Dit is op somersoggende wanneer die Noordwes se reuke, reuke van my kinderjare, in my neus kom sit. Die reuk van lang, droë gras wat jou kuite krap net voor dit onder jou voete kraak en die rooi grond wat jou sokkies vlek. Die blou plafon van ‘n somerhemel en die alomteenwoordige rooibruin mure van die Magaliesberg. Dis waar ‘n Piet-my-vrou jou wakker roep en ‘n Kwêvoël jou koggel vanuit ‘n doringboom. Waar die somer aangekondig word met die eerste reën- en donderbuie, die simboliese heuning van al wat ‘n rysmier is, wat jou roep om te kom kyk … en te kom ruik.

Verbeel jou ‘n bosveldlandskap met sporadiese doringbome en grasland van waar die Magaliesbergreeks in die noordweste en die Vaalrivier in die suide alles tussenin vashou.

As jy iets anders soek om te sien, mik dalk Noordwes … Ek weet van ‘n paar dinge wat jy dáár kan doen.

 

 Agter die skerms

Die provinsie se ekonomie is grootliks afhanklik van die mynbedryf wat ‘n kwart van die provinsie se werk voorsien. Rustenburg is die hartklop van hierdie bedryf, en ook die grootste stad in die provinsie. Ryk aan natuurlike hulpbronne, word die rooibruin aarde hier gemyn vir minerale (Orkney en Klerksdorp), uraan (Klerksdorp), platinum (Rustenburg en Brits) en diamante (Lichtenburg, Christiana en Bloemhof). Talle boere vind ook hier hul tuiste met hul skaap, bees en wild in die noorde en weste van die provinsie. Saaiboere hou hulself besig met onder meer sonneblom, tabak, katoen en sitrusvrugte in die suide en ooste. Die provinsie is ook die tuiste van die land se grootste universiteit, die Noordwes-Universiteit (NWU) met sy kampusse in Potchefstroom, Mafikeng en Vanderbijlpark.

NW mining

Vêr in die verlede, maar hiér

Geskiedenisliefhebbers sal salig hier kan verdwaal! Belangrike historiese plekke in die provinsie sluit in Mafikeng – die tradisionele hoofstad van die Barolong-nasie, waar ‘n Britse garnisoen beleër is deur die Boere gedurende die Boereoorlog – asook die Lotlamoreng kulturele dorpie naby Mafikeng wat ‘n tradisionele Afrikadorpie naboots, én Boekenhoutfontein (‘n hanetreetjie buite Rustenburg) die plaas van Paul Kruger, die laaste president van die Suid-Afrikaanse Republiek.

 Kajuitkoors? “Go wild!”

As die mure jou vasdruk en jy op soek is na iets wat minder mak is, ontsnap na een van die provinsie se nasionale parke of talle privaat wildplase. Pilanesberg Natuurreservaat, naby Sun City, is die grootste reservaat en geleë in die krater van ‘n uitgestorwe vulkaan. Madikwe by Groot-Marico is ook ideaal om die Groot 5 te gaan opspoor.

pilanesburg

‘n Stukkie erfenis

Daar is 3 erfenisgebiede in die provinsie. Die Taung erfenisgebied is ‘n argeologiese skatkis waar die versteende skedel van ‘n kind in 1924 deur ‘n groep myners gevind is. Sommiges glo dat dit ontbrekende skakel is tussen aap en mens – ons weet net dat dit wraggies die besoek werd is. Die Wiegie van die Mensdom, Wêrelderfenisgebied nommer 2, word gedeel deur die Noordwes-provinsie en Gauteng, slegs ‘n uur se ry vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe. Hier ontdek jy van die wêreld se belangrikste antropologiese en argeologiese bevindings wat suggereer dat die mensdom in hierdie hoekie van Afrika begin het. Dit is werklik die lekkerste museumervaring wat jy in Suid-Afrika sal hê! Die Vredefortkoepel, spoegafstand van Potchefstroom en naby Vredefort, is die nalatenskap van ‘n meteoriet wat die aarde 2023 miljoen jaar gelede met ‘n knal getref het. Die resultaat is ‘n krater van 300 kilometer in deursnee wat krioel van natuurlewe. Die Koepel is bekend vir sy natuurskoon en is een van die provinsie se vernaamste avontuurtoerismebestemmings.

Son … see … sensasie … Sun City

Sun City is maar net 200 km van Johannesburg af en groot genoeg om jou en die hele gesin vir dae en selfs weke besig te hou. Hier is iets vir almal!

Sun City doendinge:

  • * Besoek saam met lady luck die provinsie se grootste kasino.
  • * Teaterliefhebbers en fliekflooie word bederf met ‘n reuse verskeidenheid vertonings.
  • * Dans die nag om in die nagklub. Daar is selfs ‘n dansklub vir onder 18’s (geen alkohol word hier bedien nie).
  • * Speel gholf by die Gary Player Country Club of die Lost City Gholfbaan.
  • * By die Valley of Waves kan jy op die strand ontspan en sonbaai terwyl die kinders hul gate uit geniet in die vele wateraktiwiteite en -speletjies.
  • * Natuurliefhebbers kan kies uit die nabygeleë Pilanesberg– en Madikwe Nasionale parke, Kwêna Gardens Krokodilreservaat en Butterfly World.
  • * Gil jou simpel teen 120 km/h op die 2 km lange Zip Line.
  • * Nog vele ander speelplekke en -dinge om van te kies!

Lins bo: wikimedia.org; Regs bo: johannesburg.hotelguide.co.za; Links onder: africanbluesky.com ; Regs onder: suncity.hotel.co.za

Harties, jou lekke ding!

Hartbeespoortdam is ‘n lekke dam! Gooi mielies (die visvang tipe), braai ‘n boerie op die oewer, rev jou waterenjin en jou hart met die verskeidenheid watersport op die dam of geniet net die beeldskone natuurtonele terwyl visarende omhoog sweef. As jy lus is vir iets anders kan jy die olifantpark besoek en selfs saam met ‘n grootvoet wandel, of jy kan gewoon in die interessante winkeltjies en kunsgalerye in die dorp gaan rondsnuffel.

Harties spog ook met sy eie kabelkarretjies, 14 van hulle! Die kabelkarretjies vervoer tot 500 mense per uur (heen en weer) en bied ‘n 360°-uitsig van die Hartbeespoort-area. Koop ‘n piekniekmandjie sodra jy bo is en sit op die gras, eet by een van die ander restaurante, of stap die 1 km lange Dassie-wandellaan om die berg – op ‘n helder dag kan jy die Coca-Cola Dome in Johannesburg, die meeste van Brits en selfs ‘n deel van Pretoria sien.

roomsforafrica.com - harties (Copy)

Vanuit die lug

Om te kan vlieg is nie net vir die voëls nie, nie as jy die kontrei vanuit dié lug kan verken nie. Beide die avontuurvraat en die romantikus sal ‘n lugballonvlug oor die Pilanesberg Nasionele Wildreservaat vanaf Sun City óf oor Hartbeespoortdam geniet. SkyDive Rustenburg gee die brawes ook die geleentheid om hul vlerke te sprei en te doen wat hulle graag doen … Gil en spring – of is dit nou andersom?

In die skadu van die withaak

Is daar iets in die water, of is dit maar net Groot-Marico se bosveldlug en mampoer se skop wat die legendariese storieman Herman Charles Bosman sy kontreiverhale laat neerpen het? Besoek Bosman-kontrei vir die rustige platteland en sien waar dié bekende skrywer gebly het. Gaan soek ook die Withaakboom waar ‘n luiperd so ewe langs Oom Schalk Lourens gaan lê het. Ontdek weer Bosman se stories by die jaarlikse Bosman-fees in Oktober en probeer dalk self ‘n bietjie bosveldmampoer.

Word nat in Wondergat

Wondergat, omtrent 60 km van Lichtenburg en 30 km van Mafikeng af, is die diepste natuurlike varswaterduikgat in die binneland. Ongelukkig is dit meer geskik vir duikers wat minder nat agter die ore is – gesoute duikers dink dié gat is prima! Dié duikgat is 36 meter diep en is ook die enigste plek in Suid-Afrika waar stromatoliete gevind kan word. ‘n Lekke alternatief as jy nie vinnig by die kus kan kom nie. Die Marico Oog by Groot-Marico is nog ‘n varswaterduikplek en is geskik vir alle bevoegdheidsvlakke  – ‘n 17 meter diep poel met kristalhelder sigbaarheid.

 Hoog in die takke…

Hou jouself Tarzan in Magaliesberg se blaredak met ‘n Canopy Tour naby Rustenburg en Sparking Waters. ‘n Unieke eko-avontuur wat jou op kabels ‘n gillende 30 meter in die lug deur die tweede oudste bergreeks in die wêreld (2,400 miljoen jaar!) van platform na platform laat gly.

.sa-green-info.co.za - canopy tour (Copy)

 

Die provinsie se reuke kom sit op someroggende in my neus, en wanneer die son rooi agter die Magaliesberg en haar kloof verdwyn, verbeel ek my dat die voëls se laaste getjirp byna soos die deuntjie van “My Sarie Marais” klink – dis immers dáár waar my Sarie woon.