Jy het seker al van Napier gehoor? Dié oulike dorpie skuil aan die voet van die Soetmuisberg. Die meeste reisigers ry deur Napier onderweg na Afrika se mees suidelike punt by Agulhas of wanneer hulle op pad is see toe in Arniston. Al het die dorpie ’n ietwat omstrede begin gehad, is dit vandag een van die saligste dorpies wat jy sal teëkom. Danksy Napier se rustige plaasatmosfeer en enorme erwe ─ byna kleinhoewes ─ is dit ’n gewilde bestemming onder moeë stadsjapies wat ’n meer ontspanne en eenvoudige lewe wil ervaar.

LekkeSlaap het in Napier gekuier en al die winkeltjies, restaurante en straatjies gaan verken sodat jy weet waar om stil te hou wanneer jy weer hiér deurry.

Moerse Plaasstal

Wanneer jy die dorp vanaf Caledon binnery, lê Moerse Plaasstal heel eerste aan die regterkant. Manie groet jou met ’n vriendelike “moerse welkom” voor jy tussen die boeke, gehekelde mussies en kunsvlyt begin rondsnuffel. Kom sit aan vir ’n tuisgemaakte Suid-Afrikaanse ete ─ onthou net om vooraf te bespreek! Jy kan ook ’n tuisgebakte vetkoek of pastei vir die langpad koop en heerlike, nie-alkoholiese grenadella-bier om die dors te les. Die melktert is ook ’n definitiewe wenner ─ dis immers hoe Manie se vrou sy hart gewen het! Aan die padstal se agterkant word jy verras met n welige kwekery wat hoofsaaklik uit inheemse plante bestaan ─ los gerus n gaatjie in jou motor vir n plantjie, of sewe!

Pascal’s of Napier

Dié blou gebou staan behoorlik uit in Napier se hoofstraat. By Pascal’s kan jy in die somer lekker buite kuier en in die winter voor die kaggel ontspan. Die spyskaart bied verskeie watertand-opsies: Griekse styl-lamskenkels, slaaie, fynproewersburgers en bierbeslag-vis met tjips. Daar is selfs lipleklekker nagereg, soos crème brûlée, gebakte kaaskoek en crêpes wat met vanieljeroomys gevul is en met ’n tuisgemaakte sjokolade- en fudge-sous, swart kersies en geroosterde amandels bedien word. Jy kan ook suurdeegbrood, rogbrood, broodrolletjies, vrugtekoeke en n klomp ander gebakte lekkernye bestel.

Pascal’s is ook die ideale oornagplek as jy die omgewing kom verken. Omdat dit in die hoofstraat geleë is, is dit boonop stapafstand vanaf al Napier se gewildste kuierplekkies. Daar is sakpas-verblyf in vier eenhede wat elkeen pragtige uitsigte oor die dorpie en op die Riviersonderendberge het. Die welige tuin en die katte, eende en hoenders sorg saam vir ’n plattelandse plaasatmosfeer in die hoofstraat!

Nederduitse Gereformeerde Kerk

Dis vreemd om te dink dat dié dorp nie sou bestaan as dit nie vir ’n onderonsie tussen twee buurmanne was nie. Michiel van Breda en Pieter Voltelyn van der Byl kon in 1836 nie besluit waar om die gemeenskapskerk te bou nie ─ albei die mans wou hê die kerk moes op hulle eie grond gebou word en nie een wou ingee nie. Dis waarom daar vandag twee kerke en dus twee dorpe is: Napier en Bredasdorp. Die indrukwekkende kerk in die hoofstraat is egter eers in 1929 gebou en sedertdien word die oorspronklike kerk as kerksaal gebruik.

Die Feeshuis

Die dorp se oudste gebou staan langs die kerk. Daar is soveel geskiedenis tussen die vier mure dat dit in 1978 tot ’n Provinsiale Erfenisgebied verklaar is. Tussen 1810 en 1820 het die geboutjie as slawekwartiere gedien, waarna dit as ’n wynkelder ingespan is. Dis later vir Sondagskoolklasse gebruik en in 1988 is dit gerestoureer om Napier se 150ste bestaansjaar te vier en is toe die “Feeshuis” gedoop.

Sonwyser

Net ’n straat of twee agter die kerk loop jy nog ’n unieke besienswaardigheid raak. Die tuisgemaakte, vertikale sonwyser is in 1965 deur Danie du Toit gebou. Dié knaap was dalk nie ’n kenner op die gebied nie, maar die beweging van skaduwees het hom glo van kleins af gefassineer. Vandag is dié sonwyser enig in sy soort en dis twee keer per jaar 100% akkuraat op die winter- en somersonstilstand.

Nobunto Candles

n Klein entjie op in die hoofstraat sal jy Nobunto Candles raakloop. Nobunto vervaardig handgemaakte produkte van hoë gehalte, soos kerse wat met die hand geverf is, geskenkkaartjies en herwonne juweliersware. Dié produkte het hoofsaaklik Afrika-geïnspireerde ontwerpe en word met die grootste noukeurigheid gemaak.

Die Sotho-woord nobunto beteken “vir die mense” en dis presies wat dié besigheid se doel is. Die werkloosheidsyfer in Napier is om en by 50% en daarom skep Nobunto hoofsaaklik werk vir vroue uit die minderbevoorregte gemeenskap. Kom kuier by Nobunto en ondersteun die gemeenskap ─ die produkte is ideaal vir verjaarsdaggeskenke en aandenkings!

Napier Farm Stall

As jy op soek is na egte Suid-Afrikaanse trooskos, is Napier Farm Stall vir jóú beskore! Kom drentel tussen die rakke rond en bederf jouself met ’n tuisgemaakte botteltjie konfyt of ’n pakkie tuisgebakte beskuit. As jy wil bene rek kan jy lekker op die stoep onder die wingerdprieel ontspan, terwyl jy aan beesstert, tamatiebredie, of kerrie- en groenboontjie-bredie met rys smul. Soek jy dalk ’n peuselhappie vir die pad? Die plaasstal verkoop ook tuisgemaakte pasteie, vars broodjies, heerlike tertjies en melktert.

Wenk: Die drankies is maar beperk, so bring eerder jou eie saam as jy middagete wil nuttig.

Greta’s Place

Hou jy daarvan om tussen oudhede en versamelstukke rond te snuffel? Soos jy die dorp verlaat, lê Greta’s Place aan die linkerkant. Die oulike plekkie verkoop antiekware, ou linne en tweedehandse Afrikaanse, Engelse en Nederlandse boeke. Kom klop gerus by Greta’s aan ─ die kans is goed dat jy dié winkel met ’n versamelstuk in die een hand en ’n boek in die ander sal verlaat!

Verblyf

Daar is ’n hele rits oulike blyplekke in dié dorp! The Victorian Cow-gastehuis in die hoofstraat is in ’n Victoriaanse styl versier en is net ’n hanetreetjie vanaf al die besienswaardighede en restaurante in die dorp.

As jy op soek is na ’n groot huis vir die hele familie of ’n groep vriende is The Napier Country House perfek. Hierdie ou plaashuis het slaapplek vir tien gaste, asook ’n groot dek en swembad waar julle lekker kan kuier.

Wie weet, 24 uur is dalk net te min om dié dorp van hoek tot kant te verken, so bespreek gerus oornagverblyf in Napier wanneer jy weer die pad see toe aanpak!

Foto’s is deur Daniëlle Terblanche geneem, tensy anders vermeld.

Hooffoto: Adriëtte Le Roux