Kaapstad se suidelike skiereiland strek van Noordhoek, Kommetjie, Scarborough, Kaappunt tot Simonstad, Kalkbaai en Muizenberg. Hierdie area word soms tong-in-die-kies na “agter die lensiegordyn” verwys en is bekend vir ’n rustiger leefstyl. Dit spog met pragtige kusdorpies en ongerepte strande wat jou dadelik sal bekoor.
Arc Guest House
Simonstad
Hierdie huis is ’n unieke toevlugsoord teen die berg in Simonstad. Dié Mediterreense-styl huis spog met asemrowende see-uitsigte vanuit elke hoek en is die ideale keuse vir ’n rustige wegbreek. Die selfsorghuis het slaapplek vir vier gaste en spog met twee slaapkamers, elk met ’n en suite-badkamer.
Gaste kan op die balkon ontspan en braai terwyl hulle die uitsig oor Valsbaai inneem. Koel af in die swembad of stap 700 m na die bekende Boulders-strand om saam met pikkewyne te swem. Die verblyf bied ook ’n rugsteunbatterystelsel en daar is herlaaibare ligte in albei slaapkamers.
Modern Coastal Townhouse
Kalkbaai
Dié helder en interessante dubbelverdieping-selfsorghuis het slaapplek vir vier gaste in twee slaapkamers. Die privaat agtertuin het ’n braai en etenstafel waar gaste hul maaltye saam kan geniet. Julle kan in die gemeenskaplike swembad afkoel, by die spa inloer of in die gimnasium oefen. Ander geriewe sluit ’n kaggel, ’n TV, ’n werkspasie en WiFi in. Boonop is hierdie praghuis net ’n hanetreetjie vanaf die see.
Blue Waters Villa
Simonstad
Blue Waters Villa is getrou aan sy naam en is net drie kilometer vanaf Simonstad. Hierdie huis bied onverbeterlike uitsigte oor die see en Fisherman’s Beach, ’n bekoorlike strandjie wat perfek vir ’n verfrissende swempie is. Hierdie villa was eens op ’n tyd ’n walvisjagter se huis en is in die 1920’s gebou.
Daar is slaapplek vir ses gaste in drie slaapkamers en daar is ook twee badkamers. Twee ekstra kinders en ’n baba kan ook geakkommodeer word. Julle kan in die groot tuin, stoep of op die dek ontspan en selfs ’n tjoppie oor die kole gooi terwyl julle die wonderlike uitsigte indrink.
Gone to the Beach Villa
Scarborough
Hierdie bekoorlike villa is net 50 m vanaf die hoofstrand en spog met ’n sprankelende swembad en ’n privaat braai-area. Die villa bied slaapplek aan agt gaste en bied drie ruim slaapkamers, insluitend ’n hoofslaapkamer met ’n balkon wat ’n ononderbroke see-uitsig het.
Julle kan selfs jul viervoetvriende na hierdie heerlike toevlugsoord saambring. Ontspan heerlik in die hangmat, geniet ’n potjie tafeltennis of kuier om die braai.
The Cape Aquanaut
Glencairn
Dié eklektiese en kleurvolle selfsorgwoonstel is op ’n heuwel in Glencairn en bied slaapplek aan vier gaste. Albei slaapkamers het ’n dubbelbed en gaste deel ’n badkamer. Die toegeboude stoep het ’n gasbraai en julle kan die wonderlike uitsig oor die see en Valsbaai aanskou. Dié woonstel is ook naby Simonstad waar julle winkels kan besoek en by ’n rits restaurante kan smul. Julle kan ook voor die TV ontspan en die gratis WiFi benut.
Noordhoek Beach Villa
Noordhoek
Noordhoek Beach Villa is ’n lieflike selfsorghuis net 750 m vanaf die strand in Noordhoek. Dié huis is troeteldiervriendelik en die ideale plekkie vir ’n vakansie en spog met ’n groot dek, ’n sonverhitte swembad en ’n hangmat. Daar is slaapplek vir agt gaste in vier slaapkamers en ’n vyfde slaapkamer vir twee ekstra gaste is op versoek beskikbaar wat ideaal vir kinders is. Julle het toegang tot WiFi en Netflix en ouers kan lekker ontspan, want die swembad het ’n heining om kinders veilig te hou.
Atlantic Dream Beachfront Villa
Scarborough
Hierdie fantastiese vierslaapkamerhuis bied ’n uitsig oor ’n melkhoutwoud en die see in die bekoorlike kusdorpie Scarborough. Dié selfsorghuis het slaapplek vir agt gaste en spog met ’n swembad en braaigeriewe. Julle kan jul troeteldiere saambring en lang staptogte op die nabygeleë strand geniet. Gratis WiFi, ’n kaggel, wasgoedgeriewe en ’n speletjieskamer is ook beskikbaar.
***
Kies en keur tussen ons pragtige verblyf-opsies aan die Kaap se suidelike skiereiland. Breek weg saam met jou geliefde, gesin of groep vriende. Ons het verblyf wat jou hartsnare sal roer en elke sak sal pas.
Hooffoto: Noordhoek Beach Villa
Lees ook:
’n A tot Z-fotogids tot die Suidelike Skiereiland
Muizenberg: Strate en Strande vol Stories