Koring

Die Overberg-streek swel tussen die Hottentots-Hollandberge in die weste, die Riviersonderendberge in die noorde, die Breederivier in die ooste, en die plek waar die Indiese- en Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet in die suide. Dit is die grootste koringproduserende streek in Suid-Afrika en heelwat gars en kanola word ook hier verbou. Te danke aan ywerige boere met moderne masjiene ondergaan die Overberg se eindelose heuwels elke jaar ʼn pragtige gedaanteverwisseling: In die winter en vroeg-lente is die jong koring ʼn neongroen kombers wat plek-plek gelap is met kanariegeel kanola-plantasies en in die somer blink die heuwels soos goud van die ryp koring wat geoes moet word.

Kanola

As ʼn mens in die middel van die somer deur die Overberg se vaal heuwels ry, is dit moeilik om te glo dat bykans ʼn kwart van hierdie omgewing elke jaar in Augustus oortrek is met biljoene kanariegeel kanolablommetjies. Die sade van hierdie pragtige plantjie word fyngedruk om die olie wat daarin skuil, vry te stel. En dié gesonde olie is ʼn belangrike bestanddeel van ʼn magdom produkte waarsonder die samelewing nie kan klaarkom nie – van margarien tot smeermiddels, kerse, lipstiffie en ink. As jy in Augustus met die N2 deur die Overbergse heuwels ry, is dit baie moeilik om jou oë op die pad te hou! Die jong koring se groen en die skelgeel kanola streel jou oë én jou siel, miskien omdat jy onbewustelik besef dat daar genoeg brood en kerse vir die volgende jaar gaan wees?

Walvisse

Dié reuse besoek die Suid-Afrikaanse kus elke jaar tussen Julie en September om te paar en te baljaar. Hermanus spog met van die beste uitkykpunte vir natuurliefhebbers wat wil sien hoe die grootste soogdiere op aarde lyk. Dit is nie eers nodig om uit te vind of ʼn bootvaart jou groen om die kiewe maak nie ─ jy kan letterlik met ʼn roomys in die hand op land staan en kyk hoe noordkapper- en bultrugwalvisse kaperjolle maak en sproeipluime in die lug spuit. Ander kusdorpies in die Overberg wat ook ideaal is vir walviskyk sluit Stanford, Gansbaai, Struisbaai, L’Agulhas, Arniston, Witsand, Jongensfontein en Stilbaai in.

Haaihokduik

Aan die Overbergse kus kan jy van aangesig tot aangesig kom met die oseaan se gevaarlikste vis. Dit maak nie saak of jy elke episode van Shark Week op die Discovery Channel gekyk het nie, niks kan jou voorberei op die adrenalienskok as hierdie vaartbelynde roofvis vir jou grynslag onder die water nie. As jy eers beheer oor jou blaas teruggekry het, sal jy verstom wees oor die vaardige manier waarop ʼn witdoodshaai deur die water sweef. Alhoewel daar heelwat plekke langs die Kaapse kus is waar ʼn mens kan sien hoe hierdie monster ruk en pluk aan ʼn homp vleis, is Gansbaai die beste plek vir hierdie opwindende uitstappie.

Wyn

Asof die koring en die kanola nie mooi genoeg is nie, is daar hier en daar ook groen wingerde wat in netjiese rye oor die heuwels rank. Die winderige kusvlaktes by Elim en Elgin se koel hoogtes het die ideale klimaat vir witwyn, so dit is nie verrassend dat van die beste Sauvignon Blanc- en Chardonnay-wyne in die wêreld hier gemaak word nie. Dit is moeilik om te dink aan beter lafenis vir die siel as ʼn yskoue glasie witwyn en ʼn uitsig wat strek oor die Overberg se eindelose golwe tot by die see.

Bier

Nie ál die graan wat in die Overberg verbou word, word deur broodbakkers aangekoop nie. Bierbrouers gebruik die goue pitte om van die beste craft-bier (of boetiekbier) in die land te maak. Klop gerus aan by Birkenhead Brewery in Stanford vir ʼn bierproesessie uit die boonste rakke! Vyf kunswerke kan hier geproe word: Premium Lager, Pride (Old English Bitter), Honey Blonde Ale, Chocolate Malt Stout en Birkenhead Pilsner. Gaan maak gerus ook ʼn draai by Napier Brewery en kyk hoe die brouers soos goudsmede te werk gaan.

Napier

Napier is vinnig besig om te ontaard in een van daardie plattelandse dorpies wat stadsjapies verlei met bekoorlike winkeltjies, goeie kos en rus. Dit voel soos gister toe hierdie dorpie nog net uit die gebruiklike drankwinkel, kerk en vulstasie bestaan het. Deesdae vlug stedelinge uit die betonoerwoud om te smul aan heerlike geregte by Pascal’s en Napier Farm Stall & Restaurant. Die bierbrouery is gemáák vir koringsapliefhebbers. En dan is daar ook ʼn winkel wat die mooiste lampskerms van brandskilderglas verkoop, Napier All Sorts met sy handgemaakte skaakstelle en versamelstukke. Sluit gerus jou Napier-avontuur af by The Red Windmill, Dee Robinson se puik restaurant net ʼn entjie buite die dorp.

Hooffoto: Atelier Design Studio (Flickr)

Foto’s van Birkenhead-biere met die vergunning van  www.roxannereid.co.za