Erfenisdag is om die draai en wat is ’n beter manier om Suid-Afrika se ryk tradisies te vier as met ’n braai? So, neem jou braai-ervaring ‘n kerf hoër deur na die Wes-Kaap se beste blyplekke met binnebraaigeriewe weg te breek! Of jy nou op soek is na ’n gesellige wegbreek vir twee, ’n prettige vakansie saam met vriende, of ’n gesinsavontuur, LekkeSlaap het spesiaal hierdie verblyfopsies uitgesoek wat die perfekte kombinasie van gerief en natuurskoon bied, én vir ’n witwarm braai-ervaring sal sorg. Is jy gereed om die vuur aan te steek en in styl te ontspan? Dan is hierdie die ideale plekke vir bly en braai!

Tesselaarsdal 

Tesselaarsdal is in die pragtige Hemel-en-Aarde-vallei, ’n betowerende dorpie bekend vir sy rustige omgewing en ryk geskiedenis. Baie van die inwoners geniet steeds ‘n stadiger, plattelandse leefstyl en maak op kleinskaalse boerdery, vakmanskap en plaaslike handel staat, net soos hulle al vir generasies gedoen het, en ’n besoek aan hierdie dorp bied ’n blik op die area se tradisionele leefstyl. Kom geniet skilderagtige staptoere, verken plaaslike wynplase of besoek koffiewinkels om van die plaaslike smake te ervaar. Die area spog ook met pragtige landskappe en baie geleenthede vir bergfietsry en stap. 

Bertus se Huisie

Op soek na ’n afgeleë wegbreek met ’n outentieke plaasatmosfeer? Bertus se Huisie is tussen Caledon en Tesselaarsdal geleë, bied ’n rustieke braai-ervaring en spog met binnenshuise braaigeriewe. Dié huis werk met sonkrag en hiér kan jy heeltemal afskakel terwyl jou gunstelingboerewors oor die kole braai. Hierdie huis het slaapplek vir vier gaste en is perfek vir ’n klein gesin of paartjies. Julle kan ook rustig gaan stap, bergfietsry en selfs die nabygeleë Hemel-en-Aarde-vallei gaan verken.

Bertus se Huisie

Franskraal 

Franskraal is ’n rustige kusdorp wat vir sy uitgestrekte sandstrande en uitsonderlike voëlkykgeleenthede bekend is. Dit is ’n toevlugsoord vir natuurliefhebbers en buitelugentoesiaste. Hiér kan jy walviskyk gedurende die seisoen, rustig langs die strand stap of die stap- en 4×4-roetes in die omgewing verken. Franskraal is die ideale wegbreekplek met vele aktiwiteite wat beide die rustige siel én avontuurlustige verkenner tevrede te stel.

Schneider House

Maak jou gesin of vriende bymekaar en gaan kuier by Schneider House in Franskraal vir ’n wegbreek langs die see. Dié huis het genoeg spasie vir agt gaste en die binnenshuise braai verseker dat jy steeds ’n lekker braai kan geniet ─ selfs al waai die wind aan die kus. Hierdie nuut opgeknapte huis bied ook moderne geriewe, soos ’n sonkragstelsel, en is ideaal vir ’n stresvrye naweek. Hiér kan jy nabye besienswaardighede verken of sommer net ontspan en ’n braai met ’n pragtige see-uitsig geniet.

Schneider House

Struisbaai 

Struisbaai is ’n gewilde kusdorpie met pragtige wit sandstrande en interessante seelewe. Dit is die ideale plek vir swem, visvang en om die onderwaterwêreld deur snorkel en duik te verken. Die dorp bied ook uitstekende geleenthede vir bootry en om die nabye Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, te besoek. Met sy ontspanne atmosfeer en pragtige kuslyn, is Struisbaai ideaal vir ’n strandwegbreek.

Bliss on the Bay

Vir ’n luukse kuswegbreek bied Bliss on the Bay in Struisbaai alles wat jy nodig het vir ’n onvergeetlike braai. Dié huis spog met ’n kuierarea wat ’n ingeboude braai het en jy kan sommer braai terwyl jy oor die swembad en welige tuin uitkyk. Hierdie ruim huis is perfek vir groter groepe of gesinne van agt en bied maklike toegang tot die strand. Daar is ook meer as genoeg spasie vir kinders om te speel. Julle kan deur die dag Struisbaai verken en dit met ’n feestelike braai afsluit.

Bliss on the Bay

Swellendam

Swellendam is ’n historiese dorp wat aan die voet van die Langeberge skuil en vir sy pragtige argitektuur en bekoorlike atmosfeer bekend is. Besoek die Drostdy-museum, wat die dorp se ryk geskiedenis vertoon, of geniet buitelugaktiwiteite in die nabye Bontebok Nasionale Park. Swellendam bied ook uitstekende geleenthede vir stap en fietsry, of julle kan sommer net in die pragtige omgewing ontspan. Dit is ’n wonderlike bestemming vir geskiedenis- en natuurliefhebbers.

Aloe Canyons Guestfarm

Aloe Canyons Guestfarm is in ’n wildkamp net buite Swellendam geleë en met sy binnenshuise braaigeriewe bied dit die perfekte plek om samesyn te vier. Canyon Cottage is perfek vir paartjies en het ’n bekoorlike binnebraai wat vir ’n romantiese atmosfeer sorg. Vir groter groepe spog Die Rooidakhuis met ’n groot binnebraai en ’n kaggel, perfek om saam met familie of vriende te kuier. Of jy nou binne of buite op die stoep braai, sal die omgewing en asemrowende uitsigte jou bekoor ─ jy mag selfs ook wild soos elande, koedoes en springbokke sien. Hierdie gasteplaas bied ’n rustige wegbreek, maar het ook aktiwiteite soos fietsry, draf en rivierswem ─ ideaal vir ’n rustige, maar dog prettige langnaweek.

Aloe Canyons Guestfarm
Melk Houte Bosch Farmhouse

Geleë op ’n plaas langs die Breederivier, is Melk Houte Bosch Farmhouse ’n fantastiese plek vir ’n groter gesin of groep vriende van ses. Dié plaashuis het ’n binnenshuise braai-area wat perfek vir ’n gesellige braai is. Die binnebraai dien ook as ’n kaggel, so of jy nou braai of bloot net ’n gesellige aand wil geniet, bied dit warmte en ’n ontspanne atmosfeer. Terwyl die braai-meester besig is, kan die res ’n potjie tafeltennis geniet. Julle kan selfs ook ’n rustige wandeling om die plaas neem. Met ’n skilderagtige landskap, plaasaktiwiteite en rivieruitsigte, bied hierdie rustige toevlug ’n ontspannende, maar avontuurlustige wegbreek.  

Melk Houte Bosch Farmhouse
 Aan de Heuvel Self-Catering Cottages

Aan de Heuvel Self-Catering Cottages is in die hartjie van Swellendam geleë en bied drie pragtige kothuise wat elk slaapplek vir vier gaste het en met ’n binnebraai spog. Hierdie kothuise is ideaal vir ’n ontspanne naweek saam met familie of vriende en bied moderne geriewe en ’n rustige atmosfeer ─ die perfekte plek om af te skakel, ’n braai en die rustigheid van die platteland te geniet.

 Aan de Heuvel Self-Catering Cottages

Montagu

Montagu is in die hartjie van die Klein-Karoo geleë en is vir sy pragtige landskappe en warmwaterbronne bekend. Hierdie oulike dorpie is ideaal vir diegene wat van die stadsgewoel wil ontsnap en net ontspan. Kom verken die skilderagtige omgewing van die omliggende area se boorde en wingerde, ontspan in die bekende Montagu-warmwaterbronne of gaan op ’n staptoer deur die ruwe terrein. Montagu bied ook lieflike antiekwinkels en plaaslike eetplekke wat julle kan geniet.

Lank-gewag Cottages

Lank-gewag Cottages is op ’n plaas buite Montagu geleë en bied ’n rustieke wegbreek met ’n pragtige uitsig oor vrugteboorde. Elke kothuis het slaapplek vir vier gaste en spog met ’n groot ingeboude braai ─ perfek vir ’n viering saam met jou gesin of vriende. Dit is die ideale plaaswegbreek waar julle ’n houtvuurwarmbad kan geniet met die braaivuur wat in die nabyheid knetter.

Lank-gewag Cottages

Stilbaai

Stilbaai is langs die suidelike kus geleë en is vir sy rustige strande en unieke riviermonding bekend. Dit is ’n wonderlike bestemming vir watersport, insluitend kajakvaart, visvang en seilplankry. Die dorp spog ook met vele kunsvlytprodukte, soos gerookte vis en plaaslike kase. Geniet skilderagtige staptogte langs die rivier of verken die nabye natuurreservate ─ dié dorp is ’n rustige toevlugsoord met baie buitelugavonture wat wag!

Oudewerfskloof Olyfplaas

Vir ’n skilderagtige wegbreek na ’n olyfplaas, bied Oudewerfskloof Olyfplaas ’n verskeidenheid verblyfopsies wat slaapplek vir twee tot ses gaste het ─ elkeen met ingeboude braaigeriewe wat dit maklik maak om in sonksyn óf reën ’n tradisionele braai te geniet. Of jy nou in Die Loft of een van die bekoorlike Pressroom-woonstelle bly, sal jy ’n pragtige uitsig oor die Goukourivier en die plaas se olyfboorde kan bewonder. Kom braai lekker in hierdie rustige omgewing en maak tyd om Stilbaai se strande of staproetes te verken.

Oudewerfskloof Olyfplaas

Of jy nou op soek is na ’n knus kothuis of ’n groot plaashuis, hierdie lekke blyplekke in die Wes-Kaap bied die beste binnenshuise braaigeriewe — perfek vir ’n braai ongeag die weer. So, pak jou tasse, gryp die braaitang en maak gereed om die vuur by dié ongelooflike vakansiebestemmings aan te steek! 

Hooffoto: Oudewerfskloof Olyfplaas, LekkeSlaap

Lees ook:

Kom braai hiér

Celebrate National Braai Day at South Africa’s Top Public Braai Spots

Lekke wenke vir ’n bobaas-braai

Hoe braai mens? Só braai mens!