’n Romantiese wegbreek kan ’n wonderlike ding in enige verhouding wees, of julle nou 2 weke gekys is of al 20 jaar getroud is. Hoewel ’n spesiale tydjie saam jul liefdesvuurtjie weer kan brandsteek, kan dit ook tot baie stres en gestry lei. Dis hoekom ons in dié blog vir jou 10 wenke gee om te verseker dat die liefde sommer behoorlik blom op julle volgende romantiese wegbreek.

Wenk #1: Verwag maanskyn óf rose, nie maanskyn én rose nie.

Wanneer mens ’n romantiese wegbreek beplan, dagdroom mens dae lank oor al die soentjies en romanse wat voorlê. Tog is dit belangrik om nie té weggevoer te raak nie, want hoewel dinge miskien meer romanties gaan wees as by die huis, moet ’n mens saam kan lag as dinge skeefloop. As jou verwagtinge nie die oorhand kry nie, sal julle albei baie meer ontspanne wees.

Wenk #2: Delegeer.

Tensy jy ’n bekende sanger of koninklike is, gaan enige wegbreek ’n mate van stres, werk en navorsing meebring. Ons beveel aan dat julle take volgens julle sterkpunte verdeel. As jou geliefde byvoorbeeld goed is met getalle, los die begroting in sy of haar hande.

Wenk #3: Kry die regte blyplek.

Bespreek vir julle ’n blyplek met minstens een romantiese element … Wat van ’n Jacuzzi, bederfbad, reënstort, balkon of ’n mooi kaggel? Verder beveel ons aan dat julle ’n selfsorgplekkie bespreek. ’n Mens kan lekker bederf word in ’n hotel, maar dis soms baie meer romanties om saam te kook en ’n hele huisie vir jouself te hê. Boonop is selfsorgverblyf gewoonlik ook baie goedkoper!

Wenk #4: Wees spontaan.

Hoewel dit ’n goeie idee is om dinge soos verblyf en ’n paar maaltye vooruit te beplan, kan ’n bietjie spontaniteit sorg vir hope pret! Vra sommer vir die kelner wat julle ontbyt bedien om ’n paar besienswaardighede aan te beveel en vat dinge van daar af. As julle nog net ’n paar weke uitgaan, is dit ’n goeie manier om te wys dat jy nie skrik vir ’n bietjie onbeplande opwinding nie.

Wenk #5: Vergeet en vergewe.

Dis belangrik om te onthou dat iets waarskynlik gaan skeefloop en die kans is goed dat dit een van julle se skuld gaan wees. Miskien vergeet jy jou beursie êrens of miskien kies jou liefie ’n slegte restaurant. Moenie kwaad word nie, bly kalm en los dit daar (al is dit hóé moeilik). Niemand gaan daarby baat as jy dit later weer noem en oor jou lewensmaat se kop hang nie.

Wenk #6: Fokus bietjie op jouself ook.

Dit blyk dalk teenstrydig met die idee van ’n romantiese wegbreek te wees, maar julle hoef nie elke sekonde van elke dag saam deur te bring nie. Dit kan oorweldigend wees om deurentyd saam te wees, veral as dit vroeg in julle verhouding is. Al gaan jy net alleen winkel toe om melk te gaan koop of die motor vol te maak ─ daardie paar minute alleen kan baie konflik en irritasie voorkom.

Wenk #7: Bly aan die gang.

Daar is verskeie prettige en romantiese doendinge wat die bloed bietjie vinniger sal laat pomp. Gaan klim saam berg, stap ’n ent, swem in die see of ry fiets … Moenie julle wegbreek of vakansie as ’n verskoning gebruik om niks te doen nie. Te min oefening kan maak dat ’n mens meer kort van draad is, en ’n mens wil tog nie baklei op ’n romantiese wegbreek nie.

Wenk #8: Neem baie foto’s.

Onthou jou kamera en neem ’n klomp foto’s. Dis baie pret om elke aand voor julle aan die slaap raak deur die dag se foto’s te gaan en saam te lag oor al die mooi oomblikke wat julle gedeel het!

Wenk #9: Sit dit af!

Ons weet ons het nounet gesê julle moet honderde foto’s saam neem, maar doen dit met ’n kamera, nie jou slimfoon nie. Een van die maklikste maniere om julle wegbreek romanties te maak is om alles uit te skakel wat julle kwaliteit-tyd saam belemmer. Sit jou foon af ─ jou kontak met die buitewêreld kan wag.

Wenk #10: Wat van ‘n bederfie?

Doen iets wat julle nie sommer by die huis sal doen nie. Al is julle begroting hóé klein, beveel ons aan dat julle minstens een bederfie beplan. Trek julle fênsie klere aan en gaan eet by ’n goeie restaurant of koop ’n duur bottel wyn en geniet dit saam met die sonsondergang.

_________________________________________________________________________________________

Hooffoto: Pieter Wolhüter