“Die dag is verby,
Nog ’n week nog ’n maand;
O, waar loop die tyd met ons heen?
Onthou jy hoe ver moes ons skool toe stap?
En sou jy my fliek toe vra; Dan moes ons jou tjor aan die brand kry, ek en jy.
Ja, dit was die goeie ou dae …” sing Laurika Rauch.
Kom saam met ons op ’n nostalgiese reis na die verlede by dié geskiedkundige blyplekke. Hiér kan jy in die voetspore van ouds kom trap en ’n storie of twee herleef.
LekkeSlaap het ’n paar ouwêreldse blyplekke gaan soek waar jy die stories en stowwerige kiekies uit weelderige, vervloë dae kan beleef.
Die Victoria Manor Hotel, een van die oudste hotelle in Suid-Afrika, is by die ingang na Markstraat in Cradock geleë en dateer uit 1848. Daar is later by die oorspronklike hotel aangebou, maar die Victoria Manor Hotel spog steeds met beeldskone plafonne van gedrukte staal uit die Victoriaanse era.
Ongelukkig is die bekende “broekieslys” in die 1950’s gedurende die wol-era verwyder. Broekieslys is ‘n bekende gesig in die Karoo en baie van die ouer huise in Graaff-Reinet, Cradock, Nieu-Bethesda en die omliggende dorpies spog vandag nog met dié Victoriaanse afwerking.
Die Victoria Hotel het ’n ryk geskiedenis en wanneer jy die voorportaal betree, voel dit waarlik of jy jou in ’n vorige eeu bevind. Die hotel is egter ook nie sonder sy spoke nie! Die kelder is tydens die Anglo-Boereoorlog as ’n tronk gebruik …
Die Tuishuise, wat vandag deel van die hotel vorm, het elkeen hul eie geskiedkundige verhaal. Hulle dateer uit die 1840’s toe verskeie ambagsmanne hulself hier gevestig het om die ossewaens wat hier aangedoen het, te herstel. Onder hulle was harnasmakers, wamakers, wielmakers en grofsmede.
Vandag is daar 30 tuishuise waar gaste kan tuisgaan. Heelwat opknappings het intussen plaasgevind, maar hul oorspronklike karakter het behoue gebly – meestal as gevolg van die armoede onder die ambagsmanne wat ná die koms van treine en later motors, nie die geld gehad het om veel aan die huise te kon verander nie. Klein moderniserings, soos die vervanging van die staalvensters met houtraamvensters, is deur die jare aangebring.
Cradock se geskiedkundige bekoring maak van dit ’n toevlugsoord vir skrywers en die dorp was ook die tuiste van Olive Schreiner. Sy is egter nie die enigste skrywer van dié kontrei nie en van die ander Tuishuise is ook na bekende skrywers soos Etienne van Heerden, Iris Vaughn en Guy Butler vernoem.
Kry jou eie dosis inspirasie wanneer jy weer die Karoo besoek en bespreek gerus by Die Tuishuise & Victoria Manor Hotel!
Lanzerac in Stellenbosch is bekend as een van die oudste wynlandgoedere in die land en is reeds in 1692 aan Isaac Schrijver deur Simon van der Stel toegestaan. Schrijver het die plaas Schoongezicht gedoop en die eerste wingerde geplant. Die kelder dateer uit 1815 en die U-vormige herehuis en die hoofgewel is reeds in 1830 gebou.
Die plaas is in 1914 as Lanzerac herdoop ná Elizabeth Katherina English dit vir £18 000 gekoop het. Sy het verskeie aanbouings gedoen en die herehuis uitgebrei. Mev. English het die eerste wyne begin botteleer uit die 21 ingevoerde druiwe-variëteite wat op die plaas geplant is.
Ná haar afsterwe in 1929 is die plaas aan Johannes Tribblehorn verkoop en teen 1936 het hy die mees moderne wynkelder in die Kaap gebou. In vergange jare het die plaas aan Angus Buchanan behoort wat dit in 1958 aan David Rawdon, ’n vooruitstrewende hotelier, verkoop het. Hy het mettertyd die herehuis en buitegeboue begin omskep en gemeubileer met luukse afwerkings en antiekware uit Engeland en die Kaap. Dít was die begin van die Lanzerac Hotel.
Lanzerac is in die 1960’s tot nasionale monument verklaar.
Vandag, meer as 300 jaar later, is Lanzerac steeds ’n gesogte plek tussen die mees beeldskone hotelle en trou-venues in die wêreld en spog dit met een van die mees kenmerkende voorbeelde van Kaaps-Hollandse argitektuur in die land.
Verlustig jou in die ryk geskiedenis van die omgewing met jou volgende besoek aan die Kaapse Wynlande deur by Lanzerac Hotel & Spa tuis te gaan!
Niemand weet presies wanneer die oorspronklike gebou opgerig is nie, maar daar word beweer dat die Montagu Country Hotel reeds in 1875 gebou is. Die dorpie Montagu is in 1851 gestig toe die plaas Uitvlucht deur ene Mnr. David Stephanus van der Merwe aangekoop en in erwe verdeel is. Die dorp is vernoem na John Montagu wat van 1843 tot 1852 as sekretaris van die Kaapse goewerment gedien het.
Die Montagu Country Hotel is op die noordwestelike hoek van Bath- en Kohlerstraat geleë. Daar is egter baie min bewyse en daarom is dit moeilik om te bepaal presies hoe oud die hotel is. Maar die ontwikkeling van die dorp en die erwe rondom die hotel het tussen 1854 en 1858 plaasgevind. Christaan Schlacht, van Duitse herkoms, blyk die hotel se eerste eienaar te wees en daar word bespiegel dat die hotel in 1875 gebou is.
’n Interessante voorval het in 1880 plaasgevind toe die destydse president van die Transvaal, Paul Kruger, saam met ’n groot gevolg die omgewing besoek het. Paul Kruger en sy gevolg sou by die hotel aandoen, maar die eienaar het egter op die nippertjie die byeenkoms gekanselleer aangesien hy nie eens was met Kruger se politiese oortuigings nie. Die plaaslike gemeenskap het toe ingespring en ’n impromptu-byeenkoms in Joubert Huis in Langstraat gereël. Die breekware wat tydens dié maaltyd gebruik was, is steeds in Joubert Huis te siene!
Dié hotel se Art Deco-fasade, soos dit vandag daaruit sien, is rondom 1932 gebou. Ná dit voltooi is, is die oorspronklike gebou gesloop. Jy kan nog tjeks wat op 23 Julie 1941 aan die “New Montagu Hotel” deur Standard Bank uitgereik is, in die voorportaal van die hotel sien.
Die hotel se koloniale Art Deco-boustyl herroep die styl van Parys in die 1920′s en is vandag steeds regdeur die gebou te siene. Besoek gerus die Montagu Country Hotel met jou volgende besoek aan Roete 62 om dié blyplek se ouwêreldse bekoring te beleef.
Maak jou volgende wegbreek na die Drakensberge ’n ouwêreldse ervaring! Die Cathedral Peak Hotel is een van die heel eerste hotelle wat só hoog in die Drakensberge gebou is en dit herinner jou aan die dae toe gesinne nog ’n week lank saam in die berge wou deurbring.
Die grond waar die beeldskone Cathedral Peak Hotel vandag staan, is in 1935 deur die Buys-familie aangekoop. Maar die omgewing was uiters onherbergsaam en onontwikkel en die grootste werk was om die sowat 45 km vanaf die naaste treinstasie, in Winterton, gangbaar te maak. ’n Grondpad en verskeie bruggies is gebou.
Die hotel het in 1938, kort voor Kersfees, sy deure vir die eerste keer oopgemaak. Op dié stadium was die hotel nog nie heeltemal voltooi nie. Die tarief vir verblyf, met alle etes ingesluit, was sowat R1,35 per persoon per dag!
Ongelukkig het die Tweede Wêreldoorlog wêreldwyd ’n impak gehad en met die rantsoenering van petrol kon gaste nie by die hotel uitkom nie! Die bestuur het egter vinnig ’n plan gemaak en gereël om gaste by die treinstasie in Winterton op te laai en dan met ’n pendeldiens tot by die hotel te vervoer. Sommige dae het dit maar gesukkel teen die modderige hange op, maar met die hulp van die plaaslike Zoeloe-inwoners en hul osse was die hotel selde sonder gaste.
Albert Buys was bekend daarvoor dat hy met sy klein petrolrantsoen kon klaarkom en het ook altyd ’n ekstra skeutjie whiskey oorgehad – selfs al was almal se kelders lankal leeg! Buys het ook met ’n uiters slim ontwerp, veral vir daardie dae, vorendag gekom en ’n hidrokragopwekker opgerig om lig te verskaf. Dit was egter nie té betroubaar nie en is met ’n petrol-kragopwekker aangevul. Saans om 22:00 was dit “ligte uit” en die flikker van die ligte het gaste gewaarsku om kerse aan te steek.
Die hotel het verskeie doendinge in die omgewing aangebied en daar was destyds reeds ’n ervare gids wat staptoere aangebied het. Saans het almal rondom die radio saamgedrom om die nuus te luister en dan gedans op die krapperige maat van ’n grammofoonspeler.
Vandag kan jy die pad, nou heeltemal geteer, volg tot by die pragtige Cathedral Peak Hotel in die Drakensberge. Die 4 ster-hotel bied ’n verskeidenheid kamers en hope doendinge in die omgewing.
Die historiese Kaaps-Hollandse herehuis, De Oude Opstal, is die oudste huis in Robertson en is pragtig gerestoureer en gemeubileer om sy eertydse glorie te weerspieël. Dié luukse gastehuis is reeds in die vroeë 1800’s gebou, alhoewel die presiese datum nie aangeteken is nie.
Die plaas waar Robertson vandag geleë is, is op 19 Januarie 1853 verkoop aan 10 “direkteure” wat ’n nuwe dorp wou aanlê. Dit is vernoem na Dr. William Robertson, ’n Skotse predikant van die gemeente van Swellendam en die eerste konsulent van die nuwe gemeente. Op dié stadium was daar twee huise op die stuk grond. Die eerste was die woning van die vorige eienaar, Hans van Zijl, op die hoek van die huidige Le Roux- en Van Oudtshoornstraat.
Die enigste ander huis wat op die kaart aangedui is, is “De Oude Opstal”. Dit moes inderdaad oud gewees het om reeds op dié stadium as die “ou” opstal gedoop te word. Dit is ook nie duidelik wie die oorspronklike bouer of eienaar was nie, maar die oorspronklike gewel dui aan dat dit uit die begin van die neëntiende eeu dateer.
Die oorspronklike vensters was nog met die hand gegiet. Daar is ’n interessante staaltjie rondom die naam “P.G. Roos” wat met ’n diamant uitgekrap is in een van die glaspanele. Volgens die dorprekords is dié sogenaamde Mnr. Roos in 1867 uit die dorp gejaag omdat hy homself wangedra het.
Die dorp is bekend vir sy beeldskone, ou geboue en geskiedenis, maar De Oude Opstal was egter nie altyd die statige ou herehuis van vandag nie. Die huis het stadig agteruitgegaan en verval tot dit in 1945 in ’n uiters verwaarloosde toestand as ’n bestorwe gekoop is. ’n Jong sakeman, Johan de Jong, het dit vir R2400 gekoop, ten spyte van die meeste van die plaaslike inwoners se raad daarteen. Maar De Jong het groot planne gehad en het stadig maar seker die ou gebou liefderik gerestoureer.
Vandag is dié historiese huis steeds in liefdevolle hande en gaste kan in weelde in dié beeldskone ou huis tuisgaan. Maak seker jy kom kuier hiér tydens jou volgende besoek aan die Robertsonvallei.
Die Drostdy Hotel in Graaff-Reinet is tussen 1804 en 1805 opgerig en is die tweede oudste drostdy (die eertydse woning vir die plaaslike landdros) in die land, naas Swellendam wat sowat 50 jaar ouer is. Die oorspronklike gebou is ontwerp deur Louis Michel Thibault, ‘n bekende Franse argitek en ingenieur. Thibault het naam gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse opgeleide argitek en het verskeie geboue in die ou Kaap Kolonie ontwerp. Daar is ‘n paar veranderinge aan Thibault se oorspronklike planne wat egter aandui dat hy nie self daar was toe die Drostdy gebou is nie, en die bouers toe sommer self veranderinge aangebring het.
Die drostdy is in 1847 verkoop aan ’n ene Mnr. JF Ziervogel en nadat dit ’n paar keer van eienaar verwissel het, is dit deur Henry Kromm gekoop en in 1876 omskep in die Kromm’s Drostdy Hotel.
Ná dit in 1975 deur die Oude Meester Groep oorgekoop is, het hulle in samewerking met Historiese Huise van Suid-Afrika daaraan begin werk om dit tot sy eertydse styl te herstel met behulp van foto’s wat tussen 1812 en 1880 in Graaff-Reinet geneem is – met ’n paar moderne geriewe wat natuurlik toegevoeg is.
Stretch’s Court, wat deel van die hotel vorm, is in 1858 ontwikkel om blyplek aan die bruin werkersklas te verskaf. Die grond is later aan die inwoners oorgedra. Die huisies het egter mettertyd begin verval en dit is in 1966 deur Historiese Huise oorgeneem en gerestoureer.
Die hotel is onlangs deur die Neumark Groep oorgeneem en is grootskaals opgegradeer. Vandag is die Drostdy Hotel wyd en syd bekend as een van die vernaamste historiese hotelle in Suid-Afrika. Die hotel bied ’n ouwêreldse ervaring en ’n heerlike basis vanwaar gaste die plaaslike geskiedenis van Graaff-Reinet en die omliggende omgewing kan verken.
In die moderne wêreld is dit soms nodig om uit die stad se gejaag te ontvlug ─ en hoekom dit nie sommer ’n leersame ondervinding maak nie? In die woorde van Laurika Rauch: “Kom ons ruil vandag se rumoer vir ’n outydse toer. En gee ons oor aan die nostalgie … ”
Bespreek nóú jou volgende wegbreek by een van dié pragtige geskiedkundige blyplekke regoor Suid-Afrika deur LekkeSlaap.co.za!
’n Spesiale dankie aan al die instansie-eienaars vir die ou foto’s, geskiedenis en stories.
Alle bykomende inligting is deur die instansies verkry, tensy anders aangedui.