Die LekkeSlaap-span het onlangs by Baruch Gastehuis gaan inloer, ‘n gastehuis met baie interessanthede en stories!

Baruch, ‘n Hebreeuse woord wat “seëning” beteken, is die geesteskind van Natalie Scheepers van Stellenbosch wat drie jaar gelede haar huishulp, Rosie, se potensiaal raakgesien het as ywerige bestuurder en huishoudster. ‘n Jaar later is ‘n ou huis omskep tot ‘n gastehuis met ‘n Franse styl met iets Boheems en iets uit Afrika! Nog twee jaar later is Baruch een van die mooiste gastehuise in Stellenbosch met plaaslike én internasionale gaste.

Die meubels is ‘n mengelmoes van style, wat saam gerangskik is om jou uit te lok om herhaaldelik na dieselfde gangetjies, klippies, bakke en lampe te staar. Elke lamp in elke kamer het sy storie; dié een is in Mexico gekoop en daai een waarskynlik langs ‘n hoofpad.

Elke kamer, hoewel eenders geprys, bekoor gaste met ‘n tema waaroor nóg stories geskryf kan word. Die Rose-kamer is vernoem na Rosie, die bestuurder. Die kamer is geïnspireer deur Rosie en haar gesin wat mettertyd by die bestuurspan van Baruch aangesluit het. Rosie se dogter, Samantha, en dié se man, Daniël, werk vandag hier as skoonmaker en tuinwerker.

Die Polkadot-kamer is die eienaar se liefdesverklaring vir kolle. Die beddegoed en fyner afwerkings in die kamer is stylvol bekol sonder dat dit uitspattig voorkom.

Room With A View is die kamer met die mooiste uitsig oor die tuin en Simonsberg. Die tuin het ‘n swembad en sitplekke vir warm dae. Die leeskamer met antieke meubels en ‘n ouwêreldse gevoel sal ‘n wenner in die winter wees.

Mexico, die vyfde kamer, is geïnspireer deur Frida Kahlo se vrye kunstenaarslewe en liefde vir swaar, ryk kleure.

Hoewel die kunstenaar van die meeste skilderye Natalie se ma is, is die meeste items in antieke winkels en vlooimarkies opgespoor. Die bakke aan die een kant van die ontbytkamer kom uit Marokko vir ‘n onverfynde Afrika-gevoel, terwyl die teenoorstaande sitkamer-hoekie eg Frans voorkom; die skildery met pers Italiaanse roomys het as inspirasie gedien om hierdie lokaal met koejawel-kleure te tooi. Dis dié interessante kombinasies én die gemoedelike atmosfeer wat saam met die reuk van varsgebakte beskuit jou opgewonde maak oor die seëninge van die lewe en die stories wat agter elke hoek en draai wag om vertel te word.

En buite? Dié foto’s vertel die storie soveel beter:

IMG_2886 IMG_2891 IMG_2892 IMG_2903 IMG_2919 IMG_2911 IMG_2927 IMG_2932 IMG_2947 IMG_2953 - Copy (2) IMG_2956 - Copy IMG_2898 IMG_2901 IMG_2881 IMG_2926

Vir verblyf en baie meer stories oor die nederige bestaan van dié top gastehuis in Stellenbosch, besoek Baruch Gastehuis. Bespreek sommer vandag nog deur LekkeSlaap.