Die Afrika-pikkewyn staan ook, heel kostelik, as die brilpikkewyn bekend! Dis moontlik vanweë die pienk vlekkies bo hul oë wat hulle soos Elton John in ‘n manelpak laat lyk. En hierdie Saterdag, die 11de Oktober, is dit Brilpikkewyn Bewustheidsdag! 

Daar is slegs 17 spesies pikkewyne wêreldwyd, en die brilpikkewyn is die enigste een wat op die Afrika-kontinent broei. Min mense besef dat minder as 2% van die brilpikkewynbevolking nog in die natuur voorkom. Die totale brilpikkewynbevolking het in die 20ste eeu skerp gedaal en dit is as gevolg van drie hoof-oorsake.

Pikkewyneiers is tot en met 1960 in groot maat versamel, want die eiers is as fynproewerskos in Europa geag, en die aanvraag was eenvoudig so groot dat daar tot 590 000 eiers in een jaar op ‘n enkele eiland versamel is! Op Dyer-eiland was die ghwanolaag 4 – 6 meter dik en pikkewyne het gewoonlik hierin nes gemaak. Die meeste voormalige ghwano-eilande is nou kaal rotse wat maak dat die pikkewyne gedwing word om te broei waar hulle aan roofdiere, vloede en kwaai weerstoestande blootgestel word. Die derde oorsaak is besoedeling. Brilpikkewyne is veral kwesbaar vir olie-besoedeling. Wanneer hierdie klein diertjies aan olie blootgestel word, kan hulle verdrink, hulle kan nie hulself voer nie, en moet ingebring word vir rehabilitasie. Hierdie trauma kan maak dat die pikkewyne vir jare nie kan broei nie.

Die SANCCOB het in 2009 Brilpikkewyn Bewustheidsdag tot stand gebring om mense regoor die wêreld bewus te maak van die feit dat hierdie kordate diertjies in groot gevaar is. Die statistieke is skokkend; die huidige Afrika-pikkewyn bevolking is minder as 5% van die oorspronklike bevolking en daal steeds skerp. Met mense wat daagliks die oseaan leegvis sal ons werklik ‘n poging moet aanwend om die brilpikkewyn te help.

As jy ook hierdie rakkers in hul manelpakkies wil ondersteun (sonder om jou huis te verlaat!) kan jy gerus ‘n draai maak op Penguin Promises se webtuiste. As jy meer avontuurlustig is en graag die brilpikkewyne van nader wil leer ken, kan jy Saterdag, 11 Oktober, die volgende plekke besoek om Brilpikkewyn Bewustheidsdag te vier:

  • Simonstad: By Seaforth strand kan jy 10:00 tot 10:45 kyk hoe pikkewyne wat deur SANCCOB gered is, weer vrygelaat word. Naastenby 1500 brilpikkewyne (en 1000 ander seevoëls) word jaarliks met behulp van SANParks en sy vennote gerehabiliteer. Op hierdie spesiale dag sal jy die geleentheid kry om te sien hoe die pikkewyne weer hulle pad na die oseaan vind en die wilde bevolking aanvul. Net na hierdie hartroerende vrylating kan jy by die Boulders Beach Lodge en Restaurant aandoen vir die Pikkewynfees! Dit beloof om ‘n prettige dag te wees met stalletjies, lootjies, speletjies vir die hele gesin, reptiel- en roofvoëlvertonings en ‘n kans om SANCCOB se ambassadeur-pikkewyn te ontmoet. ‘n Verdere hoogtepunt is ‘n volhoubare seekosbraai deur die deelnemers van The Ultimate Braai Master. Sluit aan by die fees en al die lekke aktiwiteite aan die einde van Bellevue Pad in Simonstad.
  • uShaka Marine World: Hier gaan Ann Kunz en die res van haar span van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Marine-Biologiese Navorsing gaan Saterdag, 11 Oktober van 10:00 – 16:00 in die Village Walk wees om bewustheid te skep en maklike maniere te illustreer hoe ieder en elk van ons ‘n verskil kan maak om die brilpikkewyn te help.

Hier is nog ‘n paar plekke waar jy vir die brilpikkewyn kan gaan kuier:

Na al die pret by die Pikkewynfees, kan jy LekkeSlaap by een van die oulike plekke in die Kaapse Skiereiland