‘n Padstal bring lafenis op die langpad. ‘n Baken van hoop op die horison. Dit is ‘n oase wat langs die warm teerpad opduik, gewoonlik net wanneer jy jou nuwejaarsvoornemens oor geduld begin vergeet. Want die huis is nog ver, die padkos is op, en die kinders skop sonder ophou teen jou rugleuning. Sodra die kilometers jou van jou sinne begin beroof en die kajuitkoors toeslaan, verskyn daar ‘n toevlugsoord. ‘n Droombeeld met ‘n koel stoep en beloftes van varsgebakte plaasbrood op ‘n swartbord. Trap die brieke en flikker daai flikkerlig. Of nog beter, gaan op ‘n vertoefsreis: rol die vensters af, en toer rustig en nuuskierig deur die land – van padstal tot padstal.

Padstalle is uniek aan Suid-Afrika. Nêrens elders sal jy ‘n plek aantref waar tuisgemaakte konfyt, gedroogte perskes en varsgebakte pies onder een dak verkoop word nie, sommer so tussen leerskoene en wynbottels. Dit bied simboliese weerstand teen kommersialisme – ‘n vertoonvenster wat die gasvryheid, persoonlike diens en produkte van die platteland ten toonstel. Elke padstal is enig in sy soort en elke besoek lewer ‘n verrassing of twee op. Party padstalle bedien regmakers in die vorm van blikbekers vol moerkoffie, ander verlei jou met onweerstaanbare sider en dan moet jy maar ‘n hele rukkie sit voor jy weer die pad kan vat. Padstalpersoneel is gewoonlik hartlike mens-mense, om die waarheid te sê, as die mense wat daar werk neusoptrekkerig is, kan mens dit nie regtig ‘n padstal noem nie.

Hier is ‘n lys van ons gunsteling-padstalle langs die langpad, en ook ‘n paar wat die ompad werd is.

2

Kapenaars op pad na Hermanus (N2)

Wanneer jy beplan om op die N2 tussen Kaapstad en die Overberg te ry, moet jy die wekker vroeg stel, want by die Peregrine-padstal buite Grabouw drom die mense saam soos bye om ‘n Coke-blikkie. Elginvallei is appelkontrei en hier kan jou passasiers heerlike sider proe. Die meeste van Peregrine-padstal se produkte word in die Overberg geproduseer, so dis lekker om te weet jy ondersteun die plaaslike gemeenskap met jou pitstop. Daar is waterbakke vir troeteldiere en klimrame vir kinders. Moenie weer in die pad val sonder een van hulle heerlike springbokpasteie en appelterte nie, ingewydes raak dikwels bewoë van verlange wanneer hulle oor dié lekkernye praat.

Kapenaars op pad na Mosselbaai en Kaapse Roete 62 (R60)

Ná die Hugenote-tonnel, wanneer jy op die R60 klim om via Swellendam na Stilbaai en Mosselbaai te ry, kan jy gerus net voor Robertson by AffiePlaas stop. Dit is moeilik om dié padstal aan jou linkerkant te mis, wees maar net op die uitkyk vir die hooibale wat soos Johannes en Magrieta aangetrek is. Koop ‘n waterblommetjie-en-feta- of wildspastei (in seisoen) en ‘n behoorlike ouma-melktert terwyl jy jou inkopies op die maat van boeremusiek doen. Fynproewers ry ook van heinde en verre om skaapstertjies by AffiePlaas te koop.

Kapenaars op pad na Langebaan (R27)

Vir talle Weskus-vakansiegangers is dit ‘n tradisie om ‘n varsgebakte plaasbrood by die Weskus-padstal te koop. Hierdie padstal is geleë op die R27, net voor Yzerfontein. Buiten die rakke vol versnaperings is daar ook eksotiese voëls en dit is omtrent ‘n vreemde verskynsel om ‘n papegaai in die Weskus te sien. Nadat jy jou keel met ‘n koeldrank natgemaak het en Makataankonfyt en breiwol gekoop het, herinner ‘n kennisgewing jou om nie in jou saligheid die kinders agter te laat nie.

1

Gautengers op pad na Jeffreysbaai (R10)

Wanneer jy op die R10 van Cradock na Port Elizabeth ry, móét jy stop by een van die beste padstalle in die land. Daggaboer-padstal is vir baie reisigers sommer deel van die vakansie-ervaring. ‘n Hele paar fynproewers pink ‘n traan weg wanneer hulle die dik appelkooskonfyt proe, verlig na jare se marteling van kunsmatige, loperige, oranje stroop. Jy kan ook ‘n paar egte skaapwolpantoffels en sybokhaarkomberse hier aanskaf. Terwyl jy jou batterye herlaai op die stoep met ‘n lekkerny en prentjiemooi uitsig, sal jy verstaan waarom Weg-tydskrif Daggaboer as ‘n topklas-padstal beskou.

Gautengers op pad na Margate of die Drakensberge

Pucketty-padstal, geleë op die R617 tussen die suidelike voorheuwels van die Drakensberge, is ‘n plek vir daardie reisigers wat bereid is om ‘n ompad te vat. Al die produkte is tuisgemaak en die rakke dra swaar aan bottels konfyt en ingelegde lekkernye. Pucketty-padstal kan egter net besoek word as jy met ‘n rein hart en skoon gewete deur die lewe beweeg – hier is ‘n unieke betaalsisteem waar klandisie self hulle aankopies in ‘n boek skryf en die geld in ‘n boks sit.

Gautengers op pad na Hartebeespoortdam of Sun City

page tan malie

Net anderkant die Hartbeespoort-tonnel sal Gautengers Tan’Malie se winkel aantref. Dié winkel bied alles wat goed is op die platteland – kleurvolle Chappies, ‘n plattelandse naam en vriendelike mense. Wat Tan’Malie se winkel egter so besonders maak en verhewe tot ‘n nuwe vlak van trots-Suid-Afrikaans, is die braaigeriewe. Jy kan self die wors en vleissnit kies, waarna jy die geleentheid kry om die eerste keer in jou lewe vir die braaimeester te sê hóé jy jou vleisie wil hê. Wanneer jy jouself uiteindelik kan dwing om weg te loop van die versnaperings en nostalgie af, moet jy onthou om ‘n pakkie boerebeskuit saam te vat vir die spens by die huis.

Jasmyn Plaaswinkel of “Die Windmeul” is ‘n bielie van ‘n padstal, amper ‘n padstal-mall. Hier pronk die grootste grasdak in die Suidelike Halfrond en jy sien die Nederlandse windmeul al myle vêr. Die indrukwekkende verskeidenheid vars produkte sou matrose se skeurbuike vinnig kon las en Noag se Ark kon voed. Jy wil byna ‘n winkeltrollie nadersleep, die bagasie op die kinders se skote pak, en die kattebak vol laai met die inkopies. Moet net nie in die opwinding die boekwinkel misloop nie: hier is ‘n paar literêre winskopies. Dié superpadstal is geleë op die hoek van die R511 en Jan Smuts.

Gautengers op pad na die Wildtuin

Wanneer jy van Pretoria na Nelspruit ry, sal jy Milly’s op die N4 by Machadodorp kry (wees op die uitkyk vir die Caltex-teken). Hier moet jy eers tot stilstand kom en die wonderlike kombinasie van berg en dam waardeer. Die padstal is klein, maar het iets wat nie een van die ander padstalle het nie, naamlik forelpastei. Forel in alle vorme en disse, konfyt, heuning en daardie ou padstalstaatmaker – varsgebakte plaasbrood – is ook hier te koop.

By die goeie padstalle kry jy gewoonlik goeie waarde vir jou swaar verdiende rande. Al is die motor tot oorlopens toe vol gelaai met bagasie, kinders, strandsambrele en -stoele, word daar gewoonlik nog ‘n plekkie gemaak vir die lekkerste gemmerbier, perskes, waatlemoen of spanspek. Elke reisiger het ‘n gunsteling-padstal, waarby hy of sy net nie kan verby ry nie – ‘n vaste oortuiging dat dié padstal se eetgoed lekkerder smaak as enige ander padstal sin.

Wat is die naam van jou gunsteling padstal? Dink jy daar is nog ‘n padstal wat ‘n pitstop en vermelding verdien? Wie maak die beste pies?

Ek wil weet! Lewer kommentaar en stel my in kennis, dan skryf ek ‘n opvolg-blog.