Grootste teleurstelling.
Ons het Treetops bespreek omdat hulle baie goeie verwysings gehad het op webtuiste. Ons was gister 10 ure op die pad, het net na 18:00 by Treetops gearriveer. Ons was vriendelik ontvang, het 'n paar goedjies net neergesit in die kamer en dadelik vertrek om iets te eet na die lang dag op die pad, nie regtig rondgekyk nie. Met terugkomslag het ons die eerste keer regtig gekyk na die plek. Die tuin is pragtig maar... vir die prys wat ons betaal het, verwag mens darem 'n skoon plek en daar is nogal 'n skoonmaakfooi ook gehef.
Dit is 'n buitekamer wat omskep is in 'n klein eenheid waarmee ek nie 'n probleem het nie. Ek is altyd baie tegemoetkomend, ongeag waar ons bly, maar dit is die eerste keer dat ek so 'n review moet skryf. Die stort binne en buite het heel duidelik 'n goeie skrop nodig, die vuilgoed plak agter die toilet en daar is nie eens 'n vadoek of skottelgoedemmertjie in die kombuis om koppies te was nie. Mens moet water in die ketel in die badkamer gaan ingooi in die wasbak, wat amper 'n onmoontlike taak is want die ketel is groot en die wasbak klein en jou koppies moet in die badkamer se wasbak gewas word. Die vensterbanke en dakligte het bitter lank laas 'n stoflap of verestoffer gesien, die mure en plafon is orals vol merke, die voordeur maak nie eens reg toe nie, met openinge onder en aan die kant (hangende skuifdeur), en kan nie eens sluit nie—dit het net 'n skuifkettingtjie. (Ek as gas wil veilig voel in 'n vreemde omgewing!) Die kamerdeur het wel 'n sleutel gehad, maar ek wil die plek sluit in die nag.
Die eienaar bly op die perseel, so daar is nie 'n verskoning dat sy nie 'n oog oor die skoonmakers kan gooi nie. Die stort is doodeenvoudig net disgusting. 'n Skoon geskropte stort is hoog op my prioriteitslys, en hierdie is alles behalwe dit, met alge en muf tussen al die teëls en 'n vloer wat kan doen met 'n goeie skrop met domestos. Die netjiese fotos op julle webwerf is glad nie weerspieëlend van hoe die plek binne lyk nie. Daai vuil getrapte vloer in die stort het my heelnag laat voel of iets op my gekruip het. Onderhoud en instandhouding is laaste op hierdie plek se lys. Robin's Nest kort 'n goeie verf en ordentlike skoonmaak binne. Dit is duidelik dat dit 'n lang tyd se vuil en muf in daai stort is en vensterbanke in die kombuis en by die toilet waar vuilgoed aankak, dis nie net eenkeer se swak skoonmaak nie.
Die beddegoed het darem skoon geruik maar verbleik, die fotos wys netjiese wit beddegoed en dit was defnitief nie wat ons gekry het nie. Boonop was daar lang swart hare op die beddegoed bo, ek het my so gegril. In die yskas was vorige gaste se sop ook gelos. Daar is suiker, tee en koffie—geen melk nie. Die suiker was helfte vasgeplak en nat in die potjie en die suikerlepel was seker deur vorige gaste in koffie gebruik en weer vuil en vol koffie, en aangepak in die suikerpot gedruk. Dankie tog ek het ons eie voorraad saamgeneem.
Blindings is haglik en maak nie eens die venster toe tot onder nie, en die gordyne is 'n nagmerrie om toe te trek, want dis op 'n pyp en mens moet behoorlik strek, want daai gordyn gly nie met gemak deur die pyp nie—moet een vir een oog geryg word. Al wat mooi is, is die tuin, maar ons slaap nie in die tuin nie en verwag ten minste netheid.
Na 10 ure op die pad is mens doodmoeg, en om daai tyd nog 'n ander plek te gaan soek, is nie 'n opsie nie. Ons het ontsettend sleg geslaap van woede oor die toestand, eers na 2 vanoggend aan die slaap geraak en moes al weer 6 uur opstaan om 'n baie belangrike afspraak na te kom en daarna weer lang ure op die pad terug huis toe. Daar was 'n persoon op die verdieping bo ons ook, houtvloere en tot bitter laat het dit geklink of goed rondgeskuif word. Ek is woedend dat die eienaar nie respek het vir ons as betalende gaste nie, deur vir ons 'n plek in daai toestand aan te bied en te dink dis ok!
Dit was glad nie 'n lekker en aangename ondervinding nie, eerlikwaar, en ons is ontsettend teleurgesteld. Stawende foto's is aangestuur na die webtuiste