Die somer is hier! Ek weet dit voel soos gister toe ons nog die bibberkoue met warmwatersakke, kakao en ekstra komberse probeer afweer het, maar hier in die Kaap is die sonsambrele al uit en in die noorde het die donderstorms die einde van die koue seisoen al ’n hele paar keer luidkeels aangekondig. Miskien is jy ’n wintermens, nes ek, en sien jy op teen die sweet en die hitte? Daar is hoop ─ met ’n yskoue boetiekbier in die hand hoef jy nie te skrik vir Suid-Afrika se legendariese somerson nie!

In dié blog lys ek 10 puik bierproeplekke waar jy die hitte kan hokslaan met behulp van die beste bier in die land.

Wat is boetiekbier?

Craft-bier, of “boetiekbier” in Afrikaans, is bier wat in klein hoeveelhede en met die klem op gehalte geproduseer word. Op die oomblik is daar 55 mikro-brouerye in Suid-Afrika, maar teen die tempo wat hierdie juwele deesdae die lig sien, is ek seker hierdie statistiek is alreeds verouderd. By die meeste van hierdie brouerye kan mens ook aansit vir ’n leersame bierproesessie. Ek het ’n lys van brouerye saamgestel waar jy hierdie somer ’n koue bier kan geniet en ook sommer meer oor hierdie ontluikende kultuur te wete kan kom.

Johannesburg

Gilroy: Laat Steve jou bekendstel aan sy lager, pale aleruby ale en dark ale.

Op die hoek van Beyers Naudé en die R114, Muldersdrift | (011) 796-3020

Beerhouse Fourways: 99 Plaaslike en internasionale biere kan hier geproe word.

1 Sunset Avenue, Fourways | (011) 4652402

Kaapstad

Devil’s Peak Brewing Company: Menige bierliefhebber is van mening dat hierdie brouery tans op die kruin van die boetiekbiergolf is. Hulle King’s Blockhouse IPA (Indian Pale Ale) is die lekkerste bier waaraan ek al ooit my lippe gesit het!

95 Durham Avenue, Salt River | (021) 200 5818

Darling BrewNog ’n rede om Pieter-Dirk Uys se tuisdorp te besoek! Begin met die Slow Beer met sy onmiskenbare heuningnasmaak en eindig met die Black Mist, ’n pikswart, donkergeroosterde ale.

Caledonstraat, Darling | 021 286 1099

Beerhouse on Long: 99 Plaaslike en internasionale biere kan hier geproe word.

Langstraat 223, Kaapstad | (o21) 424 3370

Port Elizabeth

Bridge Street BreweryLex Mitchell het Suid-Afrika se eerste mikro-brouery in 1983 in Knysna gestig. Deesdae kan sy kuns by Bridge Street Brewery geproe word – bestel die Celtic Cross Premium Pilsener in die somer en die Black Dragon Double Chocolate Stout in die winter (en pasop vir die Bowman’s Natural Cider, ’n bedrieglike kalant wat die term “easy drinking” verpersoonlik!).

1 Bridge Street, Port Elizabeth | 041 581 0361

Beer Yard5 Boetiekbiere kan hier geproe word: Jack Black Lager, Boston Brewery se lager, IPA , Naked Mexican en Johnny Weiss.

1 Cooper Street, Richmond Hill | 041 582 2444

Durban

Porcupine Quill Brewing CompanyVat die pad van Durban af deur die Vallei van Duisend Heuwels en vra vir ’n blonde ale, amber ale of ’n English ale ─ jy sal nie spyt wees nie!

Old Main Road, Botha’s Hill(031) 777 1566

Nottingham Road Brewing Company:  Net die beste hops en gars is goed genoeg vir hierdie brouery. Pale ale, lager, pilsner en ’n fris, donker bier word hier met die hand gebrou.

Rawdons Estate, Nottingham Road | (033) 2666 728

Bloemfontein

Kaya BreweriesDie twee biermeesters wat hierdie brouery in 2010 gestig het, is trots op hul Cascade Blonde, Czeck Lager, Mystic Ale en Darkmoon Stout.

Bella Cassa; Seven on Kelner, Aasvoëlklub | 079 796 7975

Clarens BreweryOukei, so Clarens is nou wel bietjie meer as 3 ure se ry van Bloemfontein af, maar as jy eers kennis gemaak het met die boetiekbier in hierdie pragtige dorpie, sal jy vinnig vergeet van die langpad. Begin by die Clarens Blonde, probeer dan ’n Clarens IPA, gee jou Clarens English Ale ’n tydjie om asem te haal, en sluit af met ’n Clarens Stout.

Rosemary Centre, Clarens | (058) 256 1193

Klop dié somer by een van hierdie bakgat bierplekke aan vir ’n gekultiveerde blaaskans!

Hooffoto: Bigstock