Hallo Lianie,
Hoop julle bootreis was lekker. Baie dankie vir jou terugvoer en julle verblyf, maar ek wil graag 'n paar goed aandui en asb korrigeer. Ons het tot dusver nog amper deurlopend uitstekende 5 ster resensies gehad - lees gerus ander resensies. Dit word ook duidelik op ons LekkeSlaap profiel aangedui dat die eenheid deel van die hoofhuis is. Parkering word ook duidelik aangedui as van die straat af, maar nie agter 'n toesluithek nie. Daar is wel 'n toesluithek, soos ek vir gaste met arrivering in kennis stel, maar dit is jul keuse om daar te stop, al dan nie. Dan is die ligging van die eenheid iets wat geografies vas is en gaste self na moet kyk in terme van waar hul wil wees - adres word op die profiel aangedui. Ons is egter wel naby aan verskeie winkels, Tygervalleisentrum, restaurante en maklik toeganklik tot hoofpaaie, asook in 'n gepatrolleerde, rustige en goeie woonbuurt. Ons skoonmaakfooi is al vir lank geïnkorporeer aangesien was van beddegoed en skoonmaak van hoogstaande gehalte is, maar ook kostes dra, al is dit soos vir jul, vir slegs een nag. Die skoonmaakfooi word aangedui in die kwotasie en gaste is dus vooraf bewus hiervan. Gaste word ook bederf met vele ekstras, soos vars melk, sap, joghurt en muesli, waterbotteltjies en ander snoepgoed, asook 'n toegeruste 'noodhulp houer' en badkamerbenodighede. Die volle skoonmaakfooi word nooit vir een nag verblyf gehef nie, maar gaste kry steeds al die voordele. Ek sien wel dat jy besef het dit is waarde vir geld, daarom die 5/5 erkenning hiervoor. Ek weet dat ons eenheid van hoogstaande gehalte is en ons het vele gaste wat gereeld terugkom en baie gelukkig is. Hoop julle is veilig terug in Limpopo. Groete.