Om in te pak vir ʼn vakansie is gewoonlik maar ʼn groot pes. Na elke reis maak jy beloftes om volgende keer meer ekonomies te pak, net om volgende keer maar weer in dieselfde penarie te sit! Ek het ʼn paar wenke gaan versamel wat jou sal help om dié tameletjie te vermy.

beplan

Vroue is blykbaar geneig om twee keer te veel te pak! Ek is self skuldig hieraan en is altyd spyt dat ek nie vooraf beplan het wat alles bymekaar sal pas en wat ek werklik gaan dra en wat nie. Die idee dat jy nie veel van ʼn keuse gaan hê vir jou uitrusting vir die dag nie, is ook soms vreesaanjaend en dan pak jy maar ʼn paar ekstras ‘net vir ingeval’. Die geheim is om daai een gemaklike gunsteling-uitrusting in te pak waarop jy altyd kan staatmaak! Kies neutrale broeke of rompe en baadjies of truie, en beperk jouself tot ʼn paar bypassende hemde.

slim

As jou toiletware jou tas ʼn bietjie swaar maak, beteken dit nie noodwendig jy hoef een van jou gunsteling-produkte by die huis te los nie. Versamel klein houertjies, soos dié hieronder, en gooi ʼn bietjie van jou sjampoe, gesigwasmiddel of room daarin. Reisgrootte-toiletware, soos die klein pakkie wetwipes hieronder, is deesdae baie gewild. Koop ‘n paar van hierdie items en spaar jouself baie moeite. Onthou dan ook om alles in digte Ziploc-sakkies te bêre voordat jy dit in jou tas pak – só kan jy ʼn vetterige gemors vermy!

rrol

Dit klink dalk soos ou nuus, maar het jy dié wenk al ooit probeer? Dit werk soos ʼn bom! Dis ongelooflik hoe effektief alles skielik netjies inpas as jy minstens hier en daar ʼn sokkie of ʼn truitjie oprol. Rol sokkies, onderklere en serpies op en druk dit in enige oop gaatjie. Truitjies, hempies en spanbroeke kan ook opgerol word om tussen stapels klere of al langs die kant van jou tas in te pas. Dit voorkom boonop dat jou klere kreukel, nog ʼn reis-nagmerrie wat jy wil vermy.

was

Dís nogal iets wat ʼn mens maklik vergeet terwyl jy inpak. Om te moet onderskei tussen skoon en vuil klere kan lekker lastig wees as jy uit ʼn tas uit lewe, en daarom stel ons voor jy sit dié wenk hoog op jou doen- en paklysie voor jou volgende vakansie. Moet verkieslik nie jou grootste wegloopsak vir dié doel impak nie. Pak sommer ʼn plastiekwinkelsak of ʼn swartsak in. Jy kan dit ook op pad terug in enige oop gaatjie in die motor, sleepwa of in jou tas prop.

beskerm

… of dan nou eerder jou klere. Vuil skoene is, veral na ʼn modderige wintervakansie, ʼn groot pes om in te pak. Jy kan elke paar skoene in ʼn plastieksak bêre, maar dit kan nogal ‘n gesoek tot gevolg hê as jy van skoene wil verander. Oorweeg dit om ʼn stortkeppie, soos die een hieronder, te gebruik om net die sool van jou skoen te bedek sodat dit nie jou klere vuil maak nie. Op dié manier kan jy jou skoene maklik uitken en jouself ophou kwel oor vuil sole!

Dis seker nie werklik nodig om te noem dat ʼn paklysie nogal jou vakansie kan maak of breek nie? Ek het ʼn nuttige lysie vir klere en toiletware saamgestel om jou te help en om jou ʼn goeie aanduiding te gee van hoeveel klere jy wérklik gaan benodig. Kom ons sê jy moet inpak vir ʼn vakansie van 2 weke waar jy, minstens vir ʼn gedeelte van die tyd, in die beskawing gaan wees, maar waar jy nie noodwendig wasgoed sal kan was nie. Jou lysie sal natuurlik verskil as jy op ʼn safari of sakereis gaan. Hier is my voorstel:

Klere

2 (4)

Die belangrikste toiletware is sjampoe, vogroom met sonskerm, lyfseep, tandeborsel en tandepasta, wetwipes, gesigwasmiddel, skeermes, nagroom, lyfroom, grimering en basiese medisyne en pleisters. Onthou om produkte wat jy nie definitief gaan gebruik nie, eerder by die huis te los. Laastens kan jy ook oorweeg om sjampoe en lyfroom met jou reisgenote te deel, sodat elkeen nie sy eie bottel hoef in te pak nie.

suitcase-79018_1280

Daarsy! Nou kan jy jou tas in ʼn japtrap só pak dat jy jouself baie moeite spaar. Laat weet ons as jy nog ander lekke pakwenke het!

Hooffoto: Pixabay.
Grafika: Ankia Wolf.
Laaste foto: Pixabay.