Om te sê Suid-Afrika is een van die mooiste lande in die wêreld klink effens afgesaag vir dié van ons wat soggens hier aan die suidpunt van Afrika wakker word (kliek hier as jy nie met hierdie stelling saamstem nie). Ja, ons weet almal van die Drakensberge, die Panorama-roete, die Blyderivier-canyon, God’s Window, die Wildtuin, die koraalrif by Sodwana, die subtropiese paradys by St Lucia, die Wildekus, die mooiste Kaap, Stellenbosch se wingerde, die Franschhoekvallei, die Waterberge, Namakwaland se veldblomtapyt, Clarence en die kosmosblomme in die Oos-Vrystaat, die ou Karoo se anderwêreldse skoonheid … Maar min van ons besef hoe uniek hierdie land van ons werklik is. Loer ‘n bietjie hieronder en kyk met nuwe oë na Suid-Afrika!

Paul Kruger proklameer ‘n juweel

Paul Kruger het miskien ‘n swakplek vir pruimtabak gehad, maar daar was niks fout met sy toekomsvisie toe hy op 26 Maart 1898 ‘n “Regeringswildpark” geproklameer het nie. Die mosie wat Jakob Louis van Wyk al in 1895 by die eertydse Volksraad ingedien het, het luisterryk ontwikkel tot die massiewe Kruger Wildtuin. Van ál die reservate in Afrika, het die Kruger Wildtuin die grootste verskeidenheid wild – meer as 150 soogdierspesies kom hier voor.

Klein maar getrain

Die Kaapse Blommeryk is die enigste blommeryk wat net binne die grense van een land voorkom. En alhoewel dit die kleinste van die wêreld se 6 blommeryke is, spog dit met die grootste verskeidenheid – sowat 3% van die wêreld se plantspesies kom voor in ‘n omgewing wat net 0,05 % van die wêreld se land-oppervlak beslaan.

Die eerste Wêrelderfenis-tuin

Kirstenbosch is in 1913 uitgelê en in 2004 tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Die mooiste tuin in Afrika beslaan 36 hektaar en kruip teen die suid-oostekant van Tafelberg op. Deesdae kan besoekers ook tussen die boomtoppe wandel op die Boomslang.

Die hemel het ‘n ster laat val

OK, so dit was nie regtig ‘n ster wat meer as 2 biljoen jaar gelede hier geval het nie, maar wel ‘n meteoriet met ‘n deursnee van meer as 5 km. As mens die slimkoppe kan glo, is die Vredefortkoepel die grootste en tweede oudste impakkrater in die wêreld. Dit is ingemoker deur een van die grootste “verskietende sterre” wat al ooit wentelbane met die Aarde gekruis het.

‘n Vetplant vir Dawid én Goliat

Die grootste én die kleinste vetplante in die wêreld kom in Suid-Afrika voor: die kolossale kremetartboom is die grootste en die Karoo se vetplantjies, soos die vygies met die helderkleurige blomme, is die kleinste. ‘n Derde van die wêreld se vetplante groei in die Karoo en 40% van die 4000 spesies wat in hierdie ongenaakbare klimaat floreer, kom nêrens anders in die wêreld voor nie.

Dwergie in ‘n blomtuin

Die Namakwalandse padloperskilpad is die hobbit van die skilpadwêreld. Hierdie dwergie is korter as 10 sentimeter en weeg minder as 165 gram, wat beteken dat dit die kleinste skilpadspesie op dees Aarde is. Dit is nogal moeilik om te glo Homopus signatus is familie van die 250 kilogram reuse wat op die Galápagos-eilande rondkruip!

Dieper as Breyten Breytenbach

Western Deep Levels Skag No. 3 naby Carletonville is die diepste goudmyn in die wêreld. Wanneer die mynskaghysbak tot stilstand kom en die manne met baie murg in hulle pype die donker tonnels van hierdie myn betree, is die aardkors bo hul veiligheidshelms 3,9 km dik!

“3 … 2 … 1 … BUNGEEEEEEEE!”

Bloukrans Bridge Bungy, net ‘n halfuur se ry van Plettenbergbaai af, is die wêreld se hoogste kommersiële rekspringplek (216 meter!). Waaghalse kom van heinde en verre na hierdie brug bokant die Bloukransrivier om hul sfinktertonusse te toets en die noodlot te tart.

Sampioenrookwolke is ‘n slegte idee

Suid-Afrika is die enigste Afrika-land wat self ‘n kernwapen aan mekaar gesit het, maar toe darem ook verstandig genoeg was om dit weer uitmekaar te haal. Trouens, ons is die eerste land wat al sy selfontwikkelde kernwapens vrywillig ongedaan gemaak het.

Die langste wynroete in die wêreld

Roete 62 begin by Montagu en eindig by Humansdorp. Hierdie pad deur die Klein Karoo word beskou as ‘n korter en mooier alternatief tot ‘n gedeelte van die N2, en vir diegene wat hierdie roete al beleef het, is dit bitter moeilik om nie links te draai by die kenmerkende bordjie langs die hoofweg nie. Vrugteboorde, riviere, berge, kranse, volstruisplase en, natuurlik, wynplase (altesaam 70!) versier jou motorvensters langs hierdie pragtige pad.

Weet jy van ander dinge wat ons land uniek maak? Laat weet my vir die opvolg-blog!