Een van die mees Suid-Afrikaanse dinge wat jy kan doen, is om ’n vakansie op die plaas deur te bring. Hetsy jy ’n plaaskind in murg en been is of g’n idee het waar om jou soektog na plaasverblyf in die Wes-Kaap te begin nie, LekkeSlaap maak dit vir almal maklik om verblyf te vind. Kies ’n kothuis met ’n houtvuurwarmbad en ’n kaggel, dut by ’n dam met jou visstok in jou hand of sit agteroor op jou eie stoep en verkyk jou aan die omgewing. Daar is selfs ’n paar lekke plekke waar jou troeteldiere ook kan kom kuier! Spring in en sien wat in dié provinsie op jou wag.

Eerste op die lys is dié keurige kothuis in die Eseljagpoort minder as vyftig kilometer vanaf Oudtshoorn en George. Met slaapplek vir ses is dit ideaal vir almal wat jy saam met jou wil nooi om die stilte te kom geniet. Buiten ’n lieflike atmosfeer spog die verblyf met sonpanele en buite is daar ’n boma, braai-area, plek om saam te eet en selfs ’n onderdak-houtvuurwarmbad. In ware Wes-Kaap-styl bied die kothuis ook ’n uitsig op die omliggende berge sodat jy die omgewing uit elke hoek kan bekyk en bewonder. 

Hierdie selfsorgplaas in Tulbagh verdien tien uit tien vir die rustige vakansie-atmosfeer wat hier heers. Kies of jy in een van die vier kothuise of twee huise wil kuier. Al die verblyfopsies bied slaapplek aan twee tot agt gaste en spog met kaggels en stoepe wat pragtige uitsigte oor die dam bied. Die dam is die middelpunt van dié wegbreekplek in die Tulbagh-vallei en maak aktiwiteite soos baarshengel, kanovaart en swem op die perseel moontlik. Kom raak rustig en sien hoe Reflections Guest Farm sy naam gestand doen.

Hoe klink ’n wegbreek aan die voet van die Witzenberge saam met jou vierbeenvriend? As jy dink daar is niks beter nie, dan is een van hierdie kothuise met ’n berguitsig nét die plek vir jou! Elke kothuis het slaapplek vir ses sodat jy die ervaring saam met jou gunstelingmense kan deel. Kom benut al die ontspanningsgeriewe waaroor jy dagdroom, soos ’n ingeboude braai, privaat houtvuurwarmbad, plonspoel en selfs ’n grasperk waar jou troeteldier heerlik kan baljaar. 

Kom bewonder die wonderlike uitsigte op die Witzenberge by hierdie bekoorlike huis op ’n wildsplaas net buite Tulbagh. Die huis bied slaapplek aan vier en beloof bobaas-kuiers voor die kaggel en om die braai-area. Daar is ook ’n pragtige plonspoel en ’n stoep met sitplek vanwaar jy die sprokiesagtige uitsig op die berge en oor die sebras en springbokke kan dophou – verbeel jou net! Hierdie klipkothuis is die perfekte plek vir ’n wegbreek waaroor niemand uitgepraat sal raak nie.

Hoor net hoe roep hierdie kothuis op ’n krans die kunsvlieghengelaars om bruinforel op ’n vang-en-vrylaat-basis te kom vang. Die kothuis het sonpanele en sal jou in staat stel om elke oomblik te benut met geriewe soos die houtvuurwarmbad, die plonspoel langs die rivier en die stoep met ‘n lieflike uitsig oor die omgewing. Buiten al die ontspanningsgeriewe is daar ook ’n ingeboude braai vir gesellige aande voor die vuur. Jy hoef jou ook nie oor klein Snippie te bekommer nie, want sy is ook welkom hier!

Die enigste ding beter as plaasverblyf, is plaasverblyf met ’n pizza-oond. Dié kothuis teen die hange van die Houwhoekberge langs die Van Der Stel-pas het slaapplek vir vier en is iets uit jou gunstelingdroom. Dit spog met ’n binnebraai én ’n buitebraai-area op die stoep met ’n houtvuurwarmbad vanwaar jy die uitsig kan bewonder. Verblyf in een van dié kothuise is ideaal, hetsy jy van plan is om op die naat van jou rug te lê en ontspan of die omliggemde besienswaardighede te verken.

Hiér wag ’n bekoorlike, rustieke houthuisie met ’n Skandinawiese styl in die Banhoekvallei tussen Stellenbosch en Franschhoek. Die asemrowende uitsig wat dit vanuit die berge oor die vallei bied is klaar ’n uitstekende rede om dié plaas jou volgende bestemming te maak, maar beslis nie die enigste nie. Met slaapplek vir ses en ’n knus kaggel sal dit vir ure se gesellige kuiers sorg. Vir dié wat in die vars lug wil verkeer, is daar ook ’n dek met sitplek, swaaistoele en ’n berguitsig — om nie eers van die vuurput en braai-area te praat nie! Verder is daar ’n verskeidenheid aktiwiteite, soos bergfietsry, voëlkyk en swem, wat julle in die area kan geniet.

Vir ’n spoggerige sonsopkoms en -ondergang is hierdie huis aan die voet van die Bianskloofberge met ’n uitsig oor die Slanghoekvallei nét die regte plek. Daar is slaapplek vir vier in twee slaapkamers, lugversorging wat sonkrag gebruik en ’n knetterende kaggel in die leefarea met genoeg hout sodat jy van die koue kan vergeet terwyl jy die sneeu op die berge bewonder. Buite is daar braaigeriewe op die dek waar almal saam om die vuur kan verkeer. Verder is die huis naby verskeie trouvenues en aktiwiteite in die omgewing en daarom ook ideaal vir diegene wat nie sommer stilsit nie.

Bring die hele familie en kom kuier in hierdie selfsorgplaashuis met ’n uitsig oor die dam, die vallei en op die berge sowat twaalf kilometer vanaf Robertson. Die huis is heeltemal onafhanklik van die nasionale water- en kragnetwerk en maak van sonkrag en boorgatwater gebruik. In egte plaashuisstyl is daar ook ’n kaggel in die leefarea en ’n onderdakstoep met braaigeriewe en ’n swembad. Verder maak die feit dat Pootjies ook hier welkom is hierdie plaasverblyf net sóveel meer prettig. 

Steek jou voelers uit in Villiersdorp se rigting en kom kyk wat skuil hiér — unieke, troeteldiervriendelike selfsorgverblyf op ’n appel- en druiweplaas wat ideaal is vir die hele gesin of ’n groep vriende. Hout en vuuraanstekers word vir die kaggel voorsien sodat jy oor niks buiten jou eie ontspanning hoef te bekommer nie. Selfs die kinders sal nie ’n oomblik lank verveeld wees nie, want daar is ’n lieflike park waar hulle kan speel, ’n klimraam en ’n seisoenale dam en gemeenskaplike swembad waarin hulle kan swem. Laastens, maar baie belangrik, is daar ook braaigeriewe. 

Natuurlik is daar ook ’n eko-vriendelike selfsorg-houthuisie op hierdie lys, maar dié verblyf met slaapplek vir vier gee nie gerief of styl prys nie. Vars fonteinwater word uit die berge onttrek en sonkrag dryf die geriewe aan. Buite is daar ’n eetarea en gasbraaigeriewe, asook ’n privaat houtvuurwarmbad. Asof al die voorafgenoemde nog nie genoeg is om jou te oortuig nie, is troeteldiere ook welkom. Nee wat, bespreek sommer dadelik! 

***

Hiér is nou vir jou ’n paar spoggerige plekke of van te kies en te keur. Of jy nou op soek is na plaasverblyf wat jou aan jou vakansies by Oupa en Ouma herinner, of iets meer modern wat jou altyd sal bybly, LekkeSlaap het dit alles — bespreek net! 


Hooffoto: Steenbok Farm Cottages

Witwarm binnebraai-wegbreke in die Wes-Kaap

’n Rinkinkkuier op die Tuinroete: Van Oudtshoorn tot Knysna

Weskus-wegbreke vir paartjies