Is jy opsoek na oulike idees om jou liefie se voete onder hom/haar uit te slaan? Ons het so bietjie kop gekrap sodat jy nie hoef nie. Hou piekniek in die agterplaas of kook saam. Avontuurlustiges kan saam in die natuur gaan baljaar – daar is ietsie vir almal.

1. Piekniek hou

Of jy nou in jou eie tuin of op ‘n romantiese plekkie gaan piekniek hou – dit gaan alles oor die atmosfeer. Pak ‘n lekker kombers en miskien ‘n paar kussings in. Jy kan self die mandjie pak of jy kan een bestel. Kliek hiér om ‘n paar piekniekplekke te ontdek.

2. Kooklesse as ‘n paartjie

Toets jou en jou geliefde se kookvernuf! Daar is verskeie klasse wat jy kan bywoon en daar is selfs ‘n paar sjefs wat na jou huis toe sal kom om jou ‘n paar nuwe dinge te leer. Jy weet nooit, miskien verbaas liefie jou een oggend met ‘n heerlike tuisgemaakte ontbyt. Kliek hiér vir kooklesse in jou omgewing.

3. Wegbreeknaweek

Wie sal nou nie ‘n heerlike wegbreek as Valentynsbederfie wil kry nie? Al is dit net vir een aand, so ‘n paar kilometer van die huis af. Jy hoef nie ver te gaan nie – die opwinding van in ‘n ander bed slaap is klaar genoeg om die romanse bietjie op te kikker. Besoek ons webtuiste om die perfekte plekkie vir julle te vind.

4. Bootrit met ‘n skemerkelkie

Dit sal voel asof julle filmsterre is wat vir die steelfotograwe wegkruip. Kyk hoe die son oor die see of dam ondergaan met ‘n klinkglasie in die een hand en jou liefie aan die ander.

Kaapstad: Waterfront Charters
Durban: Durban Boat Hire
Oos-Londen: The Sundays River Ferry CC
Knysna: Knysna Charters
Mosselbaai: Romonza
Hartbeespoortdam: Harties Boat Company

5. Stap op die strand

Wat kan nou beter wees as om met die sand tussen jou tone, jou duifie aan jou sy en ‘n roomys in jou hand te hê? Hier is so paar strande wat jy kan besoek.

6. Probeer ‘n nuwe gereg

Ons almal weet ‘n braaitjie is maar die antwoord op meeste van die “wat eet ons vanaand?”-vrae. Gaan probeer dié Valentynsdag iets nuuts – julle vind dalk net ‘n cuisine wat julle nuwe gunsteling word.

7. Spa-behandeling

Laat al julle sorge verdwyn sodat julle net op mekaar kan fokus. Verfris julself met ‘n spa-behandeling sodat julle mekaar verder kan pamperlang.

8. Kyk ‘n vertoning

Bewonder hand-aan-hand die dramatiese kunste op die verhoog. Dit is ‘n hele ander belewenis om ‘n vertoning in lewende lywe te sien as om ‘n fliek op die silwerskerm te kyk.

9. Ysskaats saam

Raak ‘n bietjie aktief en probeer iets nuuts. Of julle nou kan of nie, dit gaan pret wees om saam grasieus oor die ys te gly of altans te probeer. Hier is so ‘n paar plekke waar jy op die ys kan baljaar.

Kaapstad
Johannesburg
Pretoria
Durban 

10. Danslesse

Danslesse is nie net bedoel vir paartjies wat op trou staan nie – sit die tradisie voort en leer saam dans. Of as julle klaar lekker kan langarm, leer ‘n paar nuwe danspassies by. Dit kan lekker wees om uit die huis uit te kom en ‘n nuwe ding of twee met jou liefie aan jou sy te leer.

11. Markies

Wandel hand-aan-hand tussen die lekkernye en oulike gieters en goeters rond, miskien sien jy ‘n pragtige geskenkie waarmee jy jou duifie kan verras.

12. Besoek ‘n wynplaas

Klink ‘n glasie op julle liefde. Miskien hou jy van die fluweelrooi, skitterende wit of die pienkerige skakering hou – daar is iets vir almal op Suid-Afrika se magdom wynplase.

13. Bewonder die sonsondergang

Dit is soos ‘n skildery wat voor jou oë ontvou! Kies ‘n romantiese en rustige plekkie en bestee gehaltetyd saam met jou skattie.

14. Bly tuis

As jy nie kan kies tussen al hierdie Valentynsdoendinge nie, is dit miskien die beste opsie. Bly tuis en gesels, kook, kyk ‘n fliek, pamperlang jou geliefde, sing vir hulle, en enige iets wat jy nog kan optower. Hulle sal dit net soveel, indien nie meer, as ‘n uitspattige afspraak geniet.