Suid-Afrika staan bekend as een van die voorste wildkykbestemmings in die wêreld. Ongelukkig veroorsaak ons reputasie as ʼn Groot 5-bestemming dikwels dat van ons mooiste natuurjuwele misgekyk word. Suid-Afrika se kuslyn lê soos ʼn halssnoer tussen Kosibaai en Alexanderbaai. Maar om die kosbaarste edelgesteentes aan hierdie halssnoer te sien, het ʼn mens ʼn duikbril en paddavoete nodig.

1. Sodwanabaai, KwaZulu-Natal

Sodwanabaai se ongerepte koraalriwwe lê in ʼn marienereservaat en skubaduikers kom van heinde en verre om betower te word deur die skouspel onder die see se oppervlak. Ek het besef hoe bevoorreg ons is om hierdie stukkie natuurskoon in ons land te hê, toe ʼn Australiër met (see)sterre in sy oë vir my gesê het ek gaan my geld mors as ek die Groot Barrière-rif besoek. Sodwana is sonder twyfel die koning van al die duikplekke in ons land. Hier duik ʼn mens in die warm Mosambiekstroom saam met walvishaaie, mantarôe, skeurtandhaaie en dolfyne. Wanneer jy omring word deur die kaleidoskopiese kleure van die miljoene visse en diertjies aan wie die riwwe ʼn tuiste bied, is dit soms moeilik om die goue reël van skuba na te kom, naamlik “moet nooit jou asem ophou nie”.

Scuba Diving on a Coral Reef with Tropical Fish

Bespreek sommer nou ‘n chalet by Sodwana Bay Lodge en skakel die lodge vir meer inligting:
035 571 0117
www.sodwanabaylodge.com

2. Aliwal Shoal, KwaZulu-Natal

Hierdie rotsagtige rif naby Umkomaas is veral bekend onder haailiefhebbers. Skeurtandhaaie drom elke jaar tussen Augustus en November hier saam om te paar, en tierhaaie, walvishaaie, mantarôe en dolfyne patrolleer ook die pragtige rif. Die rif is sowat 5 kilometer van die kus af en volgens kenners was dit millenia gelede ʼn reuse sandduin.

Links bo: Klipkabeljou, Derek Keats (flickr) ; Links onder: Anemoonvis, Rob (flickr); Regs bo: Koffervis, Derek Keats (flickr); Regs onder: Anemoon, Santhan Naidoo (flickr)

Kontak Aliwal Shoal Scuba vir meer inligting:
082 800 4668
www.aliwalshoalscubadiving.com

3. Protea Banks, KwaZulu-Natal

Dié rif naby Shelley Beach wemel van die haaie, so jy moet murg in jou pype hê as jy die 7 kilometer lange rubberduck-rit wil aanpak om al die tier- en Zambezihaaie van nader te beskou. Tydens die sardientjieloop (Junie tot Julie) kan jy ook kom kyk hoe die haaie, dolfyne en walvisse bos gaan vir al die kos.

Kontak Dive the Big 5 vir meer inligting:
013 750 1832
www.divethebig5.co.za

4. Avalanche-rif – Port Elizabeth

Soos wat ʼn mens verder suid beweeg verloor die warm Mosambiekstroom stoom en word die water al hoe kouer. Avalanche-rif se oorhange en skeure bied ʼn tuiste vir romanvisse, bruinhottentotvisse en Jan Bruinvisse. Die helderkleurige anemone, seeslakkies en ander ongewerweldes noop heelwat paddamanne om hul kameras saam met hul duikbrille in te pak.

Kontak Pro Dive vir meer inligting:
041 581 1144
083 656 8485
www.prodive.com

5. Haerlem Wrak – Port Elizabeth

Dié fregat is in 1958 gebou en dit is in 1987 laat sink om ʼn kunsmatige rif te skep. Moeder Natuur het die skip oor die jare met pragtige korale en anemone versier, en deesdae wemel die kajuite en gangetjies van die skaamooghaaie, kleurvolle anemone, seeslakkies en ʼn groot verskeidenheid visse.

Kontak Pro Dive vir meer inligting:
041 581 1144
083 656 8485
www.prodive.com

6. Stormsriviermond

Die wêreld onder die Stormsriviermond se oppervlak resoneer mooi met die Tsitsikamma se kuswoud en natuurtonele. Skubaduikers kan hierdie beskermde seegebied met ʼn boot of van die oewer af benader. Onder die water wag ʼn landskap van rooi en oranje korale en anemone, seeslakkies, pylsterte, sandhaaie, en selfs ʼn skeurtandhaai of twee.

Kontak Untouched Adventures vir meer inligting:
073 130 0689
076 959 2817
www.untouchedadventures.com

7. Paquita Wrak – Knysna

Hierdie Duitse skip het in 1903 aan die Knysna Koppe se oostelike kant gesink onder die gewig van ʼn beweerde bedrogspul (die skip is blykbaar vir ʼn aardige bedrag verseker). En alhoewel die soutwater al vir meer as ʼn honderd jaar aan die skip se staal vreet, blink die staalplate nog sierlik in die son en is die ankers ook nog duidelik sigbaar. Benewens al die kleurvolle ongewerweldes, is daar ook ʼn kans dat jy die uiters seldsame Knysna-seeperdjie hier kan gewaar.

Kontak Hippo Dive Campus vir meer inligting:
044 384 0831
www.diveadvisor.co.za

8. A Frame – Simonstad

A Frame is baie gewild onder Kaapse skubaduikers wat nie skrik vir koue water nie. Hoewel die visse wat hier voorkom effens valer is as hul tropiese familielede aan KwaZulu-Natal se kus, is al die ander diertjies wat ʼn mens hier kan sien in helder kleure getooi. Dié duikplek is oortrek van die seesterre, anemone, sponse en veersterre. Die interessante rotsformasies het ook ʼn hele paar grotte en deurswemplekke, en die sonlig wat deur die wuiwende bamboeswoud filtreer, is asemrowend.

Kontak Pisces Divers vir meer inligting:
021 786 3799
www.piscesdivers.co.za

9. Clifton Rock – Kaapstad

Clifton Rock is sowat 100 m van die kus af en spog met ʼn reuse seebamboeswoud wat die sonlig oor die bodem laat speel. Net soos ander bekende duikplekke in die Kaap is die anemone en sponse ʼn lus vir die oog, en daar is baie visse wat deur die seebamboes se lang slierte swem. Moenie vergeet om jou kamera byderhand te hou as jy tussen die reuse rotse van hierdie gewilde duikplek sweef nie.

Kontak Pisces Divers vir meer inligting:
021 786 3799
www.piscesdivers.co.za

Die blogger en sy kollega by Long Beach – Simonstad

Carel van der Colff van Dive Inn CapeTown was so gaaf om vir my en Ankia Wolf, mede-blogger en kollega, saam te nooi op ʼn duikuitstappie in Simonstad. Na jare se Sodwana-duike het dit my ʼn rukkie geneem om aan die koue gewoond te raak, maar daar was heelwat meer om te sien as wat ek verwag het. En my kollega kon ook nie uitgepraat geraak het oor haar heel eerste skuba-ervaring nie – kliek hier vir meer.

Kontak Carel van der Colff vir meer inligting:
084 448 1601
www.diveinn.co.za