Ek het altyd gedink Swellendam is net nog ‘n dutjiesdorp – een wat slegs een maal ‘n jaar ontwaak vir die Bessiefees, en dan tydens die spitsseisoen skaars ‘n ooglid verroer soos vakansiegangers verbyskiet van Kaapstad na die Tuinroete. Maar ek is in die ongelyk gestel!

Hoewel die alledaagse lewe in só klein dorpie natuurlik stadiger verloop as die stad se dolle gejaag, leen die pragtige omgewing van Swellendam hom daarna toe om die setel te wees vir ‘n hele aantal buitelug-avonture. Van staproetes en perdry, ‘n mikrovliegtuig oor die dam of in ‘n boot by die rivier af roei. Ons onlangse #swellenblog het bewys dat die dorp om elke grondpaddraai ‘n nuwe verrassing inhou.

1. Umshanti Buffeljagswatersport

Hierdie plek bied soveel avontuur dat jy die hele dag daar sal kan deurbring en die volgende dag sal wil terugkeer vir nog genot – veral as jy besef hoeveel tyd jy daaraan bestee het om stomverbaas oor die wonderlike landskap uit te staar. Die berge hou soos reuse wag oor die waters en as die son agter die berge begin wegraak, lyk dit of die wolke vlamvat en hul weerkaatsing word kristalhelder op die dam nageskilder. ‘n Mens kan met ‘n kano uitvaar of ‘n boot huur vir ‘n sonsondergangvaart, maar die beste manier om die laaste sonstrale te aanskou, is in Oom Kosie se mikrovliegtuig.

  • Mikrovliegtuigritte: Soms wonder ek of daar iets skort met my oorlewingsdrang, want ten spyte van die feit dat die mikrovliegtuig soos die raam van ‘n speelgoedvliegtuigie lyk, was ek al te gretig om op te styg. Ek het veilig gevoel, al was daar net ‘n veiligheidsgordel om my in die vliegtuigie te hou, want ek het geweet Oom Kosie het al meer as 20 jaar se ervaring. Toe hy voorstel dat ons die vaart kortknip om te keer dat ek koud kry met my dun truitjie, het ek gesê ek vries eerder voor ek uitmis! Hy het toegegee en nog ‘n keer só hoog bo die voëls gesweef, dat die berge soos miershope begin lyk het en die plaaspaadjies niks meer as ‘n kartograaf se skets was nie. Die hoogtepunt was toe ons laag naby die damoppervlak geseil het, en dit gevoel het asof ek aan my medebloggers onder op die grond kon raak. Oom Kosie kon deur sy oorfone hoor hoe ek skaterlag van plesier – dit was voorwaar een van die beste ervarings van my lewe!

  • Foefieslide: Die 220 meter-lange foefieslide daal ‘n skerp 45 meter van die krans af in die vlakste deel van die dam in. As jy ooit gewonder het hoe om die ys te breek tussen 30 vreemdelinge wat van die dubbeldekboot af toekyk, moet jy die foefieslide Des-styl aanpak. Wanneer jy die foefieslide vir die eerste keer aandurf, vind jy vinnig uit dat mens nie op jou agterstewe land nie, maar eerder met ‘n onvleiende pensplons. Ongelukkig het ek my swemklere vergeet en moes toe die foefieslide in my spanbroek (dit was óf dit óf jeans) voltooi. Toe my voete die water raak het die broek toe besluit om af te gly en is goddank deur die harnas om my gered. Ek het onbeholpe en verleë probeer opstaan en probeer om nie my bas vir al die toeskouers te wys nie. ‘n Skrale handvol wiere was my enigste bekleedsel. Dit was vreeslik lekker, maar volgende keer bly my spanbroek definitief eerder by die huis!

  • Bootvaart: Die dubbeldekboot is ‘n ontspannende manier om hierdie vreedsame landskap te ervaar. Daar is selfs ‘n braai op die boot! Aan die berg se kant van die dam is daar ‘n kronkelende kano-roete deur die kloof waar die twee watervalle gesien kan word.

  • Ander: Visvang, swem, kanovaart, staproetes, fietsry, of bring jou eie boot vir watersport (permitte by die hoofkantoor te koop).

Verblyf: Umshanti het bekostigbare selfsorgkothuise en kampeerplek vir die lekkerste avontuur-wegbreek!

GPS: S3401’12 E2032’37 | 028 5123787

2. Swellendam Getaway Adventure Farm (The Berry Farm)

Hierdie plaas bied ‘n fantastiese dag-uitstappie vir ieder en elk met ‘n hele boel aktiwiteite. Die gasheer, Henri De Jager, saam met sy seun en vrou, sal vir ure lank vermaak verskaf. Daar is ‘n foefieslide (wat nie in die water eindig nie – jippie!), paintball (waar ‘n mens mik vir plakkate en verfbottels in die woud, eerder as mense – jippie!) sowel as vierwielmotorfietse (wat hul eie baan met oplope en hindernisse het – jippie!). Die bessie-doolhof is nog aan die groei, maar al is die bossies nog nie groot nie, is dit alreeds moeilik om jou pad na die middel van die doolhof te vind. Asof dit nog nie genoeg is nie, kan jy ook die staproetes, fietsroetes en gholf-oefenbof met oorgawe aanpak. Verder kan jy in die seisoen bessies pluk en jouself met ‘n likeurproe bederf. As die dag einde toe staan en jy klaar met al die aktiwiteite is, is daar ‘n kroeg teen die dam wat die perfekte plek bied om te ontspan.

Verblyf: The Berry Farm bied ‘n keuse van selfsorgkothuise wat ook op ‘n B&B-basis bespreek kan word.

GPS: 34°00.518 S, 020°25.558 E | 082 4218555

3. Croc-paddling by Stonehill River Lodge

As jy dink croc-paddling behels dat jy in ‘n opblaasboodjie deur ‘n poel vol krokkodille moet roei, kan jy maar gerus ontspan. Want by Stonehill Rover Lodge het croc-paddling hoegenaamd niks met krokodille (óf Crocs!) uit te waai nie, en dit word hoog aanbeveel. Die riviergids, Niel Rupping, het mooi vir ons verduidelik hoe om die bote te roei en te beman voordat hy ons in paartjies opgedeel het en by die Breederivier afgestuur het. Daar het ons in die kronkelgang tussen fynbos, melkhout en reuse aalwyne afbeweeg. Die winterwind het gewaai, terwyl ons die rapids oorwin, en ons het uit ons mae gelag toe Lisa en Ovi van een oewer na die ander stroomaf geslinger het in hul mislukte poging om reguit te roei. Ons het die prag en gerustheid van die natuur bewonder toe Neill ‘n klein rivier-oorgang aan ons uitwys. Dit was omtrent 200 jaar gelede deur die Voortrekkers gebruik, en vir ‘n oomblik kon ek my die lewe in daardie tyd voorstel.

Verblyf: Stonehill River Lodge bied elegante 4-ster selfsorgeenhede op die rivieroewer. Die eenhede is ruim, met groot vensters om die uitsig te geniet, en ‘n kaggel om jou warm te maak na ‘n roeisessie op die rivier.

GPS: -34.11597, 20.52352 | 011 267 8500

4. Two Feathers Perdry-Roetes

Ek is mal daaroor om te stap en berg te klim, maar die ritmiese klip-klop van perdehoewe, en die feit dat ek meer op die uitsig kon fokus as op my voete, het my oortuig dat hierdie die beste manier is om Swellendam se staproetes te verken. Die dikgrys wolke het laag oor die voet van die berg gevou toe ons groepie vroegoggend te perd wegspring. Ons is begelei deur Stephanie, die eienaar van Two Feathers Horse Trails. Ek is normaalweg die een wat met die stadigste perd opgesaal word, maar ek was verbaas om te sien dat my perd, Tequila, eintlik heel bekwaam was, en dat arme Ovi die een was wat omtrent ‘n halwe kilometer agter ons aangedrentel het. Maar 5 minute voor die einde van ons perderit gaan dinge bietjie skeef. Ons weet nog steeds nie of Tequila gegly het of in sy slaap geloop het nie, maar daar syg die perd skielik op sy knieë neer. Gelukkig was dit nie te ernstig nie, en ek het dit reggekry om darem bo te bly – al was daar wel Tequila betrokke!

Verblyf: As jy beide die dorp en natuurskoon wil ervaar, is Gaikou Lodge net die plek. Dis ‘n 4-ster B&B op die rant van die dorp, ‘n klein entjie se stap van Two Feathers Horse Trails af. Die eenhede is modern en ruim, met groot gemaklike beddens en ‘n luukse bad waaroor jy maar kan opgewonde raak.

5 Lichtenstein Street, Swellendam | 028 514 2648

5. Walvis Staproete by De Hoop

Siende dat ons #swellenblog-reisplan so propvol aktiwiteite was, het ons nie tyd gehad om die Walvis Staproete by De Hoop Natuurreservaat aan te pak nie. Maar die 15 minute wat ons by Koppie Alleenstrand spandeer het, was meer as genoeg om ons te oortuig dat die staproete langs die 55 km ongerepte kuslyn die moeite werd sal wees. De Hoop is ‘n ikoniese bewaringsgebied, so geen visvang of oestery word toegelaat nie. Hierdie area is die vesting van 600 tot 700 suidelike noorkappers tydens die walvisseisoen, en hul getalle styg byna elke jaar met 7%. Die eienaar, William Stephens, het al meer as 70 walvisse op een slag gesien! Hierdie walvisse sal waarskynlik nie van naby in De Kelders gesien word nie, maar De Hoop strand is selfs nog meer geskik as Hermanus vir walviskyk van die kus af.

Verblyf: De Hoop bied ‘n verskeidenheid akkommodasie-opsies, soos luukse Herehuis Suites, selfsorgkothuise, en kampeerplekke. Die feit dat hierdie plek so afgeleë is, maak dat jy ten volle kan ontspan en wegbreek.

GPS: -34.454796, 20.399618 | 028 542 1253

Watter avontuurlike aktiwiteit sal jy die meeste geniet?

 

#swellenblog was ‘n mediablogskrywersreis wat deur die Swellendam Toerisme Bemarkingsbestuurder, Amanda Shackley, georganiseer is. Ek was daar op uitnodiging namens LekkeSlaap/LekkeSlaap en het nie vir enige van die bogenoemde aktiwiteite betaal nie. Alle idees en foto’s behoort aan my.
 
Hierdie blog-inskrywing is deur Desiree Haakonsen geskryf en deur Frances Strooh vertaal en aangepas.