Mark Twain het destyds gesê: “Om die volle waarde van geluk te kry moet jy dit met iemand deel.” Maar was hierdie Amerikaner met die weglêsnor heeltemal reg? Moet my nie verkeerd verstaan nie – min goed is so lekker soos ’n glas wyn saam met jou geliefde en ’n uitsig oor die bosveld, die eindelose oseaan of die stadsliggies. En wat is dan nou lekkerder as kaperjolle op die strand saam met die kinders en die hond. Dink weer – daar is baie redes om ’n alleenreis te oorweeg! Daag jouself uit!

1. Basta met julle! Hier gaat ek!

Ons almal het daardie één doending of mooi plek wat ons bly ontwyk. Nie noodwendig omdat die beursie kreun nie, maar omdat niemand dit ooit saam met ons wil doen nie. Wat wou jy nog altyd gesien het? Is dit Namakwaland se veldblomme? Die walvisse by Hermanus? Een van Suid-Afrika se Wêrelderfenisgebiede, soos die Wieg van die Mensdom? Pelgrimsrus? Clarens? Die Panorama-roete? Ons land het soveel juwele! Hou op wag vir pa om “ja” te sê, vir ma om die finansiële goedkeuring te gee, of vir die kinders om universiteit toe te gaan. Reël daai reis en bederf jouself ’n slag – môre, oormôre skop jy die emmer en dan het jy nooit gesien hoe ’n luiperd in lewende lywe in die bosveld se ruigtes verdwyn nie.

2. Voëlvry

Absolute vryheid is soms angswekkend, maar dit is áltyd opwindend. Self al is jy nie een van daardie mense wat altyd jou eie kop moet volg nie, kan dit ongelooflik bevrydend wees om ’n nuwe plek op jou eie te ontdek. Is ’n reis waarna jy baie uitgesien het al ooit bederf deur iemand anders se buie en voorkeure? Eet dié keer presies waar en wanneer jy wil, drentel vir ’n uur lank tussen die stalletjies rond sonder om jouself te steur aan enige iemand anders se opinie. Miskien wil jy die hele oggend net vir die see sit en kyk. Of miskien is jy te lui om 05:00 op te staan vir die tiende wildrit van jou bosveldvakansie – lê ’n bietjie laat en vra die ontbytkelner om vir jou ’n sjokolademelkskommel saam met jou omelet te bring.

3. Ontmoet interessante mense

Is jy moeg vir dieselfde gesigte in jou tuisdorp of jou hoekie van die stad? Daar wag miljoene karakters in ander dorpe en stede wat eienaardig aantrek en deur unieke brille na die wêreld kyk. Ongelukkig is dit soveel moeiliker om ’n geselsie met een van hierdie verskynsels aan te knoop as ’n mens in ’n groep of ’n paartjie is – hetsy omdat hulle skaam is of omdat jy en jou geliefde nie kan ophou koer nie. Bespreek ’n kamer in Pofadder, bestel ’n bier by die kroeg en wag vir hulle om met jou te begin gesels. Wie weet, miskien het daai oom met die wilde baard ’n bietjie wysheid vir jou.

4. Kry jou kop agtermekaar

Oorweeg jy ’n loopbaanverandering? Dryf jou huismaat jou teen die mure uit? Vat die pad en kry ’n bietjie perspektief! Soms is ’n mens te naby aan ’n probleem om die oplossing te sien en partykeer moet jy na ’n stil, vreemde plek toe gaan om jou eie stem duidelik te kan hoor. LekkeSlaap weet van kamers aan die bokant van wolkekrabbers met uitsigte oor die stadsliggies en kothuise langs verlate strande waar jy jou kop agtermekaar kan kry.

 5. Alleen hoef nie eensaam te wees nie

Maar wat as die skrywer van The Adventures of Huckleberry Finn reg was? Wat as hierdie uitsig oor Kaapstad vir jou ’n bietjie vaal lyk omdat jy nie vir jou man of jou vrou kan sê “Kyk daar!” nie. Al ooit gehoor van Facebook, Twitter, Instagram en Whatsapp? Neem ’n ekkiekie en plak dit op die web of stuur dit vir jou wederhelf. Danksy moderne tegnologie kan jy self besluit wat jy met wie wil deel. Onthou net om jou slimfoon (en jou laaier!) in te pak en spog ‘n bietjie met daai pragtige uitsig. Dié uitvindsel sal jou sommer ook help om nie te verdwaal nie.

So, gaan soek daai emmerskoplysie wat jy 10 jaar gelede gemaak het – dit lê waarskynlik in die onderste laai van die lessenaar in die spaarkamer onder al die bokse en die stowwerige akwarium. Gaan besoek daai stukkie Suid-Afrikaanse hemel waarvan jy nog altyd gedroom het. Somtyds is alleenslaap LekkeSlaap!