Na ‘n paar stamperige kilo’s op ‘n grondpad kom ons uiteindelik by Muisbosskerm, ‘n spul droë bossies langs die pad. Muisbosskerm is 5 km suid van Lambertsbaai langs die R365 (Elandsbaai se grondpad) geleë. Hierdie buitelugrestaurant is so ampertjies op die strand; net 5 trappies en dan voel jy die sand tussen jou tone.

Muisbosskerm het begin toe die eienaars vir vriende en familie ‘n egte Weskus-ervaring wou bied en het toe in 1986 die deure oopgemaak en die wêreld binnegenooi. In die winter- en somermaande word middagete om 12:30, en aandete van 18:30 af bedien.

Die heerlike kosfees is ‘n buffetstyl-ete, waar jy jouself help en jy kan eet tot jy lê. Die restaurant is nie elke dag oop nie, so jy moet vooraf bespreek om seker te maak jy ry nie al die pad verniet nie. En as jy wel ‘n bespreking maak, is dit definitief die ry werd. Jy word verwelkom met die tipe gasvryheid wat jy net in die Weskus aantref. Jy kan sit waar jy wil, so maak seker jy is so paar minute vroeg. Jy kan ook op die beeldskone, ongerepte strand gaan wandel of bloot net ver oor die see staar voordat jy jou plekkie gaan inneem. Geniet ‘n drankie terwyl jy wag vir die heerlike feesmaal om te begin.

Die koninklike kos word daar voor jou oë op verskeie braaivleisvure gemaak terwyl die pragtig plaasbrode in die klei-oonde rys. Daar is ‘n kontantkroeg met verskeie biersoorte en wyne uit die omgewing. Die feesmaal skop af wanneer jy jou plekkie gekies het en ‘n drankie in jou hand het …

Dit begin met smaaklike sout bokkoms, waarna jy beslis keel sal moet natmaak met ‘n yskoue drankie. Magiese mielies (ek spot nie mense, dit was regtig ‘n besondere mielie) is volgende op die spyskaart en word doodeenvoudig met sout en plaasbotter voorgesit – heerlik!  Maar pasop! Daar kom nog baie kos, so jy moet ‘n plekkie hou. Daarna bring hulle die smaaklike snoek en engelvis wat saam met stroopsoet soetpatats en slaai bedien word. Die brode is teen hierdie tyd gereed om uit die oond te kom. Jy kan dan vir jouself ‘n vuurwarm snytjie (of twee) gaan kry en dit met plaasbotter, ingelegde vye, appelkooskonfyt of hanepootkorrelkonfyt belaai.

Ons is nog lank nie klaar nie …

Daarna bedien hulle die paella (met mossels, kreefpote en steurgarnale), aartappeltjippies, kabeljou, stokvis in ‘n beslag, waterblommetjiebredie, hotnotskoolbredie en kreef (wat jy teen ‘n addisionele koste vooraf moet bestel). Nog disse het hierna gevolg, maar teen hierdie tyd was ek al trommeldik geëet. Wanneer die kos so bietjie gesak het en jy die ongelooflike natuurskoon ingeneem het, is ‘n heerlike koppie boeretroos en ‘n kraakvars koeksister gereed om jou bietjie woema te gee vir die langpad huis toe.

As jy steeds wonder waaroor almal gons – gaan kyk self watter juweel hier langs ‘n skynbaar verlate grondpad aan die Weskus skuil. Jy sal keer op keer die Weskus besoek net om by Muisbosskerm in te loer.

Skakel hulle gerus by 027 432 1017 of besoek hulle webtuiste om meer uit te vind en besprekings te maak.