersgeluid van die klippies wat onder die karretjie dans is al klank wat die Karoo-stilte verbreek.
Ons het voor die tyd ’n bietjie gaan oplees oor dié privaat wildreservaat in die hartjie van die Swartberge. Die dorre vierduisend hektaar is in 1996 sonder enige omheining, paaie of infrastruktuur deur die Potgieter-gesin aangeskaf. In 2002 het hulle met konstruksiewerk vir die geriewe en bestuurdersverblyf begin en terselfdertyd die idee gekry om die bestaande gebou in ’n lodge te omskep. Terwyl hulle gebou het, het die Potgieters besef dat dié gebou nie voldoende sou wees nie en het hulle besluit om die Wildehondekloof-lodge wat vandag op dié plaas pronk, te bou. Vaalribbokke, klipspringers, duikers, grysbokke, koedoes, ystervarke, ratels, bobbejane, luiperds, jakkalse en rooikatte het toe reeds die plaas as hul tuiste geëien, en sedertdien is elande, nóg koedoes, gemsbokke, rooihartebeeste, blouwildebeeste, swartwildebeeste, njalas, blesbokke, impalas en springbokke bygevoeg.
Kort ná middagete hou ons by die die plaas se groot hek stil en skakel die nommer op die bord. Die droogte se nalatenskap is met die inryslag opmerklik ─ dis net harde Karoo-grond en vaalgrys bossies waar jy kyk. My karretjie kruip stadig oor die klipperige grondpad, oor heuwels waar ons bokke in die verte sien spaander en om draaie tot ons die lodge soos ’n oase langs die rivier sien lê.
Die vriendelike bestuurder, Riaan, verwelkom ons met natlappies op ’n skinkbord en lei ons verby ’n swartbord met ons name en ’n verwelkomingsboodskap op na die ontvangsarea waar ons vinnig-vinnig inklok. Daarna neem hy ons na ons Deluxe-kamer toe. Die lodge spog met agt luukse en suite-kamers, een presidensiële suite en nog eenhede wat apart van die hooflodge staan. Elke eenheid het ’n uitsig oor die rivier en op die berge in die verte. Buite op die grasgroen grasperk wei die njalas salig onbewus van die stadsjapies wat hulle aan alles vergaap ─ in totale teenstelling met die bokke tussen die vaalgrys bossies wat vroeër laat spaander het toe hulle my karretjie se enjin hoor klippe kou.
Ons maak onsself op die stoep tuis toe Riaan vir ons die aandete-spyskaart bring. Vlakvark-carpaccio of salm saam met slaai vir voorgereg, volstruismaalvleisbobotie of hoenderpastei saam met groente vir hoofgereg, en malvapoeding of appelfrummelpoeding vir nagereg laat ons monde water. Nadat ons die wildrit vir die volgende oggend bevestig het, besluit ons om die korter staproete op die plaas aan te durf voor ons vir dié smaaklike aandete kom aansit. Die kort sirkelroete van vier kilometer kronkel vanaf die lodge al langs die rivier. Die geel pyltjies op die grond dui die pad aan en ons staan kort-kort eers stil om die volgende boom se naambordjie te lees. Langs die pad raai ons watter voëlspesies neffens ons verby vlieg en neem ’n blaaskans oorkant die lodge waar ons ’n uitstekende uitsig van die vooraansig het. Vir dié wat die plaas nog verder wil verken, is daar nog ’n staproete van sowat nege kilometer wat net so goed gemerk is.
Terug by die lodge, loop ons vir Paula, die eienaar, raak en knoop ’n geselsie aan, terwyl die rifrugwaghond Lucky, al om ons draai. Ons maak vir ons netjies en gaan sit in die eetkamer vir aandete aan waar twee Duitse paartjies reeds gesellig sit en gesels. ’n Bottel vonkelwater en Karusa se Sauvignon Blanc word aangedra en kort daarna bring Karen ons voorgereg. Ons smul aan die heerlike carpaccio en salm, terwyl die sagte Afrikaanse musiek en fluisterende Duitse stemme saggies in die agtergrond saamsmelt. Die hoofgereg is nét so lekker en oorgenoeg, en ons besef met ’n skok dat ons nog ’n plekkie vir die nagereg moet oorhou. Ná die groot borde kos staan ons met moeite op en wens die ander gaste ’n goeie nagrus toe voor ons kamer toe stap. Die maan glinster bo die ou populiere langs die rivier en die stad is al klaar net ’n vae herinnering in my agterkop.
Die kamer waarin ons vir die naweek bly, het twee groot driekwartbeddens, lugversorging, koffie- en teemaakgeriewe, ’n kraffie met sjerrie, badhanddoeke en ’n ruim en suite-badkamer met ’n pootjiespad, stort, dubbelwasbak-eenheid met ’n groot spieël, en ’n aparte toilet. Daar is selfs toiletware en ’n naaldwerkstelletjie ─ hulle het werklik aan alles gedink! Die donkerblindings in die kamer blok die oggendson heeltemal uit sodat dié wat soggens lekker laat wil lê na hartelus kan uitrus, maar aangesien ons reeds 07:00 vir Quinton voor die lodge vir ons wildrit moet ontmoet, is ons vroeg uit die vere.
Quinton wag ons voor die lodge in waar die Land Cruiser-wildritvoertuig reeds gereed staan. Hy gee vir ons elkeen ’n kombersie, verkyker en ’n bottel water aan en laai ’n piekniekmandjie agter in. Die Land Cruiser klim die koppies stadig uit terwyl hy ons meer oor die omgewing vertel. Blykbaar het wildehonde destyds deur dié kloof getrek en vandaar die naam van die lodge. Ons vra hom oor die droogte uit en hy vertel dat die area maar min reën kry omdat die plaas tussen die Outeniekwa- en Swartberge geleë is en die Swartberge so hoog is dat die swaar reënwolke die meeste van die tyd om die bergpieke vashaak voor dit by hulle kan uitkom. Hy beduie na die plantegroei langs die pad: Die vaalgrys bossies waarvan die plaas oortrek is, is renosterbos. Renosterbos kry sy naam van die vaalgrys kleur wat eenders is as ’n renoster se vel, maar daar word gespekuleer dat dit ook na die renoster vernoem is omdat die swartrenoster die enigste dier is wat dié bitter plant eet. Renosterbos word dikwels vir maagkwale, wintervoet en borskwale gebruik, en ysterbos is goed vir ’n ystertekort. Quinton vertel nóg interessante feite oor die omgewing, soos dat die San soetdoringsaad as koffiebone gebruik het, dat die wilgerbome lyk asof hulle pas gesnoei is omdat die bokke dit graag van onder af vreet, en dat Koedoes tot 2,5 m hoog van ’n staande posisie af kan spring ─ dis duidelik dat Quinton ’n passie het vir wat hy doen!
Ná so ’n uur hou ons langs die rivier stil en Quinton pak blikbekers, kookwater, koffie, tee, melk en beskuit uit. Ek maak vir ons koffie agterop die Land Cruiser se afslaankap en ons doop ons beskuit in die koffie, terwyl Quinton foto’s van die omgewing neem en ons van die voël in die boom bo ons vertel. Ná ’n tydjie ry ons verder en ons sien koedoes, gemsbokke, swartwildebeeste, njalas, impalas en springbokke.
Dis tyd vir ontbyt en Quinton gee vet op pad terug lodge toe. Toe ek weer sien, gee ’n grillerige, oranje slang aan my kant van die voertuig vinnig voor die motorband pad en ek laat glip ’n gilletjie. Terwyl ek verduidelik hoe hy lyk, ry Quinton vinnig in tru-rat agteruit na waar ek die outjie sien seil het, maar hy’s reeds skoonveld ─ ook maar goed, want Quinton is seker dit was ’n Kaapse kobra! Ons ry weer stadig aan lodge se kant toe en ek kyk kort-kort om my rond om te sien of hy nie dalk iewers teen die wiel opgeseil het nie …
By die lodge bedank ons vir Quinton vir die interessante wildrit en maak aanstaltes eetkamer toe vir ontbyt. Die heerlike reuk van ’n vars koffiebrousel hang in die vertrek, en vars vrugte, jogurt, muesli, ontbytgraan, koue vleis, muffins, plaatkoekies en roosterkoek lê op die toonbank en wag. Al die opwinding van die wildrit het vir ’n groot eetlus gesorg en terwyl ons aan ons ontbyt weglê, kom Paula en Riaan ’n draai by ons tafel maak om te hoor hoe die uitstappie was. Riaan vertel ons watter snaakse dierasies hulle al naby die lodge raakgeloop het en Paula raai ons aan om weer namiddag ’n wildrit te doen omdat ’n skemerkelkie en die sonsondergange op die plaas altyd ’n belewenis is.
Ná ontbyt gaan maak ons ’n draai by die ander eenhede. Die presidensiële suite het ’n koningingrootte-bed, sitarea, kaggel en sy eie, privaat stoep met ’n uitsig oor die rivier. Die ander luukse eenhede, wat apart van die hoofgebou geleë is, het ook elkeen ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, kaggel en ’n privaat stoepie met sitplek en ’n uitsig oor die swembad. Dié eenhede is stapafstand vanaf die lodge en ideaal vir gaste wat ’n bietjie meer privaatheid wil hê.
Ons kuier so lekker en vergeet byna dat dit tyd is vir die Rugbywêreldbekerfinaal. Toe die volkslied begin, staan ons, die eienaars, Paula en Hendrik, en die personeel, Tannie Poppie, Elizabeth, Karen en Quinton, almal in die sitkamer. Ons maak onsself tuis en kyk die geskiedkundige gebeurtenis saam met die mense van Wildehondekloof ─ en ons is so gemaklik, ons vergeet amper ons is met ’n blog-uitstappie! Ná die rugby-opwinding is die Karoo-hitte net te veel vir ons stadslywe en kies ons koers swembad toe. Ons kry vir ons swemhanddoeke uit die mandjie in die sitkamer en maak ons op die sonstoele gemaklik waar Lucky weer by ons voete kom lê. Quinton verras ons met water, eclairs, hertzoggies en ystervarkies langs die swembad. So lê ons die namiddag om, terwyl ons toekyk hoe die njalas op die gasperk wei en die lui windjie rimpeltjies op die water maak ─ salig!
So skuins ná vier kry ons weer vir Quinton voor die lodge waar die kombersies, verkykers en water reeds op die sitplekke wag. Die Land Cruiser klim weer die klipperige paadjie teen die koppies uit en ons sit soek-soek op die agtersitplek. Die voertuig kom skielik tot stilstand en Quinton beduie na ’n trop koedoes tussen die bosse. Ek soek omtrent om dié outjies wat so goed tussen die bossies wegsmelt raak te sien en Quinton lag lekker: “Dis hoekom hulle the ghosts of Africa genoem word”. Later hou hy weer op ’n koppie stil waar ons ’n uitsig oor die plaas en op die berge het en tower weer drankies en eetgoed op. Daar is biltong, skyfies, grondboontjies en rosyntjies om die ergste hongerpyne se stil, en sap, wyn, gin ’n tonic, bier, whiskey, Coke, Amarula en Appletiser om ’n glasie op die naweek te klink. Die son begin stadig sak terwyl ons lekker gesels.
Toe ons weer sien, is dit amper tyd vir aandete en Quinton stuur die Land Cruiser se neus weer in die lodge te rigting. Alhoewel ons vroeër so lekker aan die peuselhappies gesmul het, het ons gesorg dat ons ’n gaatjie vir aandete oorlos. Vanaand eet ons tamatiesop en roosterkoek vir voorgereg, volstruis- of beesfilet wat Riaan buite op die vuur braai saam met groente vir hoofgereg, en sjokolade- of malvapoeding vir nagereg. Ons lek behoorlik ons lippe af en sit nog ’n tydjie en gesels voor ons traag opstaan en ons weg kamer toe vind ─ reeds afgehaal oor die tog huis toe.
Die volgende môre sit ons vroeg vir ontbyt aan, want die lang pad terug Kaap toe lê voor. Ons gesels vir ’n laaste keer met Paula en Riaan voor hulle saam met ons uitstap en ek weer my karretjie se enjin aanskakel.
Die pad huis toe is lank. Ons begin reeds dink wanneer ons weer ons weg na die Klein-Karoo sal vind, want klaar gekuier is ons beslis nie. By die huis laat ek die grondpadstof effens te lank op my kar lê ─ ’n soete herinnering aan ’n Karooplaas waar ek altyd tuis sal voel.
***
Baie dankie aan Kristy en Paula vir die uitnodiging, aan Riaan vir sy gasvryheid, aan Tannie Poppie, Elizabeth en Karen vir die heerlike kos, en aan Quinton vir die deel van sy kennis.
Foto’s: Daniëlle Terblanche and Nanje Lourens, tensy anders vermeld.
Hooffoto: LekkeSlaap (Wildehondekloof)