Elke kind se droom word bewaarheid wanneer jou ouers jou verras met ‘n besoek aan die pretpark terwyl julle luilekker vakansie hou. Ek onthou daai opgewondenheid soos gister. Jy hoop en bid dat hulle by die bordjie gaan indraai, maar sê liewer niks. Dan sit pa die flikkerlig aan ─ en net so is jou vakansie gemaak.

Wat pretparke betref is Suid-Afrika nou nie juis so geseënd soos Amerika nie, maar ons het ‘n paar wat definitief die besoek werd is. Ek het ‘n paar uit die herinneringe van my kinderdae gaan haal om vir julle ‘n kitsgids saam te stel van 5 lekke parke in Suid-Afrika wat julle móét besoek.

Ratanga Junction

Julle kan ‘n daguitstappie hiervan maak. Ratanga Junction het meer as 30 besienswaardighede en 23 ritte wat wissel tussen iets vir die adrenalienvraat, iets vir boetie en sussie en iets vir die hele gesin. Die Cobra is baie gewild en die tou krul al om die park vandat die deure oopmaak. Die rit laat jou deur die lug seil teen amper 100 km per uur. Daar is ook stalletjies met lekker speletjies waar jy ‘n prys of 2 kan wen. Verder kan jy by die kosstalletjies sit en die opvoerings geniet. Jy kan hulle skakel by 021 550 8504. Jy kan ook hierbo op die foto kliek om meer uit te vind.

Adventure land

Dié waterpark is op 24 ha in ‘n woud op die Tuinroete geleë, en dit is definitief die besoek werd! Daar is ‘n 75 m supertube, 25 m midi-tube, die Kamakazi en die Stuka. Die Stuka is 12 m hoog en dit voel omtrent of jy vry val voordat jy onder in die water beland met jou bene in die lug. Kindertjies kan ook lekker baljaar met ‘n afdeling van die waterpark wat spesiaal vir hulle ingerig is met ‘n klimraam, waterwurmpie en ‘n vlakkerige swembad. Daar is baie plek om jou handdoek en kombersie oop te gooi en in die sonnetjie te bak.  Bly gerus by Coral Tree Cottages wat op die perseel is. Gaste wat in die kothuise bly, kry vir die duur van hulle verblyf gratis toegang tot die park. Om meer uit te vind oor die park, kliek asb. op die foto of skakel hulle gerus by: 044 532 7869.

uShaka M arine world

 uShaka Marine World is ‘n wêreldklas toerisme- en vermaaklikheidssentrum in Durban. Toeriste van oraloor besoek dié pretpark om ‘n stukkie Suid-Afrika te beleef. Die park het varswater- en seewater-“poele” waarin verskeie visse swem. Gaste kan selfs saam met die visse swem. Die park is versier met ‘n skeepswrak en welige plantegroei wat jou laat voel of jy in ‘n ander wêreld is. Sea World het ‘n ondergrondse akwarium, ‘n dolfyn- en robstadion, waterpark, winkelsentrum, kos- en drankstalletjies en bied toegang tot die strand. Kliek op die foto of skakel 031 328 8000 om meer uit te vind.

Gold Reef City

Gold Reef City is maar net 8 km vanaf die middestad van Johannesburg. Daar is ‘n casino, ‘n teater, speletjies, 4D-bioskoop en verskeie ritte wat jou stembande sal losmaak. Kliek op die foto of skakel 011 248 6800 om meer uit te vind oor die pretpark.

Sun City

‘n Verleidelike casino, fynproewer-restaurante, verskeie sportsoorte, opvoerings, safari’s, teater, speletjies, arkades, perdry, gholf, Valley of the Waves en die Lost City. Sjoe, dis ‘n mondvol. Daar is iets vir almal by Sun City: Jy kan op die waterwurms ry, of jy kan op die rustige tjoep-toer om die eiland dryf. Jy kan ook bloot langs die swembad lê met ‘n mengeldrankie in jou hand of jy kan wandel deur die woud wat die Valley of the Waves omring. Daar is ook ‘n swaaibrug en versteekte grotte en watervalle wat wag om verken te word. Kliek op die foto of skakel 014 557 1000 om meer uit te vind oor die Valley of the Waves-waterpark.

Lyntjie