Kom ons wees eerlik: ‘n glimlag op jou kleintjie se gesiggie is die eerste en belangrikste stap om te verseker dat jy ‘n heerlike vakansie kan geniet. Jou klein engeltjie raak baie vinnig nukkerig in die karstoeltjie en dan sit jy met die gebakte pere. So … hier is 12 wenke waarvan jy móét weet voordat jy die langpad aandurf om drifbuie pens en pootjies te klop.

1. Koel kombersies

Moenie vir boetie en sussie te warm aantrek nie, vat eerder ‘n kombersie saam. Dit sal dan makliker wees om hulle gemaklik te hou as jy net die kombersie oor hulle kan gooi, sonder om met die veiligheidsgordel te sukkel. ‘n Kussing of twee is ook ‘n goeie idee om die swaar koppies wat dut, te sus.

2. Salige sonskerm

Maak seker jy het ‘n sonskerm wat jy in die venster kan plak of sit – só kan jy die somerson se strale stop sit voordat seun en sussa senuagtig word. ‘n Kombers of doek wat jy in die venster vasrol, werk net so goed soos die soort wat jy op die venster plak.

3. Wonderlike wetwipes

Is dit werklik nodig om meer te sê?

4. Sakkie speelgoed

Laat jou kindjie self ‘n sakkie pak met die speelgoed en boeke wat hulle vir die rit wil bring. Dit sal verseker dat hulle goedjies bring waarvan hulle hou en eintlik mee wil speel.

5. Waardevolle water

Bring ‘n waterbottel vir elke kind en plak sommer hul name daarop om ‘n stryery te keer. Kindertjies dehidreer baie vinniger as volwassenes, so dit is belangrik om die waterbottels byderhand te hou. Die proses word nog makliker gemaak as jy ‘n bottel in die hande kan kry wat slegs vloeistof deurlaat as jy daaraan suig.

6. Prettige peuselhappies

Verpak die peuselhappies in individuele houers – jy kan dit selfs met geskenkpapier toedraai (dit sal hulle ‘n bietjie langer besig hou). Hulle sal ekstra opgewonde wees en uitsien na die volgende happie wat hulle ontvang.

7. Kleurvolle padkaarte

Maak ‘n kopie van die roete wat julle gaan volg voor julle in die pad val (merk besienswaardighede langs die pad, dit sal dan makliker wees vir hulle om die roete te volg). Jy kan dit lamineer sodat jy dit weer op pad huis toe kan gebruik. Laat die kindertjies die pad volg met ‘n kleurkryt – op dié manier kan hulle sien hoe ver die pad nog is om te gaan en dit gee vir hulle iets om op te fokus.

8. Vindflessies

Gooi ‘n paar klein items in ‘n fles (skryf neer wat jy daarin gooi), maak die res van die bottel amper tot bo vol met rys en sit die deksel op. Die fles kan in ‘n lekke karspeletjie ontaard – laat jou kleuter die fles en alles daar binne aanskou, noem dan ‘n item op die lys wat hulle dan in die bottel moet vind.

9. Slim skinkborde

Pak ‘n skinkbord vir elke kind in – hulle kan dit gebruik vir eet, inkleur en legkaarte bou. As jy ‘n magnetiese skinkbord het, kan magnete ook as speelgoed dien.

10. Rustige rusplekke

Beplan vooraf waar julle gaan stop, of wees op die uitkyk vir ‘n lekke plekkie met koeltebome en ‘n stukkie gras waar julle vir ‘n paar minute kan speel. Haal boeta ‘n bietjie uit sy stoeltjie uit – so ‘n klein lyfie word baie vinnig moeg. Hou ook jou oë oop vir ‘n hansdieretuin of ‘n klimraam, hulle sal dit baie waardeer.

11. Oulike opnames

Neem jouself op terwyl jy van hulle gunsteling-storieboeke lees, voordat julle vertrek – dit sal jou baie moeite op die pad spaar. Jy kan ook verskeie luisterboeke inpak wat jy dan net in die CD- of kassetspeler sit, of jy kan vir die kleintjies individuele musiekspelers gee met oorfone. Só kan die volwassenes rustig verder ry.

12. Prettige padspeletjies

Daar is so baie speletjies wat jy op die langpad kan inspan om die klein ogies, mondjies en oortjies besig te hou, en baie gesinne het hul eie weergawes en gunstelinge.

* Bingo – Elke kind kry ‘n kaart vol prentjies of woorde van die dinge wat julle langs die pad gaan teëkom (koeie, skape, windpompe, brûe, plaastoerusting, ens.). Hulle merk dan dit wat hulle sien op die kaart af; jy kan selfs vir hulle ‘n beloning gee as hulle ‘n kaart voltooi het. Jy kan die kaarte maklik en vinnig aanmekaar slaan voordat julle vertrek.

* Alfabetspeletjie – Kies ‘n letter en noem dan dinge wat met daardie letter begin (hulle moet dit kan sien).

* Nommerplate – Gedurende die Desembervakansie is daar nie ‘n tekort aan vreemde nommerplate in verskeie streke in Suid-Afrika nie. Besluit op ‘n nommerplaat uit ‘n sekere streek en kyk wie kan die meeste raaksien. (bv. CEY, CA, CBS, ND, GP, ens.)

* Kyk ook hier na nog 10 speletjies wat jy op die langpad kan probeer.

Onthou om nie al jou truuks op een slag uit die mou te laat nie – hou hulle op hul tone.

Laat weet ons watter oulike oplossings jy vir dié penarie het!