Somer is braaityd en winter is … ook braaityd! Buiten beskutting teen onvoorsiene weersomstandighede wat braaiplanne in die wiele kan ry, het ’n binnebraai ’n paar ander pluspunte wat jy dalk nie voorheen in ag geneem het nie. Súlke braaiplekke is dikwels sommer reg langs ’n paar ander geriewe wat noodsaaklik is vir ’n gesellige winterkuiertjie, soos snoesige rusbanke, ’n TV, kroegtoonbank of etenstafel.

Jy kan ’n gesellige binnebraai-vakansie saam met enige geselskap meemaak, hetsy jou gesin, groter familie, ’n groep vriendinne, trougaste, of dié wat jou op ’n visvanguitstappie vergesel. Daarom het ons met uiteenlopende behoeftes in gedagte 10 van die beste binnebraai-bestemmings gaan uitsnuffel.

1. Camp George

Klaserie Privaat Wildreservaat | Langs die Krugerwildtuin | Mpumalanga

Camp George is ’n selfsorghuis met slaapplek vir 10 gaste. Die lapa het ’n kroegarea, yskas, ysmasjien, DStv en natuurlik ’n binnebraai. Hierdie lapa is ideaal vir kuier terwyl julle ’n rugbywedstryd kyk. Al die hout wat jy nodig het word voorsien en die sekuriteitswag kan saans die vuur vir julle pak.

2. Strandveld Vineyard Cottages

Wynlandgoed tussen Elim en Kaap Agulhas | Wes-Kaap

Die twee kothuise op dié plaas het elk slaapplek vir 2 gaste en is dus ideaal vir 2 paartjies wat saam ’n bietjie verlore tyd wil inhaal. Daar is niks so gesellig soos om rondom ’n braai te kuier in ’n afgeleë, outydse huisie met dik houtbalkplafonne nie!

3. Hebron Estate

Piketbergreeks | Wes-Kaap

Dié 3 selfsorg-eenhede met binnebraaie lê diep versteek in die Piketberge en bied slaapplek vir altesaam 14 gaste. Hiér kan jy en jou gesin ’n fynbosstaproete aanpak en Woefie kan ook sommer saamstap. Daar is ’n funksielokaal op die perseel, so oorweeg gerus ’n bergtroue!

4. The Ocean Villa

Hermanus | Wes-Kaap

Die hoogtepunt van dié selfsorghuis met slaapplek vir 8 is die heerlike oopplan-kombuis en braai-area op die boonste verdieping. Dit lei boonop na ’n balkon vanwaar julle in seisoentyd Hermanus se immergewilde walvisse kan dophou.

5. Jackson’s Guest Cottage

Kleinhoewe langs De Oude Drostdy Landgoed | Tulbagh | Wes-Kaap

Hou gerus dié grasdak-kothuis in gedagte vir julle volgende romantiese wegbreek. Die sitkamer het ’n binnebraai, ’n snoesige rusbank en groot glasdeure wat toegang bied tot ’n sprokieswêreld met uitgestrekte groen weivelde, perde, beeste en skilderagtige berge in verte.

6. Livingstone Villa

Wildernis | Tuinroete | Wes-Kaap

Hierdie 5-ster-selfsorghuis met slaapplek vir 6 gaste het 4 balkonne met see-uitsigte, kaggels in 2 van die slaapkamers, ’n verhitte swembad en natuurlik ’n binnebraai. Hier kan jy vergeet van die winterkoue en jou net oorgee aan die luukse geriewe.

7. Rondevoux 27

Margate | KwaZulu-Natal

Dié woonstel is lekker sakpas vir ’n groep van 8 vriende. Julle kan op die toegeboude balkon aan ’n stukkie vars gebraaide boerewors smul terwyl julle oor Margate se uitgestrekte waters uitkyk ─ idillies!

8. The Willows Resort & Conference Centre

Port Elizabeth | Oos-Kaap

Dié oord bied selfsorg-eenhede, ’n kampterrein en ’n venue. Dis ideaal vir ’n troue langs die see aangesien dit sommer slaapplek vir al jou gaste bied. Daar is 4 dubbelhutte, so maak seker jy bespreek die een op die foto wat reg langs die see is!

Die volgende eenhede by The Willows het binnebraaie: Tripelrondawel met slaapplek vir 8 | Dubbel-bungalow met slaapplek vir 5 | Drieslaapkamer-kothuis met slaapplek vir 6 | Tweeslaapkamerkothuis met slaapplek vir 4

9. Skye High – House & Cottage

Dullstroom | Mpumalanga

Dié huis en kothuis bied slaapplek vir altesaam 10 gaste en is behoorlik vir die winter toegerus met verwarmers, elektriese komberse en natuurlik die reuse kaggel/braai. ’n Groepie vriende wat op ’n kunsvlieghengel-uitstappie gaan kan dalk voordeel trek uit só ’n geleentheid.

10. EngelZicht Self-catering Villa

Yzerfontein | Weskus | Wes-Kaap

Dié kuierhuis met slaapplek vir 8 is ideaal vir ’n groep vriende of familie met kinders aangesien daar ’n speletjieskamer met onder meer ’n veerpyltjiebord en tafeltennis is. Julle kan binne óf buite braai as die weer dit toelaat met die blou see wat in die agtergrond wink.

Terloops, hier is nog ’n paar voorstelle in ons ander provinsies as dié braaiplekke ‘n bietjie ver van jou af is:

Noordwes: Atelier Isabella (naby Hartbeespoortdam)
Vrystaat: Moreson Ranch (Wildplaas naby Vrede)
Limpopo: Tashang Lodge (Bela-Bela)
Noord-Kaap: Die Stal (Sutherland)
Gauteng: Abries Self-catering House (Centurion)

By dié gesellige kuierhuise kan jy jou met ’n glasie rooiwyn in die hand en die geur van braaivleis in die lug op ’n snoesige rusbank neervly en tot laatnag sit en klets. Kies bloot jou geselskap, kliek op een van die foto’s hierbo en begin nóú jou binnebraai-paklysie saamstel. Lekker braai!

Hooffoto: Skye High (LekkeSlaap)