Soos dit hoort, word visvangstories versier met uitings van ongeloof oor hoe groot, sterk en pragtig die magiese vis was wat weggekom het – die vent! Ander stories vertel weer trots van die geveg en die uiteindelike oorwinning – ‘n mitiese verhaal van mens wat dier uitoorlê. Waarlik, ‘n visserman is ‘n avonturier wat leef vir landskappe ingekleur met groot blou hemele en koel watervloere. Meeste kunsvlieghengelaars sal ook saamstem dat, selfs sonder ‘n vangs in hul nette, ‘n dag langs of in die viswater met ‘n vlieghengelgstok in die hand die lekkerste lekker is.

Die hengelaar in Suid-Afrika kom te staan voor ‘n groot keuse visvangstyle weens die land se ryk varswaterbronne wat wemel met vis. Jou oupa se rooi kerriepapblikkie op die damwal, of jou pa se spinnertjies wat Swartbaars terg, sal altyd ‘n wenner bly, maar ander verkies om ‘n kunsvliegie in lang u-vormige luste heen en weer oor die viswater uit te gooi. Kunsvlieghengel is vinnig besig om ‘n gewilde sport onder Suid-Afrikaanse hengelaars te word, gedeeltelik oor die kuns daarvan, gedeeltelik oor die uitdaging, óf net om nader aan die gemurmer van die viswaters te kom. Reënboog- en bruinforel, ‘n uitheemse visspesie wat in koue water en in hoër geografiese gebiede floreer, is onder andere ‘n gunsteling prooi onder vlieghengelaars.

PapaPiper (cropped)

Die dae toe hengel ‘n bloedsport was, is verby, vlieghengelaars geniet eerder die uitstappie vir die avontuur en uitdaging daarvan; om die lyn met ‘n makliker-gesê-as-gedaan swoosh uit te gooi en die kunsvliegie so sag as moontlik op die wateroppervlak neer te lê. Kenners sal jou inlig dat die geheim – die kuns van die vangs – in die heen-en-weer-ritme lê. Die vangs is ook nie alles nie! Om die koue vislyf van die vishoek af te haak, hom op die voorkop “hallo, dankie en totsiens” te soen (natuurlik opsioneel) en te sien hoe die vaartbelynde lyf weer in die dieptes verdwyn, is net so opwindend soos die eerste pluk aan die lyn en skielike ge-tjirrr van die katrol.

‘n Groot verskeidenheid toerusting verlei en bekoor die vlieghengelaar – beginners én gesoute hengelaars gaan mal oor die baie nodige ditjies en datjies van dié sport. Die vlieghengelaar is van kop tot tone gewapen met genoeg toerusting om McGyver skaam te maak. Vlieghengelstokke en spesiale verswaarde lyne (3 altesaam, elk met verskillende diktes en gewig) moet sorgvuldig by die tipe vis en rivier of dam aangepas word. ‘n Vlieghengelaar wat kleiner rivierforel in die vlak stroompies van Du Toitskloof vang se stok- en lynkeuse sal byvoorbeeld verskil van ‘n vlieghengelgstok wat groter reënboogforel in Dullstroom wil jag, of ‘n ander wat Geelvis êrens in die Oranje- of Vaalrivier soek. Kunsvliegies moet sorgsaam volgens die vis se behoeftes gekies word – ‘n tydsame en soms frustrerende proses vir beide die groentjie en die professionele vlieghengelaar. Verskillende tipes kunsvliegies (gemaak van vere, hare, kurk en gare) is beskikbaar om die verskillende fases van ‘n insek se lewenssiklus na te boots: Droë kunsvliegies, soos die eendagsvlieg en watermot, dryf op die wateroppervlak om visse van bo af te flous. Nat kunsvliegies maak insekte en ander kossoorte wat net onder die wateroppervlak gevind word na, terwyl die papie-seleksie (Nymph), wat dieper as die ander sink, die gewildste kuns-aas is vir forel omdat dié visspesie 80% van die tyd onderwater jag.

Vir die kunsvlieghengelaar is die hele Suid-Afrika ‘n speelplek, met viswater naby aan verskeie stede vir naweekhengelaars en beginners, of ernstiger water vir die wat ‘n groter uitdaging soek. Suid-Afrika se ryk waterbronne sorg vir legio opsies, wat soms oorweldigend kan wees, so LekkeSlaap maak dit graag vir jou makliker om jou kunsvlieghengelavontuur te beplan:

Wes-Kaap

Lakenvlei dam, in Ceres, is die provinsie se grootste dam waar lekke grootte reënboog- en bruinforel net wag om gevang te word.

Die reënboogforel in die stroompies van Du Toitskloof – net ‘n uur van Kaapstad af – is baie lief vir droë vliegies.

Elansdspad, Smalblaar, Holsloot en ander stroompies aan die Worcester-kant van Paarl beloof ook pragtige klein reënboog- en bruinforel.

Mpumalanga

Die Highlands Meander is ongetwyfeld die forel-mekka van ons vlieghengelbedryf. Die sonderlinge Dullstroom is ons vernaamste en gewildste vlieghengelhemel en net ‘n halfuur se ry van OR Tambo Internasionale Lughawe af. Gedurende die wintermaande kan jy pragtige forel hier inkatrol.

Oos-Kaap

Gooi jou lyn uit in Rhodes se kleiner stroompies of groter riviere, of verdrink bloot in die majestueuse Drakensberg-uitsigte wat jou omring.

Noord-Kaap

As jy iets anders as forel wil vang, is die Oranjerivier se geelvis dalk net die ding.

Vrystaat

Staan middellyfdiepte in die groot bruin waters van die Vaalrivier net buite Parys en wag dat ‘n geelvis met jou lyn begin hardloop.

Vertel ons gerus waar is jou gunsteling vlieghengel plek.

Vlieghengel colage 2

Video: http://www.youtube.com/watch?v=sqDOjzi7Vvk

Hooffoto: Bo: Mike (flickr). Links onder: Adam Grace (flickr). Regs onder: Historias Visuales (flickr).