Die Kaapse Walvisroete wat al langs die Wes-Kaap se suidelike kus strek, is ’n droombestemming vir paartjies wat ’n romantiese wegbreek soek. Die dorpies op dié roete staan as van die wêreld se top-walviskykplekke bekend en die roete spog met asemrowende uitkykplekke vanwaar besoekers van heinde en verre kom om die Suidelike Noorkappers in die water te sien baljaar — veral tussen Junie en November. Of jy en jou lief nou op soek is na ’n rustige wegbreek of ’n avontuur-roetereis beplan, die Kaapse Walvisroete sal die perfekte agtergrond wees vir julle om onvergeetlike herinneringe saam te skep.

Honeyrock Cottages

Kleinmond

Honeyrock Cottages is tussen die see en die berge in Kleinmond geleë en bied ’n idilliese toevlugsoord aan paartjies – en die beste van als is dat dit troeteldiervriendelik is! Elkeen van die sewe selfsorgkothuise het ’n gemaklike koningin- of koninggrootte-bed en ’n volledig toegeruste kombuisie wat dit ’n perfekte tuiste weg van die huis maak. Met ’n asemrowende uitsig op die Langeberge, ’n privaat stoep met braaigeriewe en maklike toegang tot die strand, bekoorlike hawe en nabygeleë wynplase, is Honeyrock Cottages die ideale romantiese wegbreek.

Rivergate Woodrose Cottage

Stanford

Dié knus, ronde kothuis bied B&B-verblyf aan ’n paartjie op ’n plaas langs die skilderagtige Kleinrivier naby Stanford. Rivergate Woodrose Cottage het ’n koningingrootte-bed en ’n privaat dek met ’n ingeboude braai en ’n KolKol-houtvuurwarmbad wat perfek vir ’n romantiese aand onder die sterre is. Hiér het julle toegang tot ’n restaurant op die perseel en aktiwiteite soos visvang, kanovaart en wynproe, én julle kan braaimandjies en kaasborde bestel om by die kothuis aan te smul nadat julle die bekoorlike dorpie se juwele verken het.

Oak on Main

Hermanus

Oak on Main is ’n warm woonstel in die hartjie van Hermanus en dit is ideaal vir diegene wat op soek is na eenvoudige, gerieflike selfsorgverblyf. Die woonstel het ’n koningingrootte-bed en ’n oopplan-leefarea met ’n toegeruste kombuis en ’n toonbank. Daar is ook gratis WiFi, veilige kelderparkeerplek en toegang tot die kompleks se gemeenskaplike tuin. Dit is absoluut die ideale basis vanwaar julle die lewendige kusdorpie kan verken, want dit is stapafstand vanaf die dorp se welbekende kranspaadjie.

Coot Club

Stanford

Die Starboard Boathouse-eenheid by Coot Club is ’n betowerende selfsorg-eenheid wat rustige vakansieverblyf tussen die natuurskoon op Stanford se Kleinrivier-strandmeeroewer bied. Die oulike huisie het alles wat julle nodig het en beskik oor ’n slaapkamer met ’n koninggrootte-bed en ’n asemrowende uitsig oor die meer. Die oopplan-leefarea beskik oor ’n volledig toegeruste kombuis en ’n kaggel en lei na die fynbostuin op die oewer. Middagete en aandete is op die perseel by die klubhuis beskikbaar en julle kan die gemeenskaplike swembad gebruik ná julle ’n heerlike staproete in die nabygeleë Walker Bay Natuurreservaat aangedurf het.

Daisy Cottage

Sandbaai

Daisy Cottage is ’n oulike, ruim kothuis met ’n asemrowende berguitsig in Sandbaai, naby Hermanus. Die kothuis is op die eienaar se erf in ’n kompleks geleë en daarom lekker veilig en privaat. Die knus slaapkamer het ’n koninggrootte-bed en die oopplankombuis is volledig toegerus en lei na ’n onderdakstoep met ’n tafeltjie en ’n Weber-braai. Dit is naby restaurante, winkels, die Whale Coast Mall en die gewilde Hemel-en-Aardevallei geleë.

Ridge House

Hermanus

Dié luukse gastehuis is perfek as julle op soek is na ’n rustige blyplek met die gerief van ’n B&B en die privaatheid van ’n selfsorg-eenheid. Ons beveel die Aloe-kamer en die Rockpool-kamer aan, want albei hierdie kamers het hulle eie selfsorgkombuisies en dekke met houtvuurwarmbaddens en uitsigte oor die see, én ontbyt is ingesluit! Die luukse gastehuis spog met ’n uitsig oor Hermanus en grens aan die Fernkloof Natuurreservaat. Met maklike toegang tot fynbosbergroetes en die bekende kranspaadjie vir walviskyk, is Ridge House regtig ideaal.

17 Marine Apartment 103

Hermanus

Dié romantiese oopplanwoonstel is in Marinerylaan, oorkant die Ficks-getypoel en naby die middedorp in Hermanus geleë. Dit is uiters modern en luuks ingerig en beskik oor ’n toegeruste kombuis en ’n oopplanleefarea wat na ’n privaat stoep en tuin met ’n houtvuurwarmbad, buitestort en ’n ingeboude braai lei. Die woonstel is so lekker sentraal geleë, julle sal sommer na al die nabygeleë restaurante, winkels en strande kan stap.

MOSAIC Lagoon Lodge

Stanford

MOSAIC Lagoon Lodge buite Stanford bied afgesonderde verblyf wat perfek vir paartjies is wat op soek is na ’n privaat wegbreek op die Kleinrivier-strandmeer se oewer. Daar is vyf safari-styl-suites tussen ou melkhoutbome en elke suite het ’n koninggrootte-bed, sitarea, kaggel en ’n privaat dek met ’n asemrowende berguitsig. Aktiwiteite op die perseel sluit bootry op die strandmeer, begeleide wandelings deur die natuur, kajakroei en langs die swembad ontspan in. Buiten die uitstekende ligging en geriewe sluit die verblyf ook al jou etes, drankies en aktiwiteite op die perseel in.

***

Of jy en jou wederhelf nou op soek is na avontuur, romanse of sommer net ’n rustige naweekwegbreek, die Kaapse Walvisroete spog met ’n rits uitsonderlike verblyf-opsies — van knus kothuise tot luukse lodges, elke opsie sal beslis tot onvergeetlike herinneringe bydra. Verras jou lief en bespreek vandag nog julle welverdiende blaaskans!

Hooffoto: Ridge House (LekkeSlaap)

Lees ook:

Oulike plekke vir 2 in die Klein-Karoo

Weskus-wegbreke vir paartjies

Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete