Die Uilhuis is sekerlik die Karoo se bekendste tuismuseum, maar dit is ook ’n eienaardige kunswerk ─ ’n hele huis en werf as uitdrukking van een vrou se binnewêreld, soos ’n hart met al sy lig en donker oopgevlek vir reisigers om deur te loop. Dít maak ’n besoek aan Helen Martins se huis op Nieu-Bethesda ’n diep ontroerende, en vir sommige ’n ontstemmende ervaring ─ een wat jou soos die glasoë van haar sementstandbeelde ná jou besoek sal aanhou volg.
Nieu-Bethesda was die heel laaste dorp in Suid-Afrika om elektrisiteit te kry. Hierdie Karoodorpie in die Sneeuberge se voorheuwels naby Graaff-Reinet het eers in 1991 die lig gesien en alhoewel dit vandag, grootliks te danke aan Miss Helen (soos die dorpenaars Martins genoem het) jaarliks duisende toeriste lok, is Nieu-Bethesda steeds onder ’n tipe sluier van ’n vervloë tyd ─ ’n sluier wat neerslag vind in die afwesigheid van kitsbanke, vulstasies en kredietkaartgeriewe.
Hier is Martins, die jongste van Pieter Jakobus Martins en Hester Catharina Cornelia van der Merwe se ses kinders in 1897 gebore, en hier, tussen die stokstarende oë van die standbeelde op haar Karoo-werf, is haar as ná haar dood in 1976 gestrooi. Ná Martins se afsterwe het die huis leeg gestaan en grootliks verval. Items is verwyder en eers ná ’n openbare roepkreet dat die huis onderhou word, is die Uilhuis aan die plaaslike raad oorgedra, tot monument verklaar en het dit as ’n tipe huismuseum begin funksioneer.
Openbare belangstelling ─ eintlik maar naakte nuuskierigheid ─ in Martins en die sonderlinge tuiste wat sy met die hulp van ’n paar getroue handlangers geskep het, is grootliks te danke aan Athol Fugard se 1983-verhoogstuk en 1991-rolprent The Road to Mecca wat op gegewens van Martins se lewe gegrond is. Dít het die Uilhuis genoeg in die kollig geplaas om opspraak en uiteindelik opstand te wek toe die huis begin verval het. Maar lees ’n mens so ’n bietjie oor Martins op, is Miss Helen in Fugard se verhoogstuk nie ’n baie akkurate weerspieëling van die régte vrou nie.
Alhoewel The Road to Mecca se verwarde, sagte, byna kinderlike Martins moontlik eienskappe van die werklike Helen uitlig, was die regte vrou geleerd en sou sy slegs met sterk oortuigings en wilskrag daartoe in staat gewees het om só ’n erfenis na te laat ten spyte van agterdog en verwerping deur die dorpsmense.
Martins is by die onderwyskollege op Graaff-Reinet opgelei en het in 1919 in die Transvaal begin skoolhou, waar sy vir Willem Johannes Pienaar ontmoet het. Die paartjie is in 1920 getroud en het daarna die land saam met ’n teatergroep deurkruis. Maar Helen en Willem se huwelik was ’n bitter ongelukkige een en sy is in 1926 van hom geskei waarná sy na haar tuisdorp teruggekeer het om vir haar bejaarde ouers te sorg.
’n Jong, geskeide vrou op ’n piepklein Karoodorpie in die twintigerjare het nie veel vooruitsigte gehad nie en die bestaan wat Martins oor die volgende 31 jaar gevoer het, was ’n benouende een. Sy was na aan haar ma, maar dié is in 1941 aan borskanker oorlede en dit het vir Martins en haar pa ─ ’n veeleisende, moeilike man wat sy vyande se name langs wraaksugtige Bybelverse geskryf het ─ alleen in die donker huis gelaat. Moontlik vir haar eie emosionele welstand het Martins haar pa naderhand na die buitekamer verskuif en daar vir hom gesorg tot sy dood aan maagkanker in 1945. Hierna het sy die buitekamer swart geverf, die vensters toegebou en “Die Leeukuil” is in die sement voor die gebou uitgekerf. Dít was een van die eerste kere wat Martins haar binnewêreld op haar omgewing geprojekteer het ─ ’n hartseer eerste tree, maar ’n tree nietemin.
Die Karoohuise wat destyds gebou is, is nie juis vir hulle lig en lugvloei ontwerp nie. Hul breë stoepe en klein, diepgesette vensters verseker dat hulle in die versengende somermaande koel bly en in die winter hitte binnehou. Maar dit beteken ook dat die lig wat bedags deurskyn minimaal is, om nie te praat van die stikdonker wat saans in die kamers waak hou nie. Miskien om die engheid en eenvoud van haar bestaan te besweer, het Martins ná haar ouers se dood lig uit haar huis begin pers.
Sy was teen hierdie tyd redelik verarm en het deur die jare net armer geword, maar sy was vindingryk en met die hulp van Jonas Adams, Piet van der Merwe, en later Koos Malgas, het Martins haar omgewing na haar wil gebuig om die beelde en idees in haar kop daarop uit te druk. Baie van haar idees is Biblies en ander is deur die digkuns van Omar Khayyam en William Blake geïnspireer.
Eers is haar huis struktureel verander. Hier en daar is mure uitgeslaan om meer lig in te nooi. Daarna het sy glas met ’n koffiemeultjie fyngemaal, elke kleur apart, en die huis se binnemure daarmee “geverf”. Die ekstase van hierdie skitterblink omwenteling is te bespeur in die anekdote deur Jonas Adams dat Martins, ná een van die vertrekke vars uitgeverf is, die gemaalde glas in die lug gegooi en oopoë daarin gedans het. Hy het sy oë afgeweer. Vir hom was dit glassplinters; vir Martins ’n blink uitkomkans.
Deur haar lampe en kerse noukeurig aan te steek en spieëls op strategiese plekke te plaas, sou die huis se vertrekke saans glinster en ’n handjievol dorpenaars wat Martins as vriende geag het is met hierdie skouspel vereer. Haar toenemende kluisenaarskap en nabye verhouding met haar bruin handlangers het egter in apartheid-Suid-Afrika heelwat van Nieu-Bethesda se wit gemeenskap agterdogtig gemaak en nare stories het die ronde gedoen. Daar is bewyse dat die gemeenskap wel in haar later jare vir Martins gesorg het en dat sy volgens gerugte onwettig gebroude alkohol aan van die dorpenaars verkoop het ─ hoe ook al dit sy, haar verhouding met die dorp was kompleks.
Die stories oor Martins sou natuurlik net toeneem toe sy haar idees rondom 1964 na buite verskuif het. Vandag is daar nagenoeg driehonderd standbeelde van draad, sement en glas in haar tuin, bekend as “The Camel Yard”. Hierdie standbeelde is meestal nié deur Martins self gemaak nie, maar deur Koos Malgas. Hy en sy sou soggens haar idees oor ’n koppie koffie bespreek en daarna te werk gaan ─ hy die hande en sy die denke ─ om die versameling kamele, wyse manne, sfinkse, meerminne, engele en ander kreature te skep wat na Martins se Mekka (haar tuin se “ooste” is eintlik die suide) gerig is.
Hier is ook ’n standbeeld met ’n vermiste kleintoontjie wat vir Martins verteenwoordig en alhoewel die standbeelde met hulle té lang, uitgestrekte arms enersyds van blydskap spreek, is dit nie te ontken dat daar andersyds onrusbarende ikonografie teenwoordig is nie. Martins het duidelik met beide die lig en die donker van haar bestaan geworstel en dit is vertroostend dat van die minder ontstemmende figure in haar versameling ─ die glasoog-uile ─ neerslag in haar huis se naam gekry het, pleks van sommige ander figure.
Weens Martins se jarelange glaswerk het sy naderhand haar sig begin verloor en dít word as een rede vir haar selfmoord op 6 Augustus 1976 verstrek. Dit is Koos Malgas wat op haar afgekom het nadat sy bytsoda gedrink het. Sy is na ’n hospitaal in Graaff-Reinet geneem waar sy drie dae later haar laaste bietjie glasstof uitgeasem het.
Vandag strek die nagblomkaktusse wat Martins destyds voor die huis geplant het steeds af en toe in die nag hul maankleurige blomme na bo, soos die uitgestrekte arms van haar standbeelde in die tuin. Dan val die kaktusse kant toe en groei daar nuwes uit die oorblyfsels. Duisende mense besoek jaarliks haar huis en vertrek miskien met ’n yskasmagneet of ’n namaaksel van ’n glasoog-uil soos dié wat al reg oor Suid-Afrika op mense se stoepe staan en “hoe-hoe-ver-is-ek-van-die-huis-af”. En of jy die Uilhuis besoek en dink dis wonderlik, of vreemd, of onverstaanbaar, Martins se huis, tegelyk haar tronk én tempel, moet met die oop oë en arms van haar standbeelde tegemoet gegaan word, want dít was haar wêreld soos die draadteken teen die heining in “The Camel Yard” saggies, maar aanhoudend fluister.
Hoewel ’n besoek aan die Uilhuis beslis op jou Nieu-Bethesda-doenlysie hoort, het hierdie rustige Karoodorpie ook ánder noemenswaardighede doendinge, soos fossieltoere, uitstekende restaurante, ’n beeldhougalery, bierproe, staproetes en die jaarlikse Liggiesfees op Oujaarsaand. Kliek gerus hiér om jou verblyf te bespreek.
______________________________________
Hooffoto: Wikimedia Commons
Navorsing:
- The Owl House webtuiste
- “A Visit to South Africa’s Strange, Astonishing Owl House” deur Rosa Lyster in The New Yorker, 1 Februarie 2018