Bushmans Kloof is lafenis vir die siel. Hierdie luukse lodge is in die majestueuse Sederberge geleë en die ongerepte natuurskoon met sy ruwe rotse kontrasteer pragtig met die elegante interieur. Dit is die ideale plek vir ‘n wittebrood.

Die Sederberge is 500 miljoen jaar oud en was vroeër die tuiste van groot troppe wild en die gelyknamige Sederboom. Ongelukkig het die wild en die sederbome se getalle drasties afgeneem en die vlaktes het verander in landerye. Maar hier by Bushmans Kloof kan jy hierdie ongelooflike deel van ons land in sy eertydse glorie ervaar.

Daar is talle aktiwiteite om saam met jou liefie aan te pak vir herinneringe wat jy vir ewig sal koester. Daar is wildritte op die reservaat, rotskuns­besigtigingstoere, kanovaarte, boogskut, vlieghengel en staproetes. Hier sal jy teen skemer met jou wederhelfte kan gaan stap en kyk hoe jul skaduwees oor die landskap vervleg.

Elke maaltyd by Bushmans Kloof is ‘n sintuiglike ervaring wat jy op talle romantiese plekke op die reservaat kan geniet. Verder bied Bushmans Kloof verruklike spa­behandelings wat individueel aangepas word om absolute ontspanning tydens jou pamperlangsessie te verseker. Jy en jou liefie kan hand ­aan ­hand in die spa behandel word om net nóg nader aan mekaar te voel.

Die Riverside Supreme Suite is ideaal vir die wittebrood­pakkette en die suite is ‘n betowerende toevlugsoord aan die oewer van die kabbelende Boontjiesrivier. Die suite bied ‘n aparte sitkamer met ‘n kaggel, ‘n groot terras, ‘n buitestort en beskik verder oor sy eie verhitte swembad. Verlustig julself in die lewenspad wat vir julle voorlê met ‘n heerlike skemerkelkie op die terras of ‘n romantiese bad by kerslig in die luukse badkamer. Wat wil iemand meer hê?

Bushmans Kloof se wittebroodpakkette sluit die volgende bederfies in:

• ‘n Privaat, romantiese aandete by Kadoro, ‘n bekoorlike herderskothuis op die reservaat.

• ‘n Privaat aandete in die ommuurde organiese tuin.

• ‘n Bottel Guy Cadel.

• ‘n Spa­behandeling vir julle albei in die Spa Gazebo.

• Alle maaltye is ingesluit by die tariewe (‘n volle Engelse ontbyt, ligte middagete, ‘n High Tea in die namiddag en ‘n smullekker aandete).

• Al die aktiwiteite op die reservaat en by die lodge is ook ingesluit.

• Komplimentêre WiFi en ‘n verwelkomingsdrankie om na uit te sien.

Bushmans Kloof is die perfekte wegbreekplek, met die klem op weg. Die suites is omring deur die ongerepte natuur en hier voel jy asof jy jou oor niks ter wêreld hoef te bekommer nie. Tog is hierdie stukkie paradys net 2 en ‘n half ure van Kaapstad af, ongeveer 40 km buite Clanwilliam.

Die wittebroodpakkette is beskikbaar teen die volgende tariewe:

• R4 540 per persoon per nag (6 Januarie tot 31 Maart 2015)

• R2 895 per persoon per nag (1 April tot 31 Augustus 2015)

• R4 540 per persoon per nag (1 September tot 19 Desember 2015)

Die tariewe geld slegs vir ‘n minimum verblyftydperk van 2 nagte.

As hierdie juweel van ‘n plek lyk na iets wat jy en jou geliefde saam wil ervaar, stuur gerus ‘n e-pos aan info@lekkeslaap.co.za en skryf in jou onderwerpgleuf: “Mooi Troues: Bushmans Kloof”, en ons sal jou met liefde help.