Seemonsters, sirenes en ’n plat wêreld ─ dit was beslis nie maklik om in die Middeleeue ’n matroos te wees nie! Suid-Afrika se 3000 kilometer lange kuslyn was tydens dié tydperk ook taamlik onbekend en die ruwe rotse en sterk seestrome het menige seevaarder se vernuf tot die uiterste beproef. Meer as 200 skepe het al deur die jare aan die Suid-Afrikaanse kus skipbreuk gely en drastiese stappe was nodig om te verseker dat matrose veilig voet aan wal kon sit. Daarom is 45 vuurtorings sedert die 1800’s teen Suid-Afrika se kus opgerig wat vandag steeds die donker verlig.

LekkeSlaap het na tien vuurtorings al langs ons land se kus gaan loer en vertel jou ook van ander lekker doendinge in die omgewing sodat jy dié bakens as deel van ’n welverdiende naweekwegbreek kan besoek!

1. Kaap Columbine

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Columbine-skip wat in 1829 hier skipbreuk gely het.
Ligging: Bo-op Castle Rock in die Kaap Columbine Natuurreservaat net buite Paternoster aan die Weskus
Opgerig: 1936
Hoogte: 15 m

Die Weskus se woeste waters het deur die jare talle skepe opgeëis. Volgens legende het die Portugese skip SS Lisboa, wat in 1910 hier gestrand het, se groot port-vrag die see tydelik dieprooi gevlek ─ ’n vuurtoring was dus broodnodig!

’n Besoek aan die Kaap Columbine-vuurtoring is ’n lekker uitstappie vir die hele gesin en ’n piekniekmandjie is ’n móét!

Paternoster is ook bekend vir:

* Smullekker kreef by Noisy Oyster
* Die At Botha-kunsgalery
* Watersport, soos kajakvaart en visvang

Jy het ten minste ’n naweek nodig om al dié pret en plesier te beleef. So, laat die Weskuspad jou tot by Paternoster lei en slaap in Weskus-weelde by:

Paters Haven BnB & Self-Catering | Sandals | De Linden Boutique Guesthouse

2. Dasseneiland

Kitsfeite

Naam: Vernoem na al die dassies wat hulle op dié eiland tuisgemaak het.
Ligging: Dasseneiland Natuurreservaat in die Atlantiese Oseaan, sowat 10 km vanaf Yzerfontein aan die Weskus
Opgerig: 1893
Hoogte: 28 m

As die noordwester begin waai word die Weskus stormagtig en Dasseneiland is ’n groot skeepsgevaar. Verskeie skepe het al hier op die rotse geloop en daar is twee skeepswrakke, RMS Windsor en MV Southern Author, wat duikers kan besoek. Dié eiland wemel ook van dassies, pikkewyne, wit pelikane en ander seevoëls, asook noordkappers en krewe wat dikwels om die eiland te siene is ─ daarom word die eiland deur die Kaapse Natuurbewaringsraad beskerm. Daar is ook ’n museum op die eiland waar jy meer oor Dasseneiland se geskiedenis kan leer.

’n Daguitstappie na die Dasseneiland-vuurtoring is baie opwindend en jy sal beslis in Yzerfontein moet oorslaap na ’n dag in die Weskusson. Dié vissersdorpie is ook bekend vir:

* Wandel op die Sestienmylstrand
* Skilderagtige Weskus-sonsondergange
* Vars seekos

So, waarvoor wag jy? Bespreek sommer nou ’n naweek in Yzerfontein by een van dié mooi plekkies:

Zabdiel Units | Kaijaiki Country Inn | Swept Away Guesthouse

3. Groenpunt

A post shared by Scott Moore (@scotttgram) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Kaapse buurt, Groenpunt.
Ligging: Op die grens van Groenpunt en Mouillepunt in Kaapstad
Opgerig: 1824
Hoogte: 16 m

As die mis soos ’n wolkombers oor Tafelbaai kom hang, trek ’n matroos se keel toe. Maar dan hoor hy die dowwe gedreun van die Groenpunt-vuurtoring se mishoring en weet presies hoe om die hawe veilig binne te vaar. Dié bekende baken lyk soos ’n kerskierie-lekkertjie en is die oudste werkende vuurtoring aan Suid-Afrika se kus. 

A post shared by Jeanie Morkel (@jeaniemorkel) on

Dié vuurtoring is naby Seepunt se promenade en vorm deel van verskeie verkenningstoere in en om die Kaapse middestad wat ook besoeke aan die volgende wêreldbekende plekke insluit:

* Die geskiedkundige Kasteel die Goeie Hoop
* Die V&A Waterfront met ’n rits restaurante en winkels
* Toweragtige Tafelberg

Jy het beslis meer as ’n dag nodig as jy die Groenpunt-vuurtoring en die omliggende omgewing wil verken, so bespreek gerus ’n paar aande by een van die volgende plekke wanneer jy weer ’n draai in die Moederstad maak:

7 Sunhil Terrace | Kingslyn Boutique Guesthouse | Bluegum Hill Guesthouse

4. Slangkop

A post shared by Filip Kiss (@filip.kiss) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die rotse se vorms op die berg bo die vuurtoring.
Ligging: Slangkoppunt in Kommetjie, Kaapse Skiereiland
Opgerig: 1919
Hoogte: 33 m

In 1900 het die stoomskip, SS Kakapo, teen sononder in ’n egte Kaapse storm, met mag en mening op Chapman’s Peak afgepyl omdat die kaptein dit met Kaappunt verwar het. Dié skip het tot op Noordhoek se strand geploeg en die bemanning het bloot afgeklim. Die Slangkop-vuurtoring sou waarskynlik dié teëspoed kon keer as dit toe al opgerig was.

Vandag is dit die hoogste vuurtoring in Suid-Afrika en jy kan dit al van Ou Kaapse Weg af sien. Dié Victoriaanse vuurtoring vorm deel van die Tafelberg Nasionale Park en daar is ’n houtpaadjie wat al langs die strand tot by die vuurtoring lei. Jy kan ook teen ’n spiraaltrap in die vuurtoring opklim tot by ’n balkon met die mooiste uitsig oor die Kaapse Skiereiland ─ dis die ideale uitstappie vir die hele gesin!

A post shared by Arizda Rothmann (@arizda_) on

Kommetjie bied ook ander doendinge, soos:

* Branderplankry by Kommetjie se gewilde Long Beach
* Hou seevoëls dop by die Kom
* Wandel na die SS Kakapo-wrak op die strand tussen Kommetjie en Noordhoek.

As Kommetjie ’n bietjie ver van jou huis af is, reël sommer ’n naweekwegbreek by een van dié blyplekke sodat jy genoeg tyd het om die omgewing behoorlik te verken:

Otters’ Rest Self-catering | Greenways Beach House and Cottage | Four Seasons B&B

5. Danger Point

A post shared by @sisi2sisi on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die gevaarlike en versteekte rotse teen die kus.
Ligging: Gansbaai, Overberg, Wes-Kaap
Opgerig: 1895
Hoogte: 17 m

Lank, lank gelede voor Gansbaai bedrywig was, toe die pad na Hermanus byna onbegaanbaar was en Kaapstad bitter ver was, het die Suid-Kaap se verraderlike en rotsagtige kus ten minste agt skepe die onderspit laat delf. Volgens legende is die Vlieënde Hollander-spookskip ook die eerste keer hier opgemerk. Vandag strek die Danger Point-vuurtoring se ligstraal verby Dyer-eiland in die verte om matrose teen die gevaarlike kus te waarsku. Soms kan mens ook HMS Birkenhead, wat in 1852 hier gestrand het, se wrak bo van die vuurtoring af sien.

A post shared by Wolfgang Frank (@alweerwolf) on

Gansbaai is ook ideaal vir:

* Haaihokduik
* Walviskyk
* Skubaduik

Na ’n lang dag in Gansbaai se water kan jy hiér gaan rus:

Whale n Shark Accommodation | Nell’s B&B | Oom Piet Akkommodasie

6. Kaap Agulhas

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Portugese woord vir “naalde” wat na ’n kompasnaald verwys.
Ligging: Agulhas Nasionale Park in Kaap Agulhas, Wes-Kaap
Opgerig: 1849
Hoogte: 27 m

Op Suid-Afrika se mees suidelike punt, waar verskeie skepe na die oseaan se grafkelders gesink het, waak ’n rooi Pharos. Dié gewilde vuurtoring is tot Nasionale Monument en as ’n Wes-Kaapse Erfenisgebied verklaar. Dit is die enigste vuurtoring met ’n museum, restaurant en geskenkwinkeltjie in die gebou. 

Die Agulhas Nasionale Park sal jou en jou kinders ook ure lank kan besig hou met doendinge, soos:

* ’n Staproete na die Meisho Maru-skeepswrak
* Voëlkyk
* Visvang

As jy nog nie by dié beroemde vuurtoring was nie, moet jy beslis ’n plan maak en dan sommer daar naby oornag sodat jy genoeg tyd in die Agulhas Nasionale Park kan deurbring. Hier is ’n paar opsies:

Beachcombers | Cape Agulhas Guest House | Paddatjiesrus

7. Seal Point

A post shared by Duck Shots (@duckshots4) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die area, Seal Point, waar die vuurtoring opgerig is.
Ligging: Net buite Kaap St Francis, Oos-Kaap
Opgerig: 1878
Hoogte: 27,75 m

Die dodelike twee kilometer lange rotsstrook teen Kaap St Francis se kus het deur die eeue heen talle skepe gekelder. In 1690 het die Oos-Indiese skip Noord op die rotse geloop en daarna het skepe soos Queen of the West, Hope en L’Agile dieselfde lot getref. Selfs nadat die vuurtoring opgerig is, het Lady Head in 1959 naby die Kromriviermond gesink. Volgens legende het dié skip ’n groot vrag swane aanboord gehad wat die ramp oorleef het en vandag is die Kromrivier-swane ’n gewilde besienswaardigheid in die omgewing. 

A post shared by Cathryn Hempel (@cathrynhempel) on

Kaap St Francis is ook ’n lekker bestemming vir:

* Die Chokka Trail-staproete
* ’n Besoek aan SANCCOB se seevoëlrehabilitasiesentrum
* Branderplankry in St Francisbaai

Na ’n dag in die warm Indiese Oseaan kan jy salig by een van dié oulike plekke gaan rus:

134 On Da Gama | Cape St Francis Resort | Seascape

8. Kaap Recife

A post shared by Lee vd B (@geckogazer) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Kaap Recife Natuurreservaat waarin die vuurtoring opgerig is.
Ligging: Kaap Recife Natuurreservaat, Port Elizabeth, Oos-Kaap
Opgerig: 1851
Hoogte: 28 m

By Algoabaai se suidelike punt krul die mis dikwels so dik dat jy nie jou hand voor jou oë kan sien nie en die enigste redding is ’n ligstraal wat deur die newels swiep. Dié vuurtoring waarsku seevaarders teen die dodelike Thunderbolt-rif ─ ’n string rotse wat na die HMS Thunderbolt-stoomskip vernoem is wat op ’n wolklose dag in 1847 op die rotse geloop het. Die Kaap Recife-vuurtoring se waarskuwings het egter ook al op dowe ore geval toe die Duitse stoomskip Itzahoe net voor die Tweede Wêreldoorlog uit die niet verskyn het, reguit op die vuurtoring afgepyl het en haar teen die rotse te pletter geloop het.

A post shared by Bishneen Ackerdien (@101_bish) on

Die Vriendelike Stad bied oneindig baie om te sien en te doen, soos:

* n Besoek aan die Kragga Kamma Wildpark
* Baywest Mall wat die hele gesin sal besig hou
* Lieflike strande, soos Somerstrand, Blouwaterbaai en Hobiestrand

So, as jy weer in die Baai gaan kuier, maak gerus ’n draai by die Kaap Recife-vuurtoring, verken die stad en bespreek ’n paar nagte by een van die pragplekke:

Hacklewood Hill Country House | Villa Casa Guest House | Urban Manor B&B

9. Great Fish Point

A post shared by Jeanne Parbhoo (@randomminutes) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Groot Visrivier in die omgewing.
Ligging: Port Alfred, Oos-Kaap
Opgerig: 1898
Hoogte: 9 m

Inwoners verwys gereeld na die Great Fish Point-vuurtoring as die “rooikop knaap in die tuxedo”. Dié vuurtoring is een van die kleinstes in Suid-Afrika, maar waarsku matrose al jare lank teen die vlak riwwe noordoos van die baken waar skepe soos Waterloo, SS Kilbrennan en SS Caribou al gestrand het. Die vuurtoring staan bo-op ’n koppie en as jy daarvan hou om heuwels uit te klim, sal jy met ’n ongelooflike uitsig oor sandduine, die Indiese Oseaan en ongerepte kuslyn beloon word.

Port Alfred is ook ’n immergewilde vakansiedorpie met heelwat doendinge en besienswaardighede, soos:

* Beachcomber-perdritte
* Die Steve Biko-sentrum
* ’n Topgholfbaan

So, as jy vanjaar ’n besoek aan Port Alfred beplan, maak seker dat dié doendinge op jou lysie is en bespreek vroegtydig verblyf by:

A Villa de Mer Guest House | Coral Guest Cottages | Settler Sands

10. Umhlanga Rocks

A post shared by Nicole Mills (@nixmills) on

Kitsfeite

Naam: Vernoem na die Zoeloe woord vir “riete”.
Ligging: Umhlanga, KwaZulu-Natal
Opgerig: 1954
Hoogte: 21 m

Dié vuurtoring waak oor Durban se hawe en KwaZulu-Natal se kusgordel vol onvoorspelbare seestrome wat selfs geankerde skepe op die rotse kan laat loop. Dit is een van die gewildste vuurtorings in Suid-Afrika en heet skepe aan die Ooskus welkom. Die Umhlanga-vuurtoring se prentjiemooi voorkoms is definitief ’n besoek werd. 

A post shared by Kevin Kisogloo (@kisogloo) on

So, wanneer jy weer in Durban vakansie hou, gaan neem ’n paar foto’s van die vuurtoring en

* Hou ’n strandpiekniek
* Bou ’n paar sandkastele
* Swem in die louwarm Indiese Oseaan

Na ’n paar uur in Durban se warm klimaat kan jy gerus by een van dié plekke ’n uiltjie gaan knip:

Chartwell Guest House | Kites View Bed and Breakfast | D3 Sea Lodge

Die meeste Suid-Afrikaanse vuurtorings waak al meer as ’n eeu soos verkeersbeamptes oor ons mooie kus. So, as jou vakansiewiele volgende keer na een van dié kusdorpe toe draai, maak seker dat ’n uitstappie na een van dié bakens boaan jou doenlysie is!

En as jy meer oor die skeepswrakke wil weet, kliek gerus hier.

Hooffoto: 22 Sea Lodge (LekkeSlaap)