Aan die voet van die Langeberge, halfpad tussen Kaapstad en George, staan A Hilltop Country Retreat met ses kamers, méér persoonlikhede en nóg meer styl. Die perseel in Swellendam is stil en rustig, maar nie verlate nie. Die mure is skoon en afgewas, nie afgewater nie. Kunswerke staan rond en bont in elke kamer, maar hier’s jy beslis nie in ‘n vlooimark of langs kitch om ‘n kaggel nie.

Dis hierdie kombinasie van plattelandse sjarme en eggo’s van kunstenaars wat A Hilltop Country Retreat heuwels bó gewone selfsorg-eenhede laat uittroon. Hierdie Norah Jones van geboue verlei jou met eenvoud en eksentriese fokuspunte wat jou in die eerste paar oomblikke laat hunker aan ‘n geliefde wat jy miskien nog nie eers ontmoet het nie, ‘n storie wat nog nie geskryf is nie, of ‘n kinkelkok-resep waarvoor jy nog nét nie tyd gehad het nie. Die gebou self bied kalmte en eenvoud, maar soos die kunstenaar se kwas se laaste haal, en soos Norah se vol lippe die eindnoot volbring, só kry jy nooit genoeg van die besondersheid daarvan nie. En só maak A Hilltop Country Retreat met hul interessante ontwerpe, kleurkombinasies en kunswerke.

A Hilltop Country Retreat se selfsorg kamers is ruim en luuks, beslis meer as ‘n vinnige stopplek om die gejaag van die alledaagse lewe voort te sit. Dis die ideale plek vir toeriste wat ‘n onvergeetlike ervaring bó ‘n doodgewone slaapsessie verkies. Gaste kan van die tuin se vars kruie pluk om tuisgemaakte fynproewersmaaltye op te dis, versoek dat hulle yskaste vir ontbyt met voorraad gevul word, en van die top restaurante in die dorp besoek. Gaste kan ook uitstappies na die Marloth, Bontebok, Grootvadersbosch en De Hoop Natuurreservate onderneem, en hierdie poëtiese pretpaleis dan as basis gebruik. Na ‘n lang dag bied die romantiese koninggrootte-beddens of praktiese enkelbeddens ‘n nagbederf op goeie kwaliteit matrasse met Egiptiese linne.

Die kombinasie van kunswerke en kunssinnige ontwerpe gee aan elke kamer ‘n besondere styl, ‘n anderste lokpunt wat jou aanmoedig om weer te kom kuier. In elke kamer hang unieke, handgemaakte lampskerms, gemaak deur plaaslike entrepreneurs en kunstenaars. Kamer 4 se ogiesdraad-lampskerm skep ‘n landelike gevoel, Kamer 5 se wit hanglampskerm van kralewerk lyk effe aards in teenstelling met die moderne doringbos-lampskerm van Kamer 6. Aandag aan beligting helder gewone areas ongewoon op. Ook elke stort straal sy eie straaltjie anders uit. Vier vierkantige vensterstjies belig die stort in Kamer 2 tot ‘n romantiese donkerte, en Kamer 3 se rustieke waterval-stort met reghoekige vensters vertoon onpretensieus, sonder fieterjasies soos ‘n plaashuis se badkamer.

Vir waarde vir geld is A Hilltop Country Retreat dié plek. Breek weg, word stil en gee jou oor aan die soel klanke en krulhaar-verleiding van dié Norah Jones.

Bespreek vandag nog deur LekkeSlaap om hierdie bestemming te besoek. LekkeSlaap is die eerste volledige Afrikaanse akkommodasie-soek webblad aanlyn en is so trots Afrikaans soos biltong en braaivleis. Ons bied ook duisende ander lekke opsies in Suid-Afrika, soos gastehuise, B&B, selfsorg-eenhede, hotelle, kampplekke en vele meer.