Citrusdal lê in die Olifantsriviervallei, sowat twee uur se ry van Kaapstad af. Vir Kapenaars wie se motors al die Tuinroete en die Weskuspad op autopilot ry, is dit dalk ’n goeie idee om die dal van sitrus vir ’n slag te besoek. Hiérdie Kapenaar het al ’n hele paar keer op die N7 geklim om die stad se rumoer vir ’n oomblik agter te laat. Wanneer die Piekenierskloofpas se hoogste draai om die laaste rotsblok swaai, word mens beloon met ’n oorrompelende uitsig: Citrusdal lê en dut tussen lemoenboorde en landerye, en op die horison ontwaak die majestueuse Sederberge.
Moet my nie verkeerd verstaan nie ─ dit is definitief die moeite werd om die Sederberge se brutale skoonheid van naderby te aanskou, en daar is ’n hele paar redes waarom duisende mense elke jaar aanhou met dié pad tot by Namibië. Maar as jy nie kans sien vir die langpad nie, of as jy hierdie jaar jou sente al ’n paar keer moes omdraai, is daar sewe redes waarom ’n naweek op Citrusdal so reg in jou kraal sal val.
7 Doendinge:
1. Zipline
Beleef ’n professionele foefieslaaid by Piekenierskloof se Zipline.
2. 4×4
Klits die modder op in jou 4×4 by Koningskop, Marcuskraal, en Bosrivier Campsite.
3. Gholf
Kyk hoe lyk ’n gholfballetjie teen die wasige Sederberg-agtergrond. Kliek hier vir meer inligting.
4. Visvang
Vang reënboogforel, karp of baars in die Olifantsrivier. Help op dié manier om ontslae te raak van hierdie kalante wat die lewe so moeilik maak vir die delikate, bedreigde vurige rooivlerkie wat net in dié geweste voorkom. Kliek hier vir meer inligting.
5. Stap en Fietsry
Pomp jou bergfiets se wiele of maak jou stapskoene se veters styf vas en durf een van die roetes in die omgewing aan.
6. Rotsklim
Stof jou hande met kalk af, maak seker jou harnas is mooi vas, en klouter soos Kees se kind teen die Sederberge se prehistoriese rotse uit.
7. Rotskuns
Besoek ’n San-kunsuitstalling – daar is heelwat rotskuns in die rantjies en klowe rondom Citrusdal.
7 Lekke Blyplekke
Kunje Guest Farm
Kagga Kamma Nature Reserve
Piekenierskloof Mountain Lodge
Bydidam Resort
Aan d’Oewer B&B
Cedar Kloof Camping Villages
Starry Nights
So, as die winter soos ’n kaal vlakte voor jou uitgestrek lê, vat die pad na Citrusdal. Die berge, natuur en avontuur sal die winter se yskoue kloue in ’n japtrap laat smelt!
Hooffoto: Bigstock
Al die foto’s kom van instansieprofiele, tensy anders aangedui.