By Steenbokfontein, ’n seeplaas net buite Lambertsbaai aan die Weskus, het álles ’n storie: van die oeroue grotte waar die Khoisan hul bestaan kom skilder het, die sandsteen-labirint wat van genesing en die liefde van tannie Kitta Burger praat, tot skulpstapels wat getuig dat die see jare gelede ook sý stories oor dié plaas gespoel het, nog vóórdat olifante oor die sand-en-bossie-vlakte getrek en naderhand verdwyn het. Vandag bewaar die sesde generasie Burgers op Steenbokfontein dié seeplaas se stories ─ hoe spookagtig, histories, romanties en heilsaam ook al ─ en deel dit graag wanneer gaste kom inloer. 

LekkeSlaap.co.za het onlangs ’n Kaapse draai by hierdie besonderse plek gemaak om al sy vertellings te hoor en uit te vind hoe jý ook Steenbokfontein deel van jou storie kan maak.  

Van waar, Gehasie?

Die aand voor ons besoek aan dié seeplaas gesels ’n paar vriende rondom die etenstafel lukraak oor die superioriteit van Sandveld-aartappels. “Nét sulke knoetse kom uit daai wêreld se sand. Ek koop nie sommer ’n aartappel uit ’n ander plek nie,” meen een van die aartappelsnobs aan tafel. In sekere oë is Steenbokfontein, wat in die Sandveld val, se “plaas”-etiket seker maar aan die feit dit al ’n aartappelplaas was toe te skryf, maar dit was ook al deur die jare baie ander dinge. 

In 1831 was Steenbokfontein onder die groter plaas Otterdam, wat later Lambertsbaai sou word, as weiding aan Gerrit Erasmus Smit van Piketberg verhuur teen twee pond sterling en vyftig sjielings. Smit se suster was met ’n Burger getroud en toe sy en haar man albei kort na mekaar sterf, is hulle twee Burger-seuns deur Smit aangeneem en het die een, Dirk Albert Burger, Steenbokfontein geërf. Vandag, vyf generasies later, is Albert Dirk Burger, sy vrou, Carol, en hulle twee dogters, Anika en Cara, steeds hier gevestig en speel die plaas ook nou die rol van toerismeplaas, gasvryheidsplaas, historiese besienswaardigheid en navorsingsterrein ─ dit was tot al ’n filmstel en die ligging vir ’n klein “Burn” aan die Weskus.  

Albert, Carol, Cara en Anika Burger is die nuutste generasie Burgers op Steenbokfontein. | Foto: verskaf

Die Plaaskombuis en sy stories

Die oorspronklike plaasoptal, die oudste gebou op die plaas, is vandag die tuiste van Die Plaaskombuis ─ ’n unieke restaurant en teekamer waar onopgesmukte, tuisgemaakte boerekos op ’n houtvuurstofie voorberei word en waar jou maaltyd altyd deur ’n storie gekomplementeer word.

Die Plaaskombuis is op Steenbokfontein se werf en bied heerlike boerekos. | Foto: Adriëtte le Roux

Die Plaaskombuis as sulks het begin toe Tannie Kitta Burger, Albert Burger se ma, die historiese plaashuis in 1990 in ’n restaurant omskep het. Dit het toe nog die oorspronklike misvloere gehad wat deur ’n sementvloer vervang moes word toe die kospotte hier begin prut. Buiten Tannie Kitta se liefde vir outentieke Sandveld-disse, soos haar beroemde boontjiebredie (wat sy al op TV gekook het!), was dié gesiene vrou se groot passie die stories oor Steenbokfontein wat sy oor die jare versamel en met groot genoegdoening aan klante vertel het. Ek was ’n paar jaar gelede op ’n Weskus-staptog, die Shoreline of the San, gelukkig genoeg om die tannie te ontmoet en haar stories saam met ’n smullekker bord kos in te neem.

Die Plaaskombuis se mure is vol tydstukke en koerantknipsels wat die plaas se storie help vertel. | Foto: Adriëtte le Roux

Wanneer ons groepie LekkeSlapers die eerste aand laat in dik mis op Steenbokfontein land en uiteindelik ons pad tot by die Weskus Quarry, ons tuiste vir die aand, voel-voel, tref ek ’n bundeltjie van Tannie Kitta se stories, nog in haar sierlike handskrif, op die etenstafel aan waar Carol dit vir ons gelos het. So is Tannie Kitta, en die stories wat sy met soveel geesdrif vertel het, steeds na haar afsterwe aan Covid-19 vroeg vanjaar oral op die plaas, in die monde van sy inwoners en selfs in die vertellings van Lambertsbaai se dorpenaars te hoor. Wanneer ons die volgende oggend, ná die mis gelig het, so ’n bietjie die plaas verken, sien ons vir die eerste keer die bosse blomme wat aan die plaasheining vasgemaak is, ’n pragtige blyk van die leemte wat Tannie Kitta se afsterwe in soveel mense se lewens laat en hoe lief die gemeenskap vir haar was.

Die volgende oggend merk ons die blomme vir Tannie Kitta wat aan die Plaaskombuis se hek vasgemaak is. | Foto: Adriëtte le Roux

Tog, omdat die lewe mos maar aangaan, en ter nagedagtenis van hierdie vrou, is die Plaaskombuis se potte steeds aan die prut met disse soos lamsbredie, sago-poeding en goue anysgegeurde soetpatat. Steenbokfontein staan nie vir ’n oomblik stil nie en gaste moet net bel en bespreek om hierdie Weskus-storiekombuis te ervaar*! 

Met ons onlangse besoek ontmoet ons Tannie Kitta se regterhand, Maria van der Westhuizen, en smul aan die heerlike skons, koeksisters, sjokoladekoek en ander varsgebak wat sy volgens Tannie Kitta se resepte voorberei het. As ek so na die tafel vol lekkernye, die hardwerkende Dover-stofie en die afgewitte mure vol tydstukke, foto’s en koerantknipsels kyk,  spoel my besoek van ’n paar jaar tevore na my toe terug en kan ek met Maria saamstem dat “Tannie Kitta nog steeds hier is”.   

Maria van der Westhuizen, wat vir ons so ’n heerlike koek-en-middagtee bedien, lag lekker tussendeur haar vertellings. | Foto: Adriëtte le Roux

En so, van die tannie se “spook” tot die ander geeste wat volgens heelparty mense nog op die plaas dwaal, kry Maria veral ’n vonkel in haar oë wanneer sy Steenbokfontein se spookstories vertel. Aan die Weskus gaan spys en stories mos hand-aan-hand en soos ons weglê, rol die stories behoorlik. Daar is staaltjies oor die Khoisan wat eens op die plaas gebly het en wat vandag nog op spookagtige wyse laat hoor wanneer hulle nie met die huidige inwoners saamstem nie. Dan is daar die geskiedenis van die HMS Sybille wat in 1901 op die rotse voor die plaas skipbreuk gely het en, my gunsteling, die liefdesverhaal wat tussen ’n boeremeisie en ’n Britse ingenieur uit dié skip se sinking ontstaan het. Al die vertellings is deurspek met ander ditjies en datjies wat sommerso in die gesels uitkom.

Groet die grotte en die natuur

Wanneer ons laatmiddag op die Plaaskombuis se groen sementstoep uitstap en met nuwe oë na die werf rondom ons kyk, wil-wil die son al sy buiging vir die dag begin maak. Ons besluit daarom om ons pad na ons verblyf by die Quarry terug te baan via die historiese grotte en die labirint waarvan ons gehoor het.   

Die grotte is verby die Plaaskombuis oor die treinspoor wat die erts van Sishen in die Noord-Kaap tot in Saldanhabaai vervoer. Ons is baie gelukkig om die spoor oor te steek kort voor die trein sy opwagting maak, want, verduidelik Nelda van Zyl, ’n plaaslike toergids van Destination Cederberg wat ons prentjie van Lambertsbaai en sy omstreke vir ons kom aanvul, dit is die langste produksietrein ter wêreld en het sowat 351 trokke (3,7 kilometer lank!) waarvoor ons sou moes wág om die spoor te kon oorsteek. 

Ons steek die treinspoor oor nét voor die Sishen-trein verbysnel. | Foto: Adriëtte le Roux

Wanneer ons anderkant die spoor is, is die grotte aan ons linkerkant. Hierdie grotte is nie oop vir Jan Publiek nie, maar dien as navorsingsterrein vir Universiteit Kaapstad se Argeologiedepartement wat al in 1993 hier opgrawings begin het. Onder die grotte se geheime is pragtige Khoisan-handafdrukke en ander skilderye wat navorsers sowat 6000 jaar oud skat, asook tekens van grootwild soos reuse buffelelande en leeus wat vroeër jare hier te vinde was en skuurmerke wat vertel dat daar ook op ’n kol olifante in die area was wat hul droë velle teen die kliprante kom krap het. Daar is tot ’n bepaalde klip waar Simon van der Stel na oorvertelling op pad na die kopermyne by Nababeep vir ’n wyle gerus het, tereg genaamd Simon se Klip. Nog ’n entjie voor die eerste grot is ’n rots wat uit gekompakteerde skulpe bestaan en bewys dat, selfs vóór die grootwild en die Khoisan hier verby getrek het, die see ook duisende jare gelede oor die plaas gespoel het.  

Nelda van Destination Cederberg verduidelik vir ons die rotstekeninge. | Foto: Adriëtte le Roux

Die drie grotte en die veld rondom dit het ’n gewyde atmosfeer wat ons saggies tussen die veldblommetjies laat trap en in stilte elkeen sy eie stukkie rots laat verken. Ons hou ons oë vir die swart akkedis oop wat ons gehoor het by die kleiner klipkoppe aangetref word — die enigste plek op aarde waar hy voorkom — en vir die dassievygie waaroor Erns van Jaarsveld, die bekende plantkundige, navorsing doen en wat hier tussen die rotslae groei. Soos al Steenbokfontein se ander gaste wat gelukkig genoeg is om die grotte te mag besigtig, is ons ook dankbaar om hierdie grotte deel van ons besoek te maak en is dit met dankbaarheid dat ons na Weskus Quarry terugkeer. 

“Die drie grotte en die veld rondom dit het ’n gewyde atmosfeer wat ons saggies tussen die veldblommetjies laat trap en in stilte elkeen sy eie stukkie rots laat verken.” | Foto: Adriëtte le Roux

Janke en Ingrid stap solank vooruit, want dit was ’n lang, interessante dag en dit is tyd om die vuur aan te steek waarop ons die heerlike wors en tjoppies van Piet se Vleishuis in Lambertsbaai wil braai. Daar wag ook ’n bottel Weskus-wyn, biltong en droëwors wat Carol goedgunstiglik vir ons gelos het. Ek hou egter skerp regs om eers ’n draai by die labirint in die Quarry se skaduwee te maak. 

Ingrid en Janke stap vooruit tot by die Quarry om die middagsonnetjie te geniet en die eetgoed vir die aand reg te kry. | Foto: Adriëtte le Roux

Dié labirint is self deur Tannie Kitta as ’n liefdesgebaar uitgepak. Tannie Kitta sou nooit kon dink hoe dié sewe-baan-labirint wat sy uitgepak het om vir haarself as terapeutiese meditasieruimte te dien, nou die mense vir wie sy agterlaat ook help genees nie. Teen die tyd dat ek die middelpunt van die labirint bereik, is die foto’tjie van die tannie en die paar blommetjies en klippies wat vir haar daar neergesit is ’n pragtige manier om my meditasie af te sluit. Dan stap ek die heuwel op Quarry toe vir die aand.  

Die sewe-baan-labirint is deur Tannie Kitta self uitgepak. | Foto: Adriëtte le Roux

’n Quarry, ’n hokkie, ’n grotjie en diesmeer

Die Quarry is net een van vier blyplekke op Steenbokfontein — die een so karaktervol soos die ander — en ’n mens sukkel soms, selfs in die stilseisoen, om hier te bespreek oor die mense van heinde en verre stroom om die seeplaas se unieke gasvryheid en genesing te ervaar. Die feit dat die Burgers se bou-hand en vernuf met eklektiese strandstyl-versierings agter die Weskus Hokkie, Weskus Grotjie en Weskus Quarry sit, help natuurlik ook om hierdie eenhede gesogte wegbreekplekkies onder jonk en oud te maak. 

Die Weskus Hokkie was die eerste van Albert se blyplek-bouprojekte op die plaas en is ’n rustieke “surfers”-kothuisie vir twee gaste wat ’n uitsig oor die see in die verte bied. Die hokkie is in 2014 van Churchaven af Steenbokfontein toe geskuif en was daardie tyd al oor die honderd jaar oud ─ sy is dus nie sommer net enige ou houtgeboutjie nie! Die hokkie het eers twee jaar op die plaas gestaan en rus, voor sy in 2016 as blyplek ingerig is en was onmiddellik gewild. Terwyl Carol en Albert besig was om die finale afwerkings aan die Hokkie te doen, het hulle besoekers daardie Desember omtrent meer by hulle by die Hokkie gekuier as by hulle woonhuis! 

Die oulike Weskus Hokkie loer vir ons om ’n draai. | Foto: Adriëtte le Roux

Kort na die Hokkie staangemaak is, het die beplanning vir die Weskus Grotjie begin en met die hele Burger-familie wat idees vir hierdie projek gehad het, was dit maar ’n uitdaging om uiteindelik te besluit hoe die Grotjie sou lyk en werk. Hierdie unieke eenheid is uit die rotswand gekap en plek-plek met rustieke boumateriaal versterk, wat Albert se praktiese inslag wys. Carol se eklektiese styl is ook hier in die versierings, die bont deken en die skulp-detail te sien. Staan jy op die stoepie en braai, sien jy tot doer waar die branders breek. ’n Groot bederf hier is die enorme bad — groot genoeg vir twee mense — wat in die rots ingemessel is. By die Grotjie kan ’n paartjie dus heeltemal in vrede saam met mekaar en die natuur kom kuier. 

Die Weskus Grotjie is ideaal vir ’n paartjie. | Foto’s: Adriëtte le Roux en Janke van Schalkwyk

Ons het met ons besoek in die Weskus Quarry gebly. Hierdie eenheid is vir groter groepe geskik en bestaan uit ’n hoofgebou met ’n volledige kombuis en ’n gemeenskaplike badkamer met ’n aantal storte en toilette, asook twee aparte slaapkamers, ’n karavaan, ’n warmbad wat op versoek gevul kan word, ’n braaiplek, vuurput en ’n buitekombuis. Die Quarry is al vir jare die Burgers se Nuwejaars-venue en nou nog, as ’n mens die Quarry betree en die boma aan die linkerkant sien, is jou eerste gedagte dat hierdie nou ’n lekker kuierplek vir lekker mense is. Die huisies in die Quarry is almal vanuit verskillende uithoeke aan die Weskus gehaal. 

Die Weskus Quarry staan bo teen ’n krans in die skadu van wat eens ’n klipuitgrawing was. | Foto: Adriëtte le Roux

Dit is ook hiér waar Carol al vir Roushanna Grey, die “forager”-foendie van Veld and Sea, ’n seekosfees laat kook het. Die Veld and Sea-logo by die buitekombuis wys dat daar nog baie geleentheid vir jou sal wees om een van hierdie ongelooflike werkswinkels by te woon. Roushanna leer groepe natuurliefhebbers hoe om hul eie kos in die natuur te soek en hoe om daardie plante of seekos te verwerk om daarmee te kook. Die samewerking tussen Steenbokfontein, waar ’n liefde vir die natuur seevier, en Veld and Sea, is ’n droomkombinasie en jy kan gerus jou oog vir Carol en Roushanna se volgende Weskus-werkswinkels oophou!

Die pragtige Veld and Sea-logo pronk bo die buitekombuis. | Foto: Adriëtte le Roux

Laastens is daar drie selfsorg-eenhede nader aan Die Plaaskombuis wat nog destyds deur Tannie Kitta se toedoen uit bestaande geboue op die plaas opgeknap is. Hierdie eenhede is ook meer geskik vir groter groepe van tot agtien gaste en jy kan jou troeteldiere saambring as jy hiér bly.  

Op die vraag of ons binnekort nog unieke blyplekkies op Steenbokfontein te wagte kan wees, antwoord Carol net: “Ek en Albert broei nou nog op die volgende projek wat ons saam met Jan Bouer kan aanpak. “Watch this space” is al wat ek nou kan sê.”

Buiten die nabye Lambertsbaai met sy strand, restaurante, winkeltjies, boottoere, museums, Voëleiland en kunsroete, is daar ook baie op Steenbokfontein self te doen. Hier kan jy rotsklim, bergfietsry, branderplankry, lyfplankry, visvang en strandstappies op die privaat stukkie strand aanpak en in die blommetyd (rondom Augustus en September) is die plaas propvol vrolike veldblomme — so maak seker jy bespreek sommer vroegtydig jou plekkie!

Steenbokfontein het sy eie strand waar julle rustig die sonsondergang sal kan kyk. | Foto: verskaf

Dit is met ’n ons-moet-terugkom in ons gemoed wat ons groepie LekkeSlapers ná ’n naweek by Steenbokfontein weer Kaap toe ry. Hoe spesiaal hierdie lappie aarde is, was selfs op ons eerste aand deur die dik mis te sien soos skulpies en bossies ons pad tot by die Quarry aangedui het. Die stories en gasvryheid waarmee die Burgers ons die naweek oorval het, en die na-klank van die liefde wat Tannie Kitta in die plaas ingeploeg het, kan by ieder en elk aanbeveel word. So, of jy lief is vir stories en lekker kos, die Weskus se gasvryheid wil ervaar, of net ’n stil hoekie soek om uit te rus, maak jou volgende wegbreek deel van Steenbokfontein se verhaal. 

Koebaai vir eers, Steenbokfontein. | Foto: Adriëtte le Roux

Baie dankie aan Carol en Albert Burger vir hulle ongelooflike gasvryheid. Dankie ook aan Maria van der Westhuizen vir die koek-en-middagtee wat sy voorberei het, aan Piet se Vleishuis vir ons vleisvoorraad vir die naweek en aan Nelda van Destination Cederberg dat sy ons ervaring van Lambertsbaai en Steenbokfontein nóg ryker gemaak het.

* Om ’n bespreking by die Plaaskombuis te maak, kan jy 083 458 1575 of 083 702 1414 skakel.