Gaan soek jou groener weivelde, jou deurgetrapte stad. Ek verkies die rus en vrede van ’n lang, plat Noord-Kaappad.

As jy na stil stofstrate, sout-van-die-aarde-mense en windpomp-silhoeëtte verlang, moet jy ons land se mees onderskatte provinsie verken. LekkeSlaap het ’n paar voorstelle van doen-en-sien-dinge in dié geweste!

_________________________________________

Bestudeer die sterrehemel in Sutherland

Met die maan gepla? Dan móét jy Sutherland en SALT, die grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond, besoek. Alhoewel lede van die publiek nie deur die reuse-navorsingsteleskoop kan kyk nie, kan hulle op ’n toer van die fasiliteite gaan en deur kleiner teleskope op die perseel tuur. Dag- en aandtoere moet vooraf gereël word en besprekings is belangrik, so beplan jou uitstappie sommer al voor jy vertrek. Kliek hier vir meer inligting.

Bly hiér in Sutherland

The Velvet Olive / Blesfontein Guest Farm / Kambro Kind & Middelfontein Farm /  Blydevooruitsig Guesthouse / Sterland La Pari Pari / Sterland Annex

_________________________________________

Raak ’n lid by Oom Tjol se Kroeg

Dié kroeg op die R354 tussen Matjiesfontein en Sutherland bied iets heeltemal anders. Hiér koop jy nie elke keer ’n drankie nie, maar betaal eerder ledegeld sodat jy dan enige iets uit die kroeg kan drink totdat jou lidmaatskap geles is. Miskien gee die windpompsjerrie uit Tjol Herbst se boorgat vir jou nét so ’n welige Kersvaderbaard soos dié kroegeienaar s’n.

________________________________________

Doen inkopies by Williston Mall

Snuffel rond vir Karoo-winskopies by dié kleurvolle, eksentrieke “mall” se X-Klusiv Books, Woolies, Stirns en Bordmans vir alles van boeke tot onderbroeke! En, as die honger en dors jou beetkry, doen aan by die mall se Ark Restaurant met sy bekende melkskommels, of by Doppies Bar vir iets met meer skop.

Die jaarlikse Williston Winterfees, met amateur-rieldans en ’n donkie derby, word ook hier gehou. So, as jy die hart van hierdie Bo-Karoodorpie wil voel klop, is dit mall toe met jou!

A post shared by Willem Van Zyl (@willemvzyl) on

Bly hiér in Williston

Ark Gastehuis and B&B / Annie’s Inn

A post shared by Ralf Brummerhoff (@ralfbrum) on

_________________________________________

Rus by die Roesrepubliek

Slaap jou roes af by die Republic of RusticA in Calvinia. Hierdie boheemse blyplek bied iets interessant om elke hoek en draai. Gaste kan ook ’n voet- en nekmassering geniet, op ’n klippiestap gaan, dromspeel en in die kleurvolle kuierareas kopstukke gesels met ander interessante mense wat Republic of RusticA as hul Karoo-verblyf kies.

A post shared by Jonathan Basckin (@jonatbas) on

A post shared by Jonathan Basckin (@jonatbas) on

_________________________________________

Kuier saam met jou nooi in ’n (Blou) Nartjie

Van vegetariese disse tot Karoolam ─ as jy in Calvinia gaan draai, moet die Blou Nartjie Restaurant op jou doenlysie wees. Jy kan ook in die elegante gastekamers op die perseel gaan slaap. Een ding is verseker: Hierdie nartjie nooi jou binne!

__________________________________________

Pos ’n brief by Calvinia se Blommebus

Glip jou koevertjie deur die gleuf van Calvinia se reuseposbus as jy in dié kontrei is. Dié posbus dateer uit 1994 toe die gemeenskap hande gevat het om ’n ou oogseer van ’n watertenk nuwe lewe te gee. Vandag nog word briewe wat in dié reuse posbus beland met ’n kenmerkende blommetjie-stempel gemerk voordat dit aangestuur word.

Nóg blyplekke in Calvinia

Carmel Villa / Calvinia Hotel / Calvinia Guesthouse


_______________________________________

Gaan kyk Gannabos se Kokerboomwoud

30 km buite Nieuwoudtville, by Gannabos, sal jy die wêreld se mees suidelike konsentrasie kokerbome aantref. Sóveel van hierdie antieke aalwyne stippel dié stil landskap dat dit as ’n woud beskryf word.

A post shared by Kirsten Packer (@seaturtles9) on

Dié vreemde plante staan al vir honderde jare hier en is destyds gebruik om kokers te maak waarin die San hulle pyle kon bêre ─ vandaar die naam. Tussen Mei en Julie spruit die kokerbome heldergeel blomme en tydens die lente is die grond ’n helderpienk kombers van veldblomme.

Bly hiér naby die Kokerboomwoud

Brandkop Guest Farm / The Nedersetting Nieuwoudtville

________________________________________

Maak ’n draai by die Windpompmuseum

Windpompe het ’n groot rol in die ontstaan van gemeenskappe en dorpe in die Noord-Kaap gespeel deur water toeganklik te maak vir menslike gebruik. Die Fred Turner Museum op Loeriesfontein bring hulde aan hierdie staalsoldate met ’n indrukwekkende versameling windpompe. Van Aeromotor tot Vetsak President ─ dié windpompe sal jou beïndruk met hul fier houdings te midde van die nederige, plat vlakte. Knyp gerus ’n tydjie af om deur die museum te loop.

Bly hiér in Loeriesfontein

Lizards Place / Loeriesfontein Windpomp Gastehuis / Rock Ridge Manor

A post shared by Marli Van Rooy (@mmmmmmmarli) on

_____________________________________

Bewonder Namakwaland se blomtapyt

Augustus tot einde-September is die beste tyd om die Noord-Kaap se spoggerige blomkombers te bewonder. Duisende mense stroom dan na die stil Noord-Kaapse vlaktes om te kyk hoe die vaal landskap ontpop in kleurvolle veldblomme.

As jy wil weet waar om te bly en hoe om te ry om die blomme op hulle mooiste te kry, kliek hier.

________________________________________

Aanskou die Oranjerivier in styl op Sakkie se Arkie

Dis pure pret en plesier op die Oranjerivier met Sakkie se Arkie! Die hele gesin sal genot put uit hierdie 1½ uur-lange bootrit vanaf Upington. Daar is ook ’n gelisensieerde kroeg en versnaperings aan boord wat die Arkie ’n goeie keuse vir ’n romantiese skemerkelkie-vaart maak.

A post shared by theillustrated (@theillustrated) on

A post shared by Obe Mouton (@obemouton) on

As jy nader aan die waters wil kom, bring jou visstok en kajak saam, of bespreek ’n riviervlotvaart al langs ons land se kabbelende noordelike grens.

Bly hiér in Upington

Le Bonheur Manor / Libby’s Lodge / a La Fugue Guesthouse / Avond Rust Guest House / Three Gables Guesthouse / River Bank Lapa Guest House

A post shared by Johann Swart (@johannswart) on

_________________________________________

Koop padkos by die Pienk Padstal

Byt jy vas tot by Kakamas, is die prettige Pienk Padstal op jou pad om jou te beloon met ietsie soets en ’n klomp mooi goed. Dit is die perfekte plek om jou kamera uit te pluk, veral as pienk jou kleur is!

A post shared by Löplöpçüler (@loplopculer) on

__________________________________________

Luister na die gebrul van die Augrabieswaterval

Maak ’n draai by die Augrabieswaterval Nasionale Park en ervaar self waarom die Khoisan hierdie bulderende waterval die “plek van die groot geraas” gedoop het. Dié majestueuse waterval se gebulder is ’n klank wat tydens die vloedseisoen tot 40 km ver trek. Metings tydens ’n besonders erge vloedseisoen het bevestig dat die Augrabies se watervloeitempo by tye vinniger is as dié van die beroemde Niagara-watervalle!

Aangesien daar al spoeldiamante langs die Oranjerivier opgespoor is, lui die storie dat ’n fantastiese versameling diamante in die maalkolk onder die Augrabies se valwaters te vinde is. Maar die woedende bulder van die waterval is genoeg om selfs die mees gedrewe diamantsoeker die vertes in te laat hardloop. Netnou lok die vreesaanjaende waterslang uit die Khoisan-verhale jou tot jou dood, so maak seker jy bly op die paadjies en agter die relings, veral tydens die somervloedseisoen.

A post shared by AEL Academy (@aelacademy) on

En terwyl jy in hierdie nasionale park is, verbeel jou sommer ook jy’s ’n ruimtereisiger en gaan maak ’n draai by die Maanrots ─ ’n groot, plat klip met ’n pragtige uitsig oor die park.

A post shared by Andi (@andi_daydreamer) on

Bly hiér naby Augrabies

The Falls Guest House / Dundi Lodge / Kalahari River & Safari Co

__________________________________________

Kap ’n es op Verneukpan

Verneukpan is ’n droë soutpan van 57 km x 11 km suid van Kenhardt en is die perfekte plek om voet in die hoek te sit.

Hiér is al verskeie pogings aangewend om die landspoedrekord te breek, maar as die gebrul van ’n enjin nou nie juis jou hart laat fladder nie, is Verneukpan ook ’n goeie plek om ’n vlieër die lug in te stuur, ’n treffende foto te neem, of om voëls te sien saamtrek net na die reën dié dor vlakte se dors geles het.

A post shared by Dom Barnardt (@domphoto27) on

A post shared by Vic (@vic_s.a) on

__________________________________________

Delf diep aan die Diamantkus

Kom luister hoe die see sing van skeepswrakke en skatte aan die Diamantkus. Die roete tussen Alexanderbaai en Hondeklipbaai is eintlik ’n reis op sy eie, want ons kan jou wed jy gaan langer wil bly. So skaars soos die diamante deesdae is, só volop is die stories en legendes van dié streek.

Begin by Alexanderbaai op die Namibiese grens en bespreek ’n myntoer deur ALEXCOR Bpk. (slegs op Donderdagoggende om 08:00). Volgende is dit Port Nolloth en George Moyses, die gewese diamantdyker, se museum.

A post shared by Peter Cross (@pjcroxx) on

A post shared by Willem (@willem_a_wentzel) on

Daarna is dit tyd vir Kleinzee en sy Skeepswrakroete, en laastens, Hondeklipbaai.

A post shared by Carlo (@carlo_de_santis) on

Onthou dat basiese geriewe soos teerpaaie, goeie waterdruk, selfoonsein en vulstasies nie noodwendig hier te vinde is nie. So lees ‘n bietjie op en wees eerder té voorbereid as om onkant gevang te word.

Bly hiér aan die Diamantkus

Port Nolloth

The Beach House and Cottage / Dis Al! Akkommodasie / Peaceful Place /  Voetbaai Chalets 

Kleinzee

The Beach Cottage Kleinzee

Hondklipbaai

 Die Baai se Bek / Hondehokke Resort / Honne-Pondokkies

_________________________________________

Vind rus en roeskleurige landskappe in die Kalahari

Daar is geen tekort aan wildkykplekke en nasionale parke in Suid-Afrika nie. Tog is parke in die Kalahari soos die Kgalagadi Oorgrenspark en Witsand Natuurreservaat dikwels maande vooruit vol bespreek.

A post shared by National Geographic (@natgeo) on

Dit kan die suiwer stilte of die Mars-agtige rooi vlaktes en duine wees wat mense lok. Dalk is dit die vreemde brulsand of die majestueuse Kalaharileeus met hul donker maanhare. Miskien is dit ’n kombinasie van al hierdie dinge. En miskien moet jy self gaan uitvind wanneer jy die langpad Noord-Kaap toe aanpak.

A post shared by Vincent Andrews (@flyingvinc) on

Bly hiér in die Kalahari:

Campbell Game Farm /  Kameeldoring Safaris

A post shared by Keith Connelly (@ingwe911) on

__________________________________________

Gaan tekere oor die pienkvere by Kamfersdam

Die duisende flaminke wat Kamfersdam buite Kimberley hul tuiste gemaak het, sorg dat hierdie waterbron ’n pienkveer-fees vir die oog is. Al is jy nie ’n voëlkyker of -kenner nie, sal dié vrolike gesig jou steeds beïndruk.

__________________________________________

Gaan sien die Groot Gat

Suider-Afrika se toekoms het in 1867 onherroeplik verander toe ’n 15-jarige seun ’n blink klippie naby die Oranjerivier opgetel het. Met die gevolglike diamantstormloop is ’n groter konsentrasie van hierdie kosbare klippies in die kimberlite-rots verder suid gevind, en vandaar het Kimberley, die Noord-Kaap se hoofstad, ontwikkel. Alhoewel die diamantbedryf in dié geweste al sedert 1914 op sy laaste bene is, bied The Big Hole Centre ’n blink blik op hoe die bedryf gelyk en gewerk het in sy bloeitydperk.

A post shared by Shannon Mace (@shannonlmace) on

Dit is nie net die Groot Gat, een van die grootste mensgemaakte mynuitgrawings ter wêreld, wat voete lok nie. The Big Hole Centre bied ook ’n besoekersentrum met toergidse en Old Town, ’n replika-dorp van die destydse myngeboue en trem wat jou ’n akkurate idee van hierdie stad se glansperiode sal gee.

A post shared by M/P (@kreatvrr) on

Bly hiér in Kimberley

Kimberley Country House / Langberg Guest Farm / Kimberley Anne Small Luxury Hotel

_________________________________________

Wandel al langs Belgravia se Geskiedkundige Roete

Belgravia bied die allerpragtigste en interessanste versameling Victoriaanse argitektuur met meer as 30 geskiedkundige geboue wat uit Kimberley se goue era (of altans diamanttydperk) dateer en elk sy eie storie het.

A post shared by Marchelle (@marchelle_malan) on

Die hoogtepunt, asook die begin- en eindpunt, van hierdie roete is die McGregor Museum wat eens die Kimberley Sanatorium en Cecil John Rhodes se hoofkwartiere tydens die Beleg van Kimberley was. Hier tel jy ’n kaart en roetegids op en pak dan die pad te voet aan.

A post shared by Reino Erasmus (@reino_erasmus) on

Bly hiér op die Belgravia-roete

Belgravia Bed And Breakfast

A post shared by Leah Mary (@leahmary_j) on

__________________________________________

Soek spoke

As jy belangstel in misterie en spookstories, oorweeg dit om die Diamantstad uit ’n ander oogpunt te verken. ’n Begeleide spooktoer verby heelparty van Kimberley se hoofbesienswaardighede sal die manier waarop jy dié stad sien onherroeplik verander.

Begin by die Honoured Dead-gedenkteken en volg die ektoplasma verby plekke soos Rudd House tot by Frankenstein se graf waar die middernagtelike uur die einde van die toer sal aankondig.

A post shared by Theodor Crouse (@theocrouse) on

Daar is onlangs ook ander spooktoere by Kimberley se repetoire rillerroetes gevoeg waaronder ’n toer van die Groot Gat en ’n spookagtige besoek aan Magersfontein.

A post shared by LIAM VAN ZYL (@liamvanzyl) on

______________________________________

Gaan wild by AfrikaBurn

AfrikaBurn in die Tankwa-Karoo is gebaseer op die Burning Man-konsep en bied jaarliks ’n vir ’n week of twee ’n ruimte waar kreatiewe siele hul mees skouspelagtige idees oor kuns, kostuum en musiek kan uitleef. Alhoewel dit nié vir almal is nie, is AfrikaBurn die ervaring van ’n leeftyd en ’n ware voorbeeld van wat kreatiewe vrygeestiges met ’n bietjie inspirasie en die groot ooptes van die Karoo kan verrig.

A post shared by Louis Cole (@funforlouis) on

________________________________________

Saai en vervelig? Watwou! Die Noord-Kaap roep jou!

__________________________________________

Hooffoto: Rooidam Cottages in Britstown op LekkeSlaap.co.za