Groot, blink reëndruppels rol van akkerblare af en plof op my motor se voorruit soos ek die Eikestad op ’n vroeë herfsoggend binnery. ’n Bederfnaweek lê voor by die vyfster-boetiekhotel en spa, Coopmanhuijs, wat al nege jaar lank met goeie rede die eerste plek op TripAdvisor se ranglys beklee. Jare nadat ons as studente Stellenbosch platgeloop het, is ek en Chanté weer hier om, danksy Coopmanhuijs, dié dorp in al sy swier en sjarme te ervaar ─ ’n netjiese paar oud-Maties, terug tussen die elegante eike van hierdie Bolandse dorp.
Aangesien ons eers tweeuur inklok, draai ons by die Oude Libertas Slow Market in om ontbyt te eet. Stellenbosch is ’n markie-paradys ─ daar is ’n halfdosyn in ’n tien kilometer-radius te kus en te keur ─ maar by Oude Libertas beweeg die koffiery gelukkig vinnig en die geur van varsgebak en fynbos hang in die lug. Daar is kuns, klere en geen tekort aan kos wat ons langer as beplan besighou.
Dis halfelf wanneer ons by die splinternuwe Rupertmuseum stilhou. ’n Kunsleek óf -liefhebber sal in vervoering wees oor dié galery se indrukwekkende aanbod. Ons fladder van Penelope Siopis na William Kentridge, Maggie Laubscher na Irma Stern en reis deur die ganse land via Pierneef se weergallose stasiepanele ─ ’n skildery-reeks wat Suid-Afrika se verskeidenheid landskappe vasvang en tot November hier te sien is.
Teen middagete is ons kultureel versterk en wanneer die honger weer knaag neem ons ’n tafel by De Warenmarkt in ─ hoofsaaklik omdat nie een van ons kan besluit waarvoor ons lus is nie en dié kulinêre mark iets van alles bied. Die kos en die atmosfeer stel glad nie teleur nie. Die bloekom wat vanaf die dakbalke hang versprei ’n heerlike reuk deur die markie en oor gesinne, enkeles wat sit en lees en vriendegroepe wat ’n bottel wyn en mekaar se geselskap geniet.
’n Raps voor tweeuur luier ons motors voor Coopmanhuijs in Kerkstraat. Parkeerplek op die dorp mag dalk vir studente ’n teersaak wees, maar nie vir ons nie, want die motorversorger laat nie op hom wag nie. Ons voertuie is sommer blitsvinnig in die kelderparkeerarea en dis pure rooitapyt-diens al die pad tot in die voorportaal! Jolandi, die algemene bestuurder, verwelkom ons met ’n opregte glimlag en oorhandig ’n papiertjie met die allerbelangrike WiFi-kode. Dan sit ons eers ’n rukkie in die gastesitkamer en geniet ’n komplimentêre glasie lemoensap en vonkelwyn om die oggend se ge-heen-en-weer af te skud.
Ek merk die teëltjie bo die kaggel: “Bewoon sedert 1713”. Die gebou is dus ’n statige ou dame, maar Coopmanhuijs se goedversorgde fasade en rooi sonskerms verklap nie haar rype ouderdom nie en haar klassieke binnenshuise versiering sal ook nooit uit die mode gaan nie. Tog is haar geskiedenis iets om op te let. Die oorspronklike gebou is in 1713 deur Alhardus Coopman opgerig en, as ’n tipiese Kaaps-Hollandse huis in die gewilde H-vorm, het dit netjies op een van Stellenbosch se eerste drie straatblokke ingepas. Later ondergaan dit ’n Neo-Georgiaanse gedaanteverwisseling, die H-vorm word aan die voorkant toegebou en ’n tweede verdieping word bygevoeg. In 1981 koop André en Helena Pieterse die huis, en gebruik dit as gesinswoning tot hulle dit in 2007 in ’n hotel en spa omskep. Helena se uitstekende styl is in elke detail sigbaar.
Jolandi neem ons op ’n behoorlike toer deur die gebou wat in 2010 sy deure as boetiekhotel, spa en restaurant oopgemaak het. Die kroegman is besig om glase by ’n elegante swaarhout-toonbank te poets. Van die trapportaal af kan ons tot in die kombuis sien: ’n gesellige voorbereidingsessie is aan die gang. In die ontbytkamer, ’n groenhuis-tipe vertrek met ’n glasdak, waai vars rose in pragtige keramiekpotte vir ons vanaf die buffettafels. Die verhitte swembad is nét groot genoeg om jou temperatuur in die Bolandhitte te reguleer en langsaan wag die sauna en ’n spa met ’n reeks behandelings om jou verblyf nóg luukser te maak.
Coopmanhuijs het sestien suites wat elk uniek versier en met luukse volvloermatte, DStv, gratis WiFi, lugversorging, koffie- en teemaakgeriewe en ’n kroegie ingerig is. Ons slaap in een van die luukse suites wat ’n uitsig oor Kerkstraat bied. Die gordyne is dik en ons sou salig deur sonsopkoms kon slaap sou ons nie ’n alarm stel nie, veral as ek so na die koninggrootte-bed en kraakvars katoenlinne kyk! In die Victoriaanse en suite-badkamer maak die ondervloerverhitting die teëlvloer lekker warm, die dubbelwasbakke is met verligte spieëls geraam en handdoekstof-japonne en pantoffels staan gereed om jou uitklim uit die ruim stort of pootjiesbad so aangenaam as moontlik te maak ─ ná jy van die heerlike Charlotte Rhys-produkte gebruik het, natuurlik!
Voor die bed ons vir ’n siesta kan naderlok, bel ons ontvangs om my motor te versoek. Coopmanhuijs is so in die hart van Stellenbosch as kan kom en ’n mens sou eintlik sonder jou motor by die talle restaurante, galerye en vermaak in die omtrek kon uitkom, maar ek en Chanté het van Vredenheim, ’n wyn- en wildplaas buite die dorp, se gin-kroeg te hore gekom. Classic Cats het ’n indrukwekkende gin-versameling van reg oor die land: fynbos-gin, sitrus-gin en gin wat soos ’n lakmoespapiertjie in ’n junior wetenskapklas van kleur verander wanneer die tonikum bygevoeg word. Ons maak ons in ’n skaduryke hoekie in die tuin tuis en kuier die namiddag om.
Wanneer dit begin koud raak keer ons terug hotel toe. Die kamer is reggemaak vir die aand met die duvet wat effens oopgevou is en daar is sjokolade en ’n kopie van die volgende dag se weervoorspelling sodat ons wyse klere- en uitstappie-keuses kan maak.
Ons bespreking by Helena’s, die hotel se restaurant wat ook vir die publiek oop is, is reeds met die kamerbespreking bevestig om teleurstelling te vermy. Hoewel die fluweelagtige granaat-muurpapier binne pragtig is, versoek ons Muzi, ons kelner met die skitterende glimlag, om buite op die stoep te sit sodat ons soos Parysenaars kan voel. Hy sleep ’n gasverwarmer nader sonder dat ons hoef te vra en skink vir ons wyn. Hierná volg ’n feesmaal van sitroengras-steurgarnale op saffraan-tagliatelli, kaas-en-murgpampoen-soufflé, Chalmar beesfilet met ’n rooiwyn-en-beenmurg-jus en pawlowa met Amarula-roomys.
Ongeveer drie uur later (en twee kilogram swaarder!) keer ek kamer toe en kry ek uiteindelik die kans om die stort te beproef. Wanneer ek kort voor elfuur onder die vars beddegoed inkruip is dit nie lank voor die absolute gemak “soete drome”, soos die pragtige borduurwerk bo die bed beloof, bring nie.
Die volgende oggend kreun die buffettafel onder ’n kontinentale ontbyt. Die kelnerin kom neem ons warmontbytbestelling en daar is ’n gesellige atmosfeer by die tafeltjies teen die tyd dat ons opstaan. Ons motors is reeds voor die hotel geparkeer wanneer ons uitklok en die vrou by ontvangs wens ons vriendelik vaarwel.
Die afskeid is te swaar en ons besluit om ons tydjie in Stellenbosch so ’n bietjie uit te rek deur ’n wynproe in te werk ─ ’n mens kan darem nie Stellenbosch besoek sonder om wyn te proe nie. By De Morgenzon aan die einde van Stellenbosch se Kloofweg, strek die wingerd oor die heuwels in lowerpatrone en ’n klassieke serenade speel in sommige wingerdblokke. Dit klink vir ons idillies en ons geniet ’n proesessie van die bekroonde Maestro-reeks. Ons wandel lank deur die tuin in sy mooiste herfsjas voor ons ons ou studentedorp groet.
Baie dankie aan Coopmanhuijs Boutique Hotel and Spa, Helena’s Restaurant en De Morgenzon vir die heerlike naweekbederf en gasvryheid.
Hooffoto: LekkeSlaap