Suid-Afrika se Drakensbergreeks (of die uKhahlamba – die “Grenspaal van Spiese”) is ‘n 200 km lange wonder en Wêrelderfenisgebied waarvan die grootste deel in KwaZulu-Natal is.

As jy al oor dié berg se rug gery het, sal jy verstaan waarom ons Nederlandse voorsate (afkomstig van hul plat pannekoekland) met angs en bewerasies waarskynlik in wonder uitgeroep het – “Dat kan gewoon niet! Peter, kijk – een enorme draak!” – toe hul voor hierdie majestueuse monster te staan gekom het. ‘n Reusagtige oerwese van klip. Inderdaad, ‘n Draak en ‘n Berg – van daar ons eie Drakensberg. Dit toring oor die landskap uit, vou beskermend om geelhoutbosse en steek watervalle soos skatte weg, terwyl dit in wintermaande soms onder ‘n sneeukombers sluimer. Eie aan legendes van beide berge en drake kan dié bergreeks ook geheimsinnig wees en daarom moes dit verken word – daarom móés dit oorwin word. Is daar ‘n beter manier om dié oorwinning te vier as ‘n wegbreekvakansie tussen die berge?

Brawes en avontuurvrate kraai vandag nog koning tussen die die stokou kranse met allerlei avontuursporte soos rots- of ysklim, abseil en witwatervlotvaart. Ander mense doen weer dinge teen ‘n stadiger pas sodat hulle die 290 voëlspesies, 48 soogdierspesies of skaars plantegroei kan bewonder. Die diverse fauna en flora is dalk die rede waarom die bergreeks “die siel van die Zulu-koninkryk” genoem word.

As jy my vra, is die stories en legendes oor drake en hul gulsige beskerming van skatte ook waar oor dié berg. Die bergreeks is die tuiste van verskeie wegbreekplekke wat in die vier streke van die berg wegkruip; elkeen ‘n skatkis van landskap, avontuur en toevlug. Om die draak tydens jou welverdiende wegkomkans te tem kan jy tussen hierdie vier gebiede van die berg kies: Bergville en die noordelike deel van die Drakensberg; Winterton en die sentrale Drakensberg; Himeville, Underberg en die suidelike Drakensberg, en dan ook Oos-Griekwaland.

Bergville en die noorde

Die noorde van die bergreeks huisves die berugte Amfiteater en is ook bekend vir verskeie historiese gebeurtenisse wat hier afgespeel het. Nie net was Bergville tydens die Anglo Boere-oorlog gestig nie, maar Shaka se impies het ook hier in die 1820’s onder ander stamme bohaai gemaak. By Voortrekkerpas staan die standbeeld van ‘n vrou, Susanna Smit (suster van Gert Maritz), wat kaalvoet oor die berge stap omdat sy geweier het om onder die Britte se juk in Natal te bly. Retiefspas, die pad waarmee Piet Retief en sy voortrekkervrinne in 1837 oor die berge is, is ook hier te vinde. Terwyl Retief op ‘n dag met die Zulu’s onderhandel het, krap sy dogter, Deborah, haar pa se geboortedatum (15 November), asook sy naam en die jaar 1837 in ‘n klip uit. (‘n Definitiewe item op ‘n Voortrekker se emmerskoplysie!)

Winterton en die sentrale Drakensberg

Winterton lê aan die voet van die berg en is die toegangspoort tot die sentrale deel van die bergreeks. Die Mdedelelo-wildernisarea is ‘n imposante, steil berggedeelte met ‘n plat kop wat in Engels as Cathkin Peak bekend staan. Hierdie streek bied ‘n groot verskeidenheid akkommodasie en doendinge vir toeriste. By die aangrensende Mount Memory, aan die noordelike kant van die sentrale bergreeks, staan ‘n groot kruis wat opgerig is vir soldate wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog oorlede is. As jy lus is vir ‘n tegniese en bitter moeilike bergklimekspedisie, kan jy jou staal toets op Monk’s Cowl.

Reuse woon hier! Die hoogste gedeeltes van die bergreeks word hiér gevind: Mafadi (3446 m) en die Inajsuti-koepel (3379 m) is twee van die hoogste pieke in Suid-Afrika, en Makheka (3461 m) is die tweede hoogste piek in Suider-Afrika. Die sentrale deel van die bergreeks is hemel vir bergklimmers, of altans baie naby daaraan: Die hoogste piek van die berg, Ships’s Prow, toring 3300 meter na bo en word as “severe”  geklassifiseer – dalk nie die mees verwelkomende klimekspedisie nie. Probeer eerder een van die vele ander kleiner vrystaande pieke, soos Eastman’s Peak, Litter en Intjuna. Besigtig ook die San-kuns in die meeste van die Giant’s Castle se grotte (wat nie as oornagskuiling deur bergklimmers gebruik mag word nie). Moet egter nie die museum in die hoofgrot mis nie – hier word die lewe van die San-mense uitgebeeld. Die streek bars ook uit sy nate van voëllewe en veral skaars roofvoëls kan besigtig word. Persoonlik is dit die forelstrome in dié omgewing wat my nader wink!

As jy graag Champagne Castle (3248 m) wil besoek, is jy in die regte area. Champagne Vallei is ook die tuiste van die bekende Drakensberg Seunskoor.

Underberg en die Suidelike Drakensberge

In die suidelike gedeelte van die Drakensberge is allerlei doendinge op die spyskaart. Hier is meer kunsvlieghengelgeleenthede as elders in die land: 160 km van rivierwater en 60 damme met ‘n wateroppervlak van meer as 40 ha. Eerder lus vir ‘n rondte gholf? Kies uit een van 3 pragtige gholfbane. Watersportliefhebbers word bederf met verskeie riviere om in te swem, roei en vlotvaart. Jy kan  die berg ook op ‘n perd se rug baasraak!

Oos-Griekwaland

Die skoonheid van die Oos-Griekwaland se hooglande is ongeëwenaar. Kokstad (vernoem na die bekende Griekwaleier Adam Kok) is die streek se grootste dorp. Dit is egter die A-graad bees, skaap en fynproewerkase wat toeriste hierheen lok. Kinders staar maklik oopmond na hoe die skaap geskeer word, terwyl Pappa ‘n stukkie biltong kou. Mamma sal egter liries raak oor die “African Hazel Nut”-projek wat deur die Italiaanse Ferrero-onderneming begin is om oor hul smelt-op-jou-tong Ferrero Rocher-sjokolades te strooi. O, hoe mooi die landskap, hoe lekke die lekkernye!

Buitelugliefhebbers sal ook nooit stilsit as hulle hoor dat kunsvlieghengel, perdry, 4 x 4-roetes en luilekker op die dam te roei vir hulle wag nie. Pak ook sommer jou voëlgids, verkyker en wellies in – Kokstad is een van die min plekke in KwaZulu-Natal waar jy al drie kraanvoëlspesies (die bloukraan-, gryskraan- en lelkraanvoël) kan sien.

As jy jouself op die rug van dié draak bevind, sal jy dit moeilik vind om nie allerhande holrug-geryde woorde soos “majestueus”, “kolossaal” of “ontsagwekkend” te gebruik nie. Wees egter gerus, hiér is alles waar!

Foto-erkenning

Hooffoto: Simon Falvo (Drakensberg Mountains, Cathedral Peak). Teks bygevoeg
Bergville Sneeu: Foto vanaf die profiel van Berghouse and Cottages op LekkeSlaap.
Amfiteater Drakensberg 1: Thiago Pompeu (The Amphitheatre, at Drakensberg Mountains – South Africa) – Flickr
Kaalvoetvrou: Three Tree Hill
Bergville collage: Bo: Foto vanaf die profiel van Drakensberg Mountain Retreat op LekkeSlaap. Onder: Foto vanaf die profiel van Three Trees at Spioenkop op LekkeSlaap.
Arend: Arno Meintjes (Steppe buzzard (Buteo vulpinus) Drakensberg Mountains) – Flickr
Drakensberguitleg: Bo: Foto vanaf die profiel van Drakensberg House op LekkeSlaap
Kunsvlieghengel: Foto’s vanaf die onderskeidelike profiele op LekkeSlaap. Bo: Pennygum Country Kothuis; Onder: Tillietudlem Game & Trout Lodge; Regs: The Old Hatchery. 
Kraanvoëls: Foto vanaf die profiel van Woodcliffe op LekkeSlaap.
Cathedral Peak: Jono Hey (Cathedral Peak Plateau Panorama) – Flickr