Dis seweuur op ’n Vrydagoggend en jy sit al weer in die verkeer. Die enigste vooruitsig wat jy vandag het, is gisteraand se oorskiet-pasta in jou kosblik en bykans ’n miljoen e-posse wat lê en wag. Klink dít vir jou bekend? As jy moeg is vir swoeg en sweet om jou brood en botter te verdien, dan is dit hoogtyd dat jy jou stadshuis vir ’n huisie in die berge verruil en ’n behoorlike blaaskans neem. Met die winter wat wink, het LekkeSlaap 10 berghuisies opgespoor wat perfek is vir ’n lekker winterwegbreek. Loer gerus hier:

Bergsicht Country Farm Cottages

Tulbagh

As jy moeg is vir die lewe in die Moederstad, lok Bergsicht Country Farm Cottages net buite Tulbagh jou gulhartig nader. Dié kothuisies lê in ’n kommetjie tussen die majestueuse Winterhoek-, Obikwa- en Witzenberge net 120 kilometer buite Kaapstad. Vergeet van al jou sperdatums en kom ontspan op die lekker kuierstoep — die berg-uitsigte sal sowaar jou asem wegslaan!

Slaapplek: twee tot ses gaste per eenheid

Geriewe: Jetmaster-kaggel, braaiplek, gratis WiFi, elektriese komberse

Aktiwiteite in die omgewing: perdry, visvang, voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsroetes, swem

Cleopatra Mountain Farmhouse

Drakensberge

Cleopatra Mountain Farmhouse skuil diep tussen KwaZulu-Natal se Drakensberge en bestaan uit hotel-kamers en -suites wat jou na pragtige tuine en majestueuse berge laat ontsnap. Dit is op die oewer van ’n foreldam geleë en elkeen van die twaalf kamers is luuks afgerond met bokhaarkomberse en warm handdoekrelings. Ontbyt en aandete word in die eetkamer bedien en met plaaslike, ingevoerde en tuisgegroeide bestanddele voorberei — gaste word selfs genooi om deur die groente- en kruietuine te wandel. Verder streel die natuur se oggendkoor en klanke van die rivier jou siel met rustigheid en vrede — presies waarna ’n mens tydens besige werksdae verlang. 

Slaapplek: twee gaste per eenheid

Geriewe: TV, tee- en koffiemaakgeriewe, mini-kroeë, verwarmers, waaiers en warm handdoekrelings

Aktiwiteite in die omgewing: stap, voetslaan, fietsry, swem in bergstrome, forelhengel, voëlkyk, perdry, uitstappies na plaaslike rotstekeninge

Matjiesvlei Cottages

Calitzdorp

Sewentien kilometer buite Calitzdorp kronkel ’n grondpad tot in die hartjie van die Gamkariviervallei waar Matjiesvlei Cottages skuil en die Swartberge oor ’n mens waghou. Dié gasteplaas beskik oor drie selfsorg-kothuisies — Middelplaas, Die Stalle en Bokwagtershuis. Elke kothuisie is keurig ingerig met antieke meubelstukke en bied gehalteverblyf tussen niks en nêrens. Trek jou stapstewels nader of spring op jou bergfiets en gaan verkyk jou aan die helderpers vygies en reuse-aalwyne wat plek-plek tussen die Karoobossies opslaan.

Slaapplek: tussen vier en ses gaste in verskeie eenhede

Geriewe: kaggels, WiFi, lugversorging, braaiplek en spesiale piekniekplek langs die Gamkarivier

Aktiwiteite in die omgewing: voëlkyk, kunsvlieghengel, visvang, baarshengel, bergfietsry en swem

Kunje Guest Farm

Citrusdal

Selfs as jy jou oë skrefies trek, sal jy nie ’n teken van die stadslewe om jou sien tydens ’n wegbreek na hierdie gasteplaas nie! Daar is verskeie eenhede wat van paartjies tot groot groepe kan akkommodeer en die Berghut verwelkom selfs jou troeteldier. Die Koue Bokkeveld is veral gewild vir sy sandsteen-bergreeks  en dit dien as die skilderdoek van hierdie gasteplaas se uitsigte.  

Slaapplek: twee tot agtien gaste per eenheid

Geriewe: kaggels, lugversorging, satelliet-TV, ’n buitebraai, ’n swembadjie en warmbaddens

Aktiwiteite in die omgewing: voëlkyk, swem, bergfietsry, visvang en fietsry

The Meadow Cottage

Haenertsburg

The Meadow Cottage skuil in die Sequoia Garden Retreat in ’n vallei in Haenertsburg wat deur die heuwels van Magoebaskloof omring word. Dié luukse selfsorg-klipkothuis slaan die spyker op die kop as jy na ’n rustige, stil wegbreek op soek is. Dit is in lang weiveldgras langs ‘n prentjiemooi dam versteek waar die natuurklanke daagliks sing. Gaste kan forel of baars in die damme vang, ’n vleisie oor die kole gooi of piekniek hou in die ongerepte of formele tuine van ses hektaar en die vreedsaamheid van die berge in die lowerryke Laeveld behoorlik ervaar.

Slaapplek: twee gaste

Geriewe: ’n stoep met braaigeriewe, hout, ’n alarmstelsel

Aktiwiteite in die omgewing: kunsvlieg-, forel- en baarshengel, visvang, perdry, voëlkyk, fietsry

Fynbosrust

Wolseley

Kom baljaar in die sneeu en krul voor die kaggel op by hierdie huis in die Mount Bain Natuurreservaat naby Wolseley. Fynbosrust pronk aan die voet van die Bainskloofberge en julle kan op die dek ’n uitsig oor die Slanghoekvallei met skilderagtige sonsondergange bewonder. Boonop is die huis naby verskeie trou-venues wat dit ook ’n perfekte oornagverblyf-opsie maak. 

Slaapplek: vier gaste

Geriewe: wasmasjien op versoek, kaggel, TV met DStv, gratis WiFi, braaigeriewe, lugversorging

Aktiwiteite in die omgewing:  stap- en fietsroetes, ’n nabygeleë waterval

Big Sky Cottages

Breedekloof

Big Sky Cottages lê hoog teen die hange van die Mosterthoekberge en bied ’n uitsig oor die Witzenbergvallei. Dié 67 hektaar-plaas in die Breedekloof is die perfekte plek vir stadsjapies om die stadsgedruis vir ’n naweek vaarwel te roep. Kom ontspan op die stoep en bewonder die wingerde, boegoelande en vrugteboorde wat soos ’n lappieskombers oor die berge vou.

Slaapplek: twee gaste per eenheid

Geriewe: kaggels, braaiplek, gratis WiFi en ’n swembad

Aktiwiteite in die omgewing: perdry, wynproe, voëlkyk, voetslaan en fietsry

Berghoff Disa Cottage

Porterville

Hierdie troeteldiervriendelike selfsorg-chalet is een van die kothuise op ’n proteaplaas net buite Porterville en laat jou hart trots Suid-Afrikaans klop as dié bekende blomme oral om jou pronk. Elke chalet is na ’n proteafamilie vernoem, bied ’n uitsig op die Olifantsrivier- en Kouebokkeveldberge en is ver van mekaar geleë om privaatheid te verseker. Julle kan die plaas te voet of met ’n fiets verken of ’n dag in die nabygeleë Groot Winterhoek Wildernis-area met sy besonderse rotsformasies en ryk diere- en plantelewe deurbring.

Slaapplek: twaalf gaste

Geriewe: kaggel, braai, gratis WiFi

Aktiwiteite in die omgewing: bergfietsry deur die protea-plantasies of stap na ‘n pragtige waterval 

Dumbe Cottages

Bergville

As Pretoria se stadsliggies té helder begin skyn, kan jy maar gerus die Retiefpas in die noordelike Drakensberge tot by Dumbe Cottages kom aandurf. Ná jou tog sal ’n knetterende kaggelvuurtjie jou begroet en sal jy in salige stilte gehul word. Dié kothuise het lieflike stoepe met uitsigte oor die bruin bergspitse wat raak-raak aan die blouselblou lug. Bring sommer die hele gesin vir ’n winteravontuur, want in Junie lê die sneeu gewoonlik lekker dik!

Slaapplek: twee gaste per eenheid

Geriewe: kaggels, braaiplek, olielampe, elektriese komberse en heerlike hoekbaddens

Aktiwiteite in die omgewing: bergfietsry, vierwielmotorfietsry, 4×4, voëlkyk, kunsvlieghengel en voetslaan. Die Kaalvoet Vrouemonument is stapafstand hiervandaan.

River Edge Akkommodasie

Breederiviervallei

Die leikliphuisies by River Edge Akkommodasie in die Breederiviervallei is die perfekte plek vir ’n moeë stadsjapie om sy siel te kom verkwik. In die winter lê die sneeu soos versiersuiker op bergpieke gestrooi en die asemrowende uitsigte is die beste agtergrond vir stoepkuiers. Die River Edge-huisies is ook troeteldiervriendelik, so jy kan gerus jou dierekinders saambring!

Slaapplek: onderskeidelik ses, agt en tien gaste per eenheid

Geriewe: kaggels,  ’n warmbad by elke eenheid, wynkelder, braaiplek, donsveer-duvets en elektriese komberse

Aktiwiteite in die omgewing: visvang, voëlkyk, wynproe, bergfietsry, voetslaan en swem. Daar is ook ’n koffiewinkel op die plaas waar jy soggens ’n smullekker ontbyt kan gaan eet.

Dis vyfuur op ’n Vrydagmiddag en die enigste verkeer wat jy teëkom is bokke en skape wat saam met jou die bergpaadjies aandurf. Vanaand gaan jy ’n vleisie oor die kole gooi en dan met ’n glasie rooiwyn voor die kaggel opkrul. Dít klink perfek, of hoe?

Bespreek sommer nóú ’n berghuisie vir ’n blaaskans-naweek. Ná ’n winterwegbreek sal jy sommer weer berge kan versit!

Hooffoto: Cleopatra Mountain Farmhouse (LekkeSlaap)

Hierdie blog is oorspronklik deur Daleen Venter geskryf en deur Bea Lingenfelder aangepas.


Lees ook:

Romantiese bergkothuise vir die winter

Vuurwarm bestemmings vir jou winterwegbreek

Verjaag die koue met dié romantiese winterwegbreekplekke