So 120 km noordoos van Kaapstad, in ʼn vrugbare vallei omring deur die majestueuse Obikwa-, Winterhoek- en Witzenberge, lê ʼn sprokiesdorpie met die naam Tulbagh. Dié dorpie troon bo sy jonger boeties uit as een van die oudste dorpe in die land (na Kaapstad, Stellenbosch en Swellendam en Graaff-Reinet), en is al in 1743 gestig!

Ons het onlangs die kans gekry om Tulbagh te verken en sal jou góú wys waarom die vallei waarin dié dorpie lê as die Vallei van Oorvloed bekendstaan. Hier is ʼn gewone ou naweek eenvoudig nie genoeg nie ‒ ons brand alreeds om weer te gaan!

1

Vir só ʼn klein dorpie is daar ʼn menigte eetplekke om van te kies en keur. Ons het by drie van dié ʼn draai gaan maak om hulle op die proef te stel, en ons verwagtinge is absoluut oortref! Loer gerus in by Olive Terrace Bistro, Coffee & Cream en Things I Love vir ʼn smaaklike middagete, ʼn koffietjie of  ʼn verfrissende drankie op ʼn snikhete dag.

4

Olive Terrace Bistro, op die Tulbagh Hotel se gesellige voorstoep in Van der Stelstraat, is een van die dorp se spogrestaurante. Hier kan jy smul aan heilsame fynproewersgeregte terwyl jy oor die dorp se bedrywige hoofstraat uitkyk.

Die bistro het ʼn seisoenale spyskaart, so maak seker jy kry vooraf die regte spyskaart in die hande. Ons beveel die volgende geregte op die somerspyskaart van 2016 aan: springbok carpaccio vir voorgereg en tamatie-en-basiliekruid-risotto of rump-steak vir hoofgereg.

 SPRINGTIME (2)

Coffee & Cream is in die middel van die geskiedkundige Kerkstraat oorkant die gemeenskapstuine geleë. As jy smag na ʼn bietjie boeretroos en soetgoed moet jy definitief hier aanklop. Dis ook ʼn oulike venue vir ʼn verjaarsdag of ’n spesiale geleentheid, en elke tweede Sondag kan jy selfs aan ʼn driegangmaaltyd van egte boerekos smul.

6

Things I Love is ook in die hoofstraat geleë. Dit is ʼn deli, wynwinkel, geskenkwinkel én ʼn lieflike eetplekkie wat jou sommer met die intrapslag al sal bekoor. As jy enigsins lief is vir mooi goed, sal jy moet seker maak jou beursie is byderhand (of juis ver weggesteek!) ‒ alles in dié winkel is ʼn groot versoeking! Die vars appel-en-gemmersap en die yskoue sjokolademelkskommel met heuning is die mees verfrissende drankies op die spyskaart.

SPRINGTIME (3) 1

Soos dit ’n dorpie in dié omgewing betaam, het Tulbagh heelwat doendinge vir avonturiers en buitelugliefhebbers. Daar is staproetes in die berge (soos die Murludi-roete wat deur die Witzen- en Winterhoekberge loop), perderitte, bergfietsry (bring jou eie fiets of huur een by die hotel) en Zipline-avonture ʼn paar kilometer verder net buite Ceres. As jou gastehuis nie ʼn swembad het nie, beveel plaaslike inwoners aan dat jy in die somermaande na die waterval net buite die dorp stap.

Tulbagh Michiel Van Balen Flickr

2

Kerkstraat het die meeste nasionale gedenkwaardighede en spog met Kaap-Hollandse, Eduardiaanse en Victoriaanse argitektuur uit die agtiende en negentiende eeu. Na die tragiese aardbewing in 1969 is die 32 erfenisgeboue in Kerkstraat en die res van die dorp inderhaas weer opgeknap om te voorkom dat hierdie belangrike deel van ons land se erfenis tot niet gaan.

Kerkstraat het mettertyd in ʼn skilderagtige trekpleister vir plaaslike en internasionale toeriste ontaard. Kultuurdiere sal ʼn wandeling in dié straat met sy eeue oue geboue en outentieke winkeltjies, soos Het Land Van Waveren, beslis koester.

Gaan vra gerus by die inligtingburo in dié einste straat as jy in ʼn deeglike erfenistoer van die dorp belangstel.

Untitled design (2)

Laaste kultuurwenk: Vrydag- en Saterdagaande is daar lewendige musiekvertonings by Saronsbergteater in die hoofstraat en die kroeg bly tot 02:00 oop. Na ʼn dag van verkenning in Kerkstraat kan jy gerus hier kom ontspan en die dag op ʼn goeie noot afsluit.

3

As jy lief is vir wynproe sal dié vallei jou hart verbly! Jy kan kies tussen Waverley Hills Organic Wine & Olive Estate, Manley Private Cellar, Rijk’s Private Cellar, Drostdy Hof Wines, Tulbagh Winery, Theuniskraal, Montpellier, Saronsberg en Twee Jonge Gezellen. Byna meer as die helfte van die vallei se wynplase is ook gewilde venues, so hou dit in gedagte as jy ʼn troue of ’n konferensie moet beplan.

Saronsberg is ’n spoggerige wynplaas met ’n ryk erfenis. Ons kon dit nie weerstaan om daar in te loer om die indrukwekkende kunswerke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars binne en buite die gebou te aanskou nie! Voeg dit gerus by jou doenlysie as jy Tulbagh kom verken.

Tulbagh-0298

Tulbagh-0306

As jy nie ’n wynliefhebber is nie, kan jy gerus sjokolade proe by Het Land Van Waveren of Oakhurst Olives se bekroonde olywe en olyfolie op die proef stel.

4 (2)

ʼn Handjie vol feeste word jaarliks in Tulbagh gehou. Dit sluit Christmas in Winter, Tulbagh Spring Arts Festival in September, Tulbagh Horse & Wildflower Show in September/Oktober en die Drostdy-Hof Kersmark in November in. Beplan dalk jou wegbreek Tulbagh toe só dat jy by een van dié heerlike feeste ʼn draai kan maak.

Tulbagh - Christmas in Winter thomas Flickr

In 2015 was LekkeSlaap gelukkig genoeg om die Tulbagh Somerkonsertreeks by die tuine in Kerkstraat by te woon ─ dít was nou vir jou ʼn fees. Die laaste konsert vind môreaand plaas, so maak ʼn draai as jy in die omgewing is! Pak jou piekniek-kombersie en kontant in sodat jy van die plaaslike lekkernye op die perseel kan koop.

2

Daar is tans meer as 100 beddens op die dorp, so jy behoort maklik ’n lêplekkie te kry. Ons het dié keer by HomeAway se selfsorgkothuisies in Van der Stelstraat gebly en was veral beïndruk met die gasvrou, Wendy, se hartlike gasvryheid. Sy het ons met ope arms verwelkom en het uitstekende voorstelle vir eetplekke, doendinge en proeplekke in die omgewing gemaak.

home

Die eenhede is lekker ruim met oulike kombuisies, gemaklike beddens en stoepies, en op die perseel self is daar ʼn swembad, Zen-tuin, braaigeriewe, en spa-behandelings op versoek.

Die hoofhuis het slaapplek vir 6 gaste, ʼn groot stoep met ʼn prentjiemooi uitsig oor die dorp en vallei, aparte braaigeriewe én ʼn swembadjie. Boonop kry jy ook afslag op heelwat doendinge en by ʼn paar restaurante in die vallei as jy hier bly ‒ dít was nou ʼn lekker verrassing! Ons kom maak beslis weer ʼn draai!

Ons weet ook van ʼn hele paar ander oulike blyplekke in en rondom die dorp. Besoek ons Tulbagh-blad vir meer lêplekkies.

Avontuur

As jy op soek is na ʼn plattelandse bestemming waar gasvryheid nog eg is, volhoubaarheid seëvier en plaaslike skatte nog nie uitgebuit is nie, sal Tulbagh beslis jou verwagtinge oortref!

Hooffoto’s: LekkeSlaap se amptelike fotograaf, Pieter Wolhüter.