Die betowerende Klein-Karoo is ’n minder algemene opsie vir ’n romantiese wegbreek, maar ons dink dit is ideaal! Hiér kan julle tussen asemrowende berguitsigte en in rustige valleie weer gehaltetyd saam deurbring sonder die geroesemoes van die gewone, meer gewilde wegbreekplekke aan die Kaapse kus. Die Klein-Karoo spog met plekke waar julle tussen die wingerd kan wynproe, die Kango-grotte se ondergrondse formasies wat net eenvoudig gesien móét word, ’n sterrehemel waar die sterre soos nerens anders in die land dans, en oulike kleindorpies met vriendelike inwoners en uitstekende restaurante wat borde liplekker kos bedien. Daarom wys ons in hierdie blog vir jou ’n paar oulike wegbreekplekke vir twee waar julle beslis lekker sal bly — en dalk ook ’n bietjie goedkoper as by die see kan wegkom!

Uitkyk Kliphuisie

Uniondale

Bespreek julle romantiese wegbreek by Uitkyk Kliphuisie – ’n bekoorlike kothuis op ’n vrugteplaas net agtien kilometer vanaf Uniondale. Dié oopplankothuis is perfek vir paartjies wat op soek is na ’n privaat wegbreek en spog met ’n goed toegeruste kombuisie met ’n pizza-oondjie en ’n binnebraai, asook ’n grasperk met losstaande braaigeriewe, ’n piekniekbankie en ’n uitsig oor die dam en die vallei. Julle kan selfs vir Buksie saambring wanneer julle hiér kom kuier!

Lank-gewag Cottages

Montagu

Lank-gewag Cottages skuil tussen vrugteboorde op ’n afgesonderde plaas net tien kilometer buite Montagu. Pruim-kothuis het nie elektrisiteit nie, maar spog met ’n binnebraai en ’n klipvloer, sinkdak en dik, oorspronklike kleimure en lei na ’n onderdakstoep met ’n beskutte houtvuurwarmbad. Nektarien-kothuis het ’n oopplan-uitleg, ’n groot ingeboude binnebraai en ’n stoep met nog braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad met ’n uitsig oor die perskebome. Hiér kan julle die eenvoud van die plaaslewe eerstehands ervaar en die boorde te voet of met ’n fiets verken.

Uitsig Cottages

Ladismith

Kies koers na die Hoekovallei buite Ladismith vir romantiese plaasverblyf met ’n uitsig op die Swartberge. Die Hemelrand- en Gelukstroom-kothuis is albei onafhanklik van die nasionale kragnetwerk en gebruik gas en sonkrag. Elke kothuis spog met ’n uitsig op die berge en oor die plaasdamme, ’n binnebraai in die kombuis en ’n stoep met ’n vuurput en ’n houtvuurwarmbad. Verken die plaaspaaie bedags voor julle terugkeer vir ’n middagslapie en dan vuuropsteek voordat julle in die warmbad agteroorsit.

Soetdoring Selfsorg

Oudtshoorn

Dié houthuise skuil net sewe kilometer buite Oudtshoorn op ’n plaasdam se oewer en bied ’n uitsig op die Outeniekwaberge se natuurskoon. Dié huisies bied knus selfsorgverblyf met lugversorging, kaggels, goed toegeruste kombuisies en stoepe met buitesitplek en braaigeriewe. Wanneer julle nie dié area se groot, nabygeleë besienswaardighede besoek nie, kan julle stap en fietsry op die plaas, of in die dam lyn natmaak.

Olive Stone Farm and Cottages

Montagu

Olive Stone Farm and Cottages in Montagu word deur die majestueuse Langeberge omring. Elkeen van die drie troeteldiervriendelike kothuise bied ’n privaat plekkie vir twee met sy eie plonspoel, braai-area, buitestort en ’n houtvuurwarmbad. Binne is daar ’n kaggel, sitarea en ’n volledig toegeruste kombuis. Die plaas verkoop ook heerlike olyfolie, gebottelde olywe, vars groente, lamsvleis en eiers en gaste is welkom om van die slaai- en groentetuin gebruik te maak. Onthou om vir Wagter saam te bring!

Aardvark Bioreserve

Ladismith

Verruil die stadsliggies met regte sterre by Aardvark Bioreserve naby Ladismith. Dié kothuise is onafhanklik van die nasionale kragnetwerk en bied luukse verblyf op ’n wildsplaas. Die reservaat het ’n rits verblyfopsies, maar ons beveel die Berguisie Cottage vir julle twee aan. Dié kothuis is luuks, romanties en privaat en spog met ’n kaggel, braaigeriewe, ’n plonspoel en ’n warmbad met die mees ongelooflike uitsig oor die Brandrivier. Wildritte en stap- en bergfietsroetes is gewilde aktiwiteite en julle kan ’n vrugte- en groentemandjie, plaashoender, eiers, vye, granaatsap en lams-, wilds-, en volstruisvleis vooraf bestel om te gebruik terwyl julle hiér julle batterye herlaai.

Stil

Montagu

Stil in Montagu bied gehalteverblyf in ’n pragtige, troeteldiervriendelike kothuis met een slaapkamer en ’n moderne en suite-badkamer. Die kombuis is ten volle toegerus, die leefarea spog met ’n kaggel en dit lei na ’n stoep met gemaklike sitplek en ’n uitsig oor die tuin. Gratis WiFi, ’n Bluetooth-luidspreker en braaigeriewe word ook voorsien. Die kothuis se ligging in die middedorp gee julle maklike toegang tot uitstekende restaurante, koffiewinkels en besienswaardighede — en daar is so baie om te sien en doen in dié oulike dorp.

Landrani Farm Stay

Oudtshoorn

Landrani Farm Stay is ideaal vir ’n moderne paartjie wat op soek is na ’n luukse wegbreek naby Oudtshoorn. Hiér is ses selfsorgkothuise en elke kothuis het ’n privaat en suite-badkamer met ’n groot bad met ’n uitsig, ’n toegeruste kombuisie, binnebraai en ’n stoep wat reg rondom die kothuis strek en met ’n uitsig op die berge spog. Julle het ook toegang tot die gemeenskaplike geriewe by die hooflodge wat ’n kroeg, swembad en ’n braai-area en boma insluit.

Wonder Farm Stay

Montagu

’n Bederf tussen die berge by Wonder Farm Stay aan die voet van die Langeberge tussen Barrydale en Montagu. Dié gasteplaas het ’n rits selfsorgkothuise, maar ons beveel die Full Moon- en Leaf Lover-kothuis aan. Full Moon is ’n oopplankothuis met ’n dubbelbed, kaggel en ’n kombuisie, en dit lei na ’n onderdakstoep met ’n ingeboude braai en ’n uitsig oor die plaas. Leaf Lover is ’n knus oopplan-houthuisie met ’n dubbelbed, kaggel, kombuisie en ’n beskutte stoepie met braaigeriewe en ’n uitsig oor die woud. Dié houthuisie het ook ’n buitestort. Wanneer julle nie by die kothuis agteroorsit nie, kan julle in die plaasdam afkoel en die grondpaaie te voet verken. Wonder Farm Stay bied die perfekte omgewing vir paartjies om weer met mekaar en die natuur te skakel.

Kerneelia Kothuis

De Rust

Kom geniet ’n romantiese wegbreek by Kerneelia Kothuis — ’n bekoorlike huisie op ’n afgesonderde plaas naby De Rust. Hierdie knus, troeteldiervriendelike huisie is perfek vir ’n paartjie wat op soek is na ’n wegbreek sonder ’n klomp fieterjasies en beskik oor ’n slaapkamer met ’n koninggrootte-bed, ’n goed toegeruste kombuis en ’n onderdakstoep met braaigeriewe. Soggens word ’n spesiale ontbytmandjie met varsgebak uit die plaaskombuis, seisoenale vrugte en jogurt saam met ’n kraffie Doornkraal-wyn afgelewer en genoeg hout vir die duur van die verblyf is ook ingesluit.

KumbuKumbu Mountain Villas

Montagu

KumbuKumbu Mountain Villas skuil hoog teen die berghange en spog met ongelooflike, panoramiese uitsigte op die Langeberge. Kies tussen The Summit en Quarriebosch wat albei ruim oopplan-verblyf aan twee gaste bied. Die hoogtepunt van elke kothus is die luukse ovaalbad voor die groot oopskuifvenster vanwaar julle die uitsig behoorlik kan bewonder. Elke kothuis het ook ’n toegeruste kombuis, binnebraai en ’n privaat dek met ’n plonspoel. Die kothuise se mure is ook basies alles glasvensters so jy word deur die uitsig omring, maak nie saak waar julle tyd deurbring nie.

Aardts Cabins

De Rust

Dít is nou ’n unieke wegbreek wat absoluut ’n besoek werd is! Aardts Cabins bied verblyf in ’n afgesonderde klipkothuis sowat veertien kilometer buite De Rust. Die oopplankothuis spog met ’n buitebadkamer wat tot die bekoring van die plattelandse ervaring bydra. Daar is ook ’n toegeruste kombuisie, ’n kaggel op die onderdakstoep en ’n houtvuurwarmbad buite langs die vuurput. Die moderne kothuis is slim in die bergwand ingegrawe en verseker ’n unieke, maar uiters gerieflike wegbreek soos min.

***

Los die gewone kusvakansie vir ’n ander tyd en kies dié keer koers na die Klein-Karoo vir ’n romantiese wegbreek vol rustieke bekoring en asemrowende natuurskoon. Met hierdie rits bekoorlike verblyfopsies kan jy julle volgende droomruskans aanlyn op LekkeSlaap bespreek en onvergeetlike herinneringe in prentjiemooi niksheid van die Klein-Karoo skep.

Hooffoto: Aardvark Bioreserve op LekkeSlaap

Lees ook:

Weskus-wegbreke vir paartjies

Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete

Lekker glanskampplekke in Limpopo