Almal weet hoe mooi die veldblomme Namakwaland gedurende die lente optooi, maar wat word van dié spesiale plek as die skel somerson die kleurvolle blaartjies laat swig? Die veldblomme is ’n groot trekpleister wanneer hulle kop uitsteek in September, maar die res van die jaar vergeet die meeste van ons dat Namakwaland bestaan. Wel, die niks van Namakwaland is nét so mooi soos die jaarlikse blommegesiggies en iets wat die meeste van ons nooit sal sien as ons nie die moeite doen om in die somer dié dorre streek te trotseer nie.
My Oupa Hannes, Johannes vir die mense van die dorp, het op die plaas Noulsoutfontein naby Bitterfontein in Namakwaland grootgeword. Bitterfontein is ’n dorpie op die Knersvlakte in die noordweste van die Wes-Kaap, op die N7 tussen Kaapstad en Windhoek. Die spoorlyn van Kaapstad na Namakwaland kom by Bitterfontein tot ’n skielike einde en dit was in 1931 die toneel van een van die grootste treinrooftogte ooit, toe 80 000 pond se diamante spoorloos uit ’n possak verdwyn het.
Oupa Hannes, ’n kampvegter vir Afrikaans en pa van drie dogters, se begin is te danke aan ’n stowwerige stukkie grond in die verlate Noord-Kaap, waar hul familie ’n basiese bestaan probeer voer het met ’n handjievol skape en ’n lappie koring. Die liefde vir die niks in Namakwa het in my ontstaan te danke aan my oupa, sy stories oor dié streek en sy familielewe daar.
Oupa Hannes was ’n uitstekende storieverteller. Die boeiende stories oor Hardeveldse kinders wat saans langs ’n kaggelvuur rustig aan die kleinkinders oorvertel is. Stories van ’n ander tyd. Stories van skape en klein plase en Oupa se lot boeties, almal met die blonde hare en kenmerkende hemelsblou Pool-oë. Van kaalvoet grootword in die stof en lente vier tussen die blomme. Stories wat vir ons ver voel. En tog is daar ietsie in die stories wat effens bekend is. Iets van die streek wat die familie-bande laat deurskemer. ’n Onthou. Vir my is die familie-geskiedenis genoeg rede om terug te keer na Namakwaland. Tog is daar selfs vir diegene wat nie geskiedenis daar het nie óók altyd ’n rede om Namakwaland te besoek, al staan die kleurvolle blommetjies nie die velde vol nie.
Indien jy ’n besoek aan Namakwaland beplan, is LekkeSlaap gereed om jou die allerbeste blyplek te help kies. As mense dink daaraan om Namakwaland te verken, is Springbok gewoonlik die dorp wat gekies word. Tog is daar drie baie spesiale dorpies wat soms vergeet word: Drie klein dorpies wat die verpersoonliking is van Namakwaland se eiesoortige bekoring, en wat jy veral moet verken as jy na dié dorre deel van ons land reis.
Garies is ’n klein landboudorpie wat omring word deur die kenmerkende kaal granietkoppies van die streek. Dit is ongeveer 110 km suid van Springbok en 60 km noordwes van Bitterfontein. Garies kry sy naam van die Khoi-woord xharis vir die kruipgras wat in die vallei te vinde is. Tussen die kruipgras is daar buite die blomseisoen ook kraalbos oral te siene, ’n teken van die oorbeweide veld in dié droë plek, bokbaaivygies met hul harde blaartjies wat die hitte kan weerstaan, en dan ook die groen blommetjies van die Grielum humifisum-plant, wat spottenderwys die bynaam ‘pietsnot’ gekry het. As jy ook wil sien watter tipe plantjies nog sterk kan staan in die Namakwalandse somer, het Garies ’n hele aantal staproetes wat jy kan aandurf, veral binne die Skilpad Veldblomreservaat.
As jy graag in Garies wil gaan slaap, kliek hier.
Nuwerus het ontstaan as ’n skofpos (afsaalplek) vir die poskoetse wat die uitgestrekte noordelike binneland bedien het, voordat die weskusspoorlyn na Bitterfontein verleng is. Die dorpie is 16 km suidoos van Bitterfontein en tussen Garies en Vanrhynsdorp en het heeltemal sy kleindorpie-sjarme behou. Die eerste NG Kerk is in 1935 daar gebou en daar is steeds ’n aantal pragtige Victoriaanse geboue wat die dorpie se geskiedenis vasvang. Diegene wat in Nuwerus stilhou kan uitsien na die prag van die vetplante wat volop is in dié omgewing en die uitgestrekte sterrehemel saans.
As jy graag in Nuwerus wil gaan ontspan, kliek hier.
Vanrhynsdorp is op die suidoostelike rand van Namakwaland geleë. Dit het ontstaan toe die eerste trekboere in 1751 hul eie dorpie aan die oewer van die rivier gestig het en dit Troe-Troe genoem het. Op 8 September 1866 het ’n boer met die naam Petrus van Rhyn aangebied om ’n kerk vir die gemeente te bou mits elke lid elke jaar ten minste een sjieling vir instandhouding bydra. In 1881 het die kerkraad en gemeente toe besluit om die dorp se naam na Vanrhynsdorp te verander ter ere van die kerk se grondlegger. As jy hier kuier is ’n besoek aan die Van Rhyn Kultuurhistoriese Museum in die ou tronk, wat in 1895 gebou is, beslis ietsie om in gedagte te hou.
As jy in Vanrhynsdorp wil gaan rus, kliek hier.
LekkeSlaap het meer as genoeg blyplek indien jy dié streek in die somer wil trotseer. Hou dié jaar verby die bekende Springbok en mik eerder vir die 3 kleiner Namakwalandse dorpies ─ Garies, Nuwerus en Vanrhynsdorp is die perfekte plekkies om te gaan ontspan dié somer en as die hitte te ondraaglik word, is die see mos gelukkig nie te ver van hulle af nie. Hondeklipbaai is ’n daguitstappie van Garies af en Lambertsbaai is net ’n uur se ry van Vanrhynsdorp af.
Vermy die rye motors wat gedurende die lentetyd na Namakwaland stroom, en verruil die blommegesiggies vir die mooiheid in die niks.
Hooffoto: Houthoop, Kleinzee, Namaqualand, Northern Cape, South Africa deur South African Tourism (Flickr)