Deesdae kan jy nog net seker wees van 3 dinge: 1) Suid-Afrikaanse meisies is die mooiste meisies in die wêreld; 2) jou eie ouma se melktert sal enige ander ouma se melktert ore aansit; 3) beurtkag is ʼn pyn in die alie.

Wat nou gemaak as beurtkrag jou moed laat sak en jou roetine ontwrig? Die duisternis is hier om vir ʼn geruime tyd te bly – dis nou maar ʼn feit soos ʼn koei (as jy die koei in die donker kan sien).

In die dag ly jou werk daaronder of, as jy gelukkig is, het jou werkplek ʼn kragopwekker om te verseker dat jou produktiwiteit nie gepootjie word nie. Maar hoe dan gemaak as beurtkrag die vonk uit jou naweekplanne steel of saans die lig van jou leeslamp uitdoof?

Stap 1: Blameer Eskom. Afrikaans is ʼn kreatiewe taal met allerlei kleurvolle woorde wat as prefiks vir “Eskom” gebruik kan word. (Vermy egter dié nuutskeppings op sosiale media as jy jou frustrasies die kuberwêreld wil instuur.)

Stap 2: LekkeSlaap het aan ʼn paar doendinge gedink om jou besig te hou in die donker. Of jy ‘n alleenloper in ʼn modieuse ateljeewoonstel is, of ʼn ouer van 6 en in ‘n woonbuurt in Bloemfontein woon, LekkeSlaap sal jou wys dat daar lig aan die einde van die tonnel is …

Stories soos in die oudae

Bennie Boekwurm het altyd gesê “stories is my lewe!” En dis waar: stories kan jóú ook in die donker aan die lewe (of aan die bewe) hou. Dink net hoe jy en jou gesin of vriende mekaar kan laat ril met spookstories – nes jou voorsate dit gedoen het. 

Lights, camera … skootrekenaar!

Laat ek nou maar die wonder van ʼn skootrekenaar en sy kragtige battery besing: Al die vermaak wat ʼn film op die 14″- skerm in die donker kan bring maak dit dit sekerlik een van die gewildste doendinge gedurende beurtkrag. Natuurlik doen selfone en tabletrekenaars ook die truuk, maar ʼn skootrekenaar kan meer as een persoon op ʼn slag vermaak.

Ja, die hele wêreld word stil, en luister in die donker uur …

Speel jy ʼn musiekinstrument of wou jy nog altyd een leer speel? Beurtkrag bied jou die kans om jou vingers, longe of stem in te span. Buitendien, wat is meer romanties as ʼn kers, ‘n kitaar en ʼn glasie wyn? En baby … die musiek is nooit te hard nie.

Korrespondensie uit die oudedoos

In die tyd van kuberklets het ons die vreugde van ink op papier vergeet. As jy nog altyd ʼn verhaal wou neerpen … steek ‘n kersie aan en verloor jouself in hierdie suiwer vorm van kreatiewe uitdrukking. Wees dan sommer ook uit die oudedoos en pen ʼn briefie vir jou liefie neer – as jy nou regtig móét, kan jy dit altyd later skandeer en vir haar per e-duif stuur.

Wees ‘n geleerde en ‘n jintelman … lees ‘n boek

Siende dat beurtkrag vir bykans 2 ure op ‘n slag toeslaan, het jy genoeg tyd om uiteindelik weer ʼn boek te lees. Kerslig is dalk net te flou om by te lees, maar leeslampies wat met batterye werk, is volop en goedkoop. Deesdae is lesers ook gaande oor e-leestoestelle, soos Kindle of tabletrekenaars, wat nie ophou werk as Eskom “ligte uit!” sê nie.

Vlerksleep in die donker

As jou huis so skielik donker is in die nag, is dit die perfekte tyd vir ‘n “date night”. ‘n Lekker aandjie saam met jou liefie hoef nie noodwendig te luuks te wees nie. ‘n Rustige kuier voor die braaivleisvuur, of met ‘n kaasbord met  koekies en ‘n vol wynglas sal jou die Don Juan van die buurt maak.

Kap ‘n braaitjie, pappa!

As daar nou een ding op die lys is waarvoor ʼn mens nie ‘n verduideliking of die verskoning van beurtkrag nodig het nie, dan is dit ‘n lekker braaivleisvuur.

Produktiwiteit is baas

As die krag af is en die stilte van die stad in jou ore skree, is dit nie moeilik om steeds produktief te bly nie. Skootrekenaars, tabletrekenaars en ʼn pen en papier is die personifikasie van David Hasselhoff in ‘n rooi swembroek wat tot jou redding sal kom. Rugsteun (backup) egter maar gereeld die dokumente op jou rekenaar, net vir die wis en onwis.

Wat van ‘n speletjie?

As die kroos verveeld is, is die versameling van bordspeletjies onder in die kas net die antwoord. Ander speletjies soos “Donkerkamertjie” sal hul ook vir ure besig hou. As jy die jongspan regtig wil vermaak, gee vir een ʼn flits en laat die ander skadupoppe teen die muur maak – dis moeiliker as wat jy dink, maar hope pret.

Check daai lyfie!

Dag of nag, jy het nie elektrisiteit nodig om by die huis of in die natuur te oefen nie. Die meeste gimnasiums se deure sal oop wees gedurende beurtkrag, maar sonder lugversorging is daardie spierfabrieke eintlik maar net sweetfabrieke.

Luilekker in die park

Moenie toelaat dat die gebrek aan elektrisiteit jou rustyd oor naweke beperk nie. Die son skyn en dis nog somer, so waarom gaan lê, braai, of hou jy nie piekniek in die park nie?

Knip ‘n uiltjie

Besigheidsmagnate en kreatiewe siele het een ding in gemeen: hulle hou almal daarvan om nou en dan te dut. Herlaai jou batterye en snork vir ʼn wyle terwyl Eskom sy kragdrade laat rus.

Kweek ‘n stokperdjie

Dis nou die ideale tyd om iets nuut te leer, ‘n stokperdjie van een of ander aard – soos fotografie, skilder, aan jou kar werk, of houtwerk doen met ʼn draagbare lig. Dit sal jou ook kalmeer wanneer Eskom aan jou karring.

Wanneer die ligte skielik afgaan en jou wêreld in donkerte verdwyn, raak rustig, ontspan jou boude en onthou dat jy nie verveeld en in die donker hoef te wees nie.