Het jy al gewonder wat mense van jou sal onthou? Droom jy daarvan om iets standvastigs agter te laat? Iets met jou naam op. LekkeSlaap het gaan loer na agt huisies wat na unieke eienaars vernoem is en sommer op ’n klomp interessante stories afgekom. Sit ’n bietjie jou geskiedenisbril op en lees die agt stories van legendes wie se name in dié huisies voortleef.
Marné Marais, die “heks” van die huis, is op 20 Maart 1966 gebore. Haar lewensfilosofie en huis is kleurvol en gevul met ’n bietjie “Magick”. Dié liewe heks met haar donker bos krulhare beskryf “Magick” as “tegnieke om interne en eksterne energie aan te wend wat ons help om onsself en ons omgewing ten goede te verander”.
Marné noem haarself ’n “gebore gypsy” en reis al haar lewe lank die wêreld vol. Sy woon vir kort tydjies in Zimbabwe en Oostenryk, verken 30 state in Amerika, besoek Kanada, en hou vakansie in Mexiko en Costa Rica. Marné stap die Camino Inca in Peru, leer surf in Nicaragua en word ’n mede-eienaar van ’n hotel in Costa Rica. Haar ontdekkingsreise neem haar tot by The College of Wicca & Old Lore in Denver, Colorado waar sy ’n “Wiccan” word – dis dié dat haar blote teenwoordigheid altyd sorg vir ’n tikkie Magick in Die Heks se Huis.
Na tien-en-’n-half jaar van swerf in die buiteland, reis sy deur óns betowerende land. Sy raak op 3 Januarie 2017 in Sutherland verlief op die dorpie se eerste pastorie. Miskien was dit die voorkoms van dié huis uit 1905, die tekort aan huise wat nie na ’n ster vernoem is nie (die meeste Sutherland se huise het sterrename), óf dalk haar anderwêreldse geloof, maar Marné het tong-in-die-kies besluit om die pastorie te koop en dit “Die Heks se Huis” te doop.
Marné kry drie handlangers en spring onmiddellik aan die werk! Die kothuis is al sedert Augustus beskikbaar vir gaste, die hoofhuis is al vir agt maande onder restourasie en sy het reeds twee aangrensende erwe gekoop om haar besigheid uit te brei.
As jy Sutherland se mooi sterre wil beleef, of soos die eienaar, ’n bietjie met die maan gepla is, besoek gerus Die Heks se Huis. Haar eerste gaste het net een klagte gehad: “Hoekom is daar net 3 besems wat hang teen die muur as ons vier mense is? Watter een van ons moet in die nag by die huis bly as die ander drie rondvlieg?”. Haar aanraking het beslis hierdie huisie ’n bietjie Magick gegee!
Marguerite Jordaan vertel haar ma se storie met trots. Johanna Christina Kersop Nel is op 24 November 1927 gebore. Op die ouderdom van ses jaar word sy met polio gediagnoseer wat haar linkervoet klein en verswak laat, en begin daarom eers op die ouderdom van agt loop. Dié agterstand staan allermins in haar pad en ’n jaar later gaan sy skool toe. Na skool studeer sy aan Rosenhof Kollege in Stellenbosch en word ’n gekwalifiseerde sekretaresse.
Ouma Jossie se Huis se storie begin in 1951 toe Jossie met Koos Jordaan van Matjiesfontein Plaas in Sutherland trou. Jossie noem eers die huisie Kleinbegin ─ dit was klein en die meubels het nie juis by mekaar gepas nie, maar Jorrie, haar oudste kind onthou dat hulle altyd veilig en geborge gevoel het. “Die kombuis was die hart van ons huis” sê Jorrie. “Op haar hoë stoeltjie met haar voete op ’n outydse voetstoeltjie voor die Aga-stoof, was my ma koningin van haar kospotte, huis en gesin” vertel Jorrie. Hy sal altyd die woorde op die kunsketeltjie bokant die stoof onthou: My house is clean enough to be healthy and dirty enough to be happy.
Jossie word later Ouma van vier kleinkinders. Na haar man se dood trek sy dorp toe, maar Ouma se nuwe huis staan altyd oop vir al haar kinders en kleinkinders. Twee van haar kleinkinders kuier só lekker dat hul nie koshuis toe wil gaan nie. Toe dit tyd word vir hoërskool soek dié tieners ’n bietjie meer vryheid en trek wel uit. Ouma Jossie sluk swaar aan dié leë nes en hulle laai sommer gou haar kat en ál haar besittings in ’n motor en vat die pad na die ouetehuis. Ouma Jossie was lekker koppig, en wou niks agterlaat nie.
Na die trek word Ouma Jossie tagtig jaar oud, en haar twee skoondogters reël ’n groot makietie. Ouma het eens gesê sy is nie bitter oor haar gebrek nie, maar sy sou graag nét eenkeer mooi skoene wou dra. Op haar verjaardagkoek was ’n paar pragtige hakskoentjies.
Intussen staan Ouma Jossie se dorpshuis leeg. Die huis gaan agteruit en Ouma Jossie ook. In 2012 moet die familie besluit of die huis opgeknap of gesloop moet word. Besoekers aan Sutherland kan hulle sterre dank want die familie besluit op die eerste opsie en gebruik Ouma Jossie se opgaartalent tot groot voordeel in dié projek: Ou bordjies word versierings teen die mure en artikels uit 1952 se Burger word geraamde nuuskierighede. Vandag spog die ou kombuis steeds met sy oorspronklike muurpapier en haar stoeltjie staan steeds op sy plek.
Op 3 Februarie 2014 sterf Ouma Jossie in die ouderdom van ses-en-tagtig jaar en word langs haar man in die kerkhof begrawe. Sy het nooit die eindproduk van Ouma Jossie se Huis soos dit vandag lyk gesien nie, maar haar gees leef voort in dié kosbare huisie.
“Die lewendige lê op die bed en die dooie staan voor die bed” was een van Ouma Jossie se gunsteling-wyshede. Miskien is dit hoogtyd om gehoor te gee aan hierdie brawe vrou wat nie toegelaat het dat ’n fisiese gebrek haar lewenslus gedemp het nie. Bespreek Ouma Jossie se Huis vir ’n sterrekyk-wegbreek op Sutherland, kuier in haar gesellige kombuis, en vier die lewe net soos sy!
Gys se Huis is vernoem na Jeannette Clarke se pa, Gysbertus Christiaan du Toit, gebore op 31 Oktober 1950. Jeannette vertel vir LekkeSlaap wie Gys was. Gys en sy broer Charl neem in die sewentigs hul pa se vrugte- en groenteboerdery op Rocklands oor. Dié plaas in Ceres waarop Gys se Huis vandag staan, is aangekoop om die familieplaas, De Keur, uit te brei. Gys en sy vrou, Jeanne trek in 1981 Rocklands toe en woon daar saam met hul vier kinders.
Gys was ’n familieman ─ vir hom was dit die lekkerste om sy hele gesin om hom te hê. Hy was ’n man wat maklik kon sê hoe lief hy jou het, of hoe baie hy verlang. As “baas van die plaas” was Gys bekend as ’n werkgewer wat sy werkers met respek en regverdigheid behandel. Hulle was baie erg oor hom, veral dié wat ’n pad van meer as een of twee dekades saam met hom gestap het.
Gys se liefde vir ’n broodjie met eienaardige smeer-kombinasies was op almal se tonge. Informele aandetes (broodjies) om daardie kombuistafeltjie met ’n groot vuur wat brand en die Labrador wat uitgestrek op die vloer lê, is waarna Jeanette die meeste van haar kinderdae verlang.
Na vyf-en-sestig gelukkige jare is Gys in April 2015, na ’n vier jaar lange stryd aan kanker oorlede. Gys se Huis was sy nalatenskap en dit was ’n uitgemaakte saak dat sy gees daarin sou voortleef. Gys se gunsteling-sêding vir wanneer dinge lekker loop is teen hierdie tyd omtrent al net so legendaries soos hy in dié kontrei: “Die saak is reg. Die kind se naam is Witwillem.”
Nabuweyah May sê sy is net ʼn doodgewonde enkelma van Kaapstad, maar as ’n mens bietjie verder uitvra leer mens gou dat daar soveel meer aan haar is.
Nabuweyah beteken “Profesie”, maar sy doop haar tuiste “May se Huis”, want, soos ’n ware Kapenaar, het sy ’n talent om met woorde te speel. Die plaaslike inwoners op Paternoster het ’n pragtige dialek en ’n unieke woordeskat ─ hier sal ’n moeder byvoorbeeld sê “My se kind is stout!”. Vandaar May (My) se Huis.
May het ’n groot hart en groot drome. Sy het ’n hand in die begin van The Kiddies College Pre-School gehad en het al vir twintig jaar haar eie besigheid. Sy het ’n groot liefde vir die see en, soos ons almal, wou sy nog altyd ’n huisie by die see hê. May se Huis is lekker naby die strand en is al vanaf Junie 2017 oop. Nou kan gaste deel in May se droom om op die stoep te sit, na die see te staar, en lugkastele te bou. Maar May se liefde vir die oseaan beteken nie sy maak gereeld haar voete nat nie ─ sy is op haar gelukkigste as sy van die stoep af oor die water uitkyk: “I love the ocean but I cannot even swim properly. Just enough to drown!”
Of jy nou kaalvoet op die strand wil stap, net soos sy op die stoep wil sit, óf dit wil waag om in die see te swem, jy is altyd welkom by May se Huis!
– Yzerfontein, Wes-Kaap
Stephanie Roux vertel vir ons van haar ma, Anna Maria Eksteen van Anna se Huis. Anna is in Stellenboch gebore op 28 Junie 1914 en in die ouderdom van ses-en-tagtig in Julie 2000 oorlede. Sy was op haar dag ’n huishoudkundejuffrou en later lektor aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy staan in 1974 haar plek as vrou vol as Burgemeester van Stellenbosch, dien elf jaar op die stadsraad en kry die ere-titel van Raadsheer. Sy raak betrokke by die ACVV, VLV, die Hospitaalraad, die Bloemhofbond en ’n stigterslid van Huis Horison, ’n oord vir verstandelik gestremde volwassenes.
Anna het geglo dis belangrik om haar huis goed te bestuur, haar gemeenskap te dien en vir haar familie ’n veilige hawe skep. Op haar dag besit sy twee huise, een op Stellenbosch en een op Yzerfontein. As studente woon haar kinders op ’n stadium in die Stellenbosch-huis en die bedelaars wat gewoond was aan “ou-mevrou” se vyf-ster-etes sluk maar swaar aan haar kleinkinders se konfytbroodjies.
Anna se skoonpa, Bertie Eksteen, koop aan die einde van die 1930’s drie erwe in Yzerfontein en hou tot in 1952 in ’n tent vakansie terwyl sy huis op een van die erwe gebou word. Dit word gou ’n kuierplek vir Anna, haar man Lokkie en hul drie kinders. Soos die gesin uitbrei, raak die huis ’n bietjie knap en Anna bou in 1991, teen haar man se wil, nóg ’n vakansiehuis op Yzerfontein. Anna se jongste dogter, Stephanie Roux doop dié huis later “Anna se Huis”.
In Anna se burgemeesterjare vra die Hoër Meisieskool Bloemhof vir haar om, as oudleerder, ’n toespraak te lewer. Sy vertel dat haar klasmaats op skool haar as leerlingraadslid verkies het, maar die onderwysers het weens haar stoute streke beswaar daarteen gemaak. Haar boodskap aan die leerders: “Moenie te swaar dra aan die etiket wat mense om jou hang nie”.
Anna Eksteen se familie het baie by haar geleer, maar die belangrikste stukkie wysheid wat hul altyd van haar sal onthou, is: “Wees spaarsamig met jou oordeel en oorvloedig met jou liefde”. Stephanie en haar gesin eer vandag haar ma se nagedagtenis met Anna se Huis. ’n Kuier in hierdie formidabele vrou se huis is altyd lekker, selfs al eet mens net ’n konfytbroodjie vir aandete!
Anton en Mandi Bouwer, AT se seun en skoondogter, vertel vir LekkeSlaap van Oom AT. Adriaan Johannes Bouwer betree as sestienjarige die arbeidsmark en word ’n baie suksesvolle sakeman. AT besit motorhawens, slaghuise, ’n ingenieurmaatskappy en verskeie ander besighede. In sy sakebedrywighede was hy altyd eerlik en het nooit doekies omgedraai nie.
AT was ook vol lewenslus, baie sosiaal, en het lewenslank kontak met sy skoolmaats, rugbymaats en gholfvriende behou. Hy het ’n klein hartjie gehad en was vrygewig sonder om erkenning te vra. Hy het gedurig vir ganse, hoenders en rondloperhonde gesorg. AT, sy Toyota Venture en sy swart hond was sinoniem op Jacobuskraal in Yzerfontein.
Jacobuskraal het baie na aan AT hart se gelê. Ongeveer vyftien jaar gelede het AT sélf “Oom AT se Huisie” gebou. Hy was hardwerkend en geweldig handig. Die gemeenskap het hom altyd genader vir hulp. Hy was vreeslik trots op sy huisie, het gereeld verbeteringe gemaak en die plek mooi onderhou. Die natuur was nog een van sy groot liefdes ─ die geslotekringtelevisie om die huisie was nie daar vir veiligheid nie, maar om die wild dop te hou.
Met die onverwagse afsterwe van sy jongste seun op ses-en-twintig jaar en later sy vrou Maggie na ’n huwelik van sewe-en-dertig jaar, het AT maar swaargekry. AT se skoolvriendin het sy tweede vrou geword, maar het haar ook aan die dood afgestaan. Dit was baie traumaties vir hom en hy het daarna by sy ander seun en skoondogter gaan bly.
AT se gunstelingliedjie, “Al die Veld”, het selfs in die hospitaal opgeklink waar hy sy besoekers met drankies om sy laaste siekbed onthaal het! Oom AT was baie besonders en Jacobuskraal mis hom nou nog. “Al die veld is vrolik / al die voëltjies sing / al die kriekies kriek daarbuit’/ elke sprinkaan spring” word nou nog by sy huisie gehoor – al wat mens nodig het is ’n bietjie verbeelding!
Bertus Greeff is gebore op 2 Desember 1987 en is tans ’n landboubestuurder. Hy vertel vir LekkeSlaap oor Bertus (sy) Huisie.
Bertus se Huisie skuil op ’n kleinhoewe met die naam Kleyn Wolvegat Plaas in Tesselaarsdal. Sy ouers het dié kleinhoewe agt jaar gelede gekoop. Dit was ’n ou werkershuisie uit die laat 1800’s wat later deur die Greeff-gesin gerestoureer is.
Bertus woon as jong man vir ’n tydjie daarin en sy ouers doop dit “Bertus se Huisie”. Intussen werk Bertus op ’n ander plaas, maar in 2017 keer hy, sy vrou en kinders terug na sy huisie. Hulle stig ook saam ’n Christelike Kampterrein genaamd Hatikvah.
Bertus se Huisie word weereens opgeknap en hulle begin dit uitverhuur. Die Greeff-gesin wil die ander twee werkershuisies op die kleinhoewe ook restoureer en vernoem na Bertus se broer, Gerhard, en suster, Elizma. Hulle sien daarna uit om dié huisies ook eendag te adverteer.
Bertus is ’n plaasmens en wanneer sy sibbe van die Kaap kom kuier sê hy “Hier kom die Kapenaars met hulle puntskoene en noupypbroeke!” As jy een van daai stadsjapies met blink skoene en stywe broeke is, is dit dalk hoogtyd dat jy hierheen wegbreek en kaalvoet op die kleinhoewe rondwandel. Niks is ’n beter kuur vir kantoorkoors as ’n paar salige dae op die platteland nie.
Wollie Burger is Ouma se jongste seun en mede-eienaar van Ouma se Huis. Hy vertel vir LekkeSlaap meer van Martha Aletta Coetzee of te wel “Ouma”.
Martha is op 14 Mei 1915 in Namibië gebore, een jaar na die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Martha beleef tye van swaarkry, maar ook van vernuwing. Haar pa boer op ’n ylbewoonde dorp, water is baie skaars, maar plase het in daardie tyd geen grensdrade nie en springboktroppe vul die gesigseinder.
Hulle trek na Plankieskop waar sy in 1922 as sesjarige die Bondelswarts-opstande op hul plaas beleef. Suidwes se regering gee opdrag dat hul tydelik moet verhuis na Karasburg waar die gemeenskap met groot opwinding met die nuutste tegnologie van die tydperk te make kry ─ twee vliegtuie. Later word dié uitvindsels gebruik om die opstandelinge uit te dryf. “Werkers op die plaas wat deel was van die opstand onthou hoe vliegtuie eers bo in die lug gesirkel het, voordat hulle die ‘eiers’ gelê het wat groot verwoesting gesaai het,” sê Wollie.
In 1923 trek die gesin na Onseepkans. Hiér op die ouderdom van nege sien sy hoe haar suster, Anna, in die Oranjerivier verdrink en in 1925 oorstroom die rivier al hul landerye en verwoes die oes. Na al die terugslae keer hul terug na hul plaas op Plankieskop waar haar broer steeds boer. Gedurende die “Roaring Twenties” beleef haar gesin voorspoedige tye ─ water word geboor, en met ’n donkiekar aangery vir die dorstige stoomenjin. Maar in 1929 slaan die droogte toe en hul verkoop Plankieskop.
Nóg terugslae volg: die Groot Depressie, ’n landswye droogte, en die dood van al hul vee weens krimpsiekte. As agtienjarige in 1933, begin Martha se gesin in ’n riethuis langs die Oranjerivier van voor af. Oorstromings dreig elke dag.
Martha ontmoet vir Frans Burger en hul langafstandverhouding verkort vir altyd toe hulle op 24 Julie 1940 trou, sowat tien maande na die begin van die Tweede Wêreldoorlog. Martha woon op die ouderdom van vyf-en-twintig jaar saam met haar man in Grootdrink ─ ’n gemeenskap van oudsoldate, delwers en transport-ryers in die Noordkaap. Hulle sukkel finansieel weens rantsoenerings en ’n tekort aan goedere gedurende die Tweede Wêreldoorlog.
Sy dien die gemeenskap as bestuurslid van die Vroue-Sendingbond en -Landbouvereniging, en word in hierdie tyd ook die moeder van drie seuns. Volgens Wollie is daar drie dinge wat sy nooit kon bemeester nie: swem, dans en om “nee” te sê.
In 1959 sloop en herbou Martha en haar man die oorspronklike plaashuis wat in die veertigs gebou is en dit word Ouma se Huis. Die plaas behoort vandag nog aan Martha se familie en produseer druiwe vir wyn, rosyne, lusern en pekanneute.
Bespreek Ouma se Huis, beleef die werksaamhede van ’n produserende plaas, en dink ’n bietjie aan Ouma se storie terwyl jy oor die vlaktes tuur. Selfs al kan jy, soos Ouma, nie swem in die sementdam nie, kom sit gerus en peusel aan die plaas se lekker produkte!
Konkreet staan die huisies, en die stories lê tussen die mure. Jy het nou reeds van hierdie legendariese mense gelees, nou is dit tyd om dié geliefde wonings te besoek!
Hooffoto: “Rose Cottage” deur Peter Macky (Flickr)