As jy die Vaalrivier aan die noordekant van die Vrystaat lank genoeg volg, spoeg hy jou uiteindelik in dorpie met ʼn vreemde naam vir dié kontrei: Parys. Nee, jy’s ver van Europa af, maar wel in die kulturele hartjie van die Vrystaat. ʼn Ouwêreldse plekkie met genoeg je ne sais quoi wat jou sal laat verstaan waarom dié ou dorpie meer bied as wat met die blote oog gesien kan word.

Parys kry sy naam omdat die Vaalrivier en die dorpie aan die oewer daarvan byna ‘n spieëlbeeld is van Parys langs die Seine in Frankryk. Nes die Europese stad van liefde leef ons eie Parys van sy ontstaansjare af teen die water.

Parys is dalk nie ‘n groot dorp nie, maar dit het genoeg karakter om daarvoor op te maak. As jy gedurende vakansie of Paasnaweek wil wegkom, maar sien nie kans vir ver ry nie, bied Parys baie doendinge vir die hele gesin. Dit is maar ʼn uur se ry van Johannesburg en OR Tambo Lughawe af. Híér kan jy maar gerus verdwaal!

Sacre blue! Die Eiffel toring?

Ja, jy’s reg! Parys spog met sy eie Eiffel-toring. Dit is wel kleiner as sy suster-toring in Frankryk … sommer baie kleiner. Die torinkie – ʼn tong-in-die-kies kopknik na die land waar paddaboudjies ʼn lekkerny is – getuig van die humorsin van die mense hier. Kyk, dis ʼn lekke plek dié!

 Breëstraat … Waterstraat …

As jy die dorpie se karakter tjop-tjop wil ervaar, moet jy in Breë- en Waterstraat rondwandel. Vergeet maar ook van jou kar, klap ‘n tekkie en sien hoe stadig en sorgvry die lewe hier is. Breë- en Waterstraat bied interessante en ougat winkels, kunsgalerye, kunsvlyt, oudhede en lekker eetplekke.

 Kerke

Nes die meeste interessante dorpies kleur Parys se kerke en die ding-dong-del wat Sondae deur die dorp weergalm die strate in. Die Anglikaanse kerk  dateer uit 1915 en die NG-Kerk (foto: links) uit 1899.

 ‘n Bietjie bier

Daar is drie bierbrouerye in die Parys-area. Gaan geniet heuningbier, swartbier, buchu-bier, pilsner en so meer. Klein distilleerderye sorg vir brandewyn en as jy lus is vir ietsie sterker sal die plaaslike mampoer ʼn bietjie ekstra skop (of slinger!) in jou stap sit. Met dié dat daar 52 soorte bier is om van te kies, sal dit ook slim wees om liefs ‘n aandjie oor te slaap – daar is lekke oornagplekke in Parys! (Kyk net hiér!)

 Olyf-lekker

Net 17 km buite Parys, naby Venterskroon, is die land se grootste wilde olyfboord. Wie’t ooit gesê die Vrystaat is nie eksoties nie?

 Bessies dat die biesies bewe

Die landboubedryf in die area is baie suksesvol en dit spog ook met ‘n bessieplaas sowat 20 km buite die dorp. Bon-Af Landgoed is die enigste bessieplaas in Suid-Afrika wat swart frambose verbou, en ook 80 ander bessiekultivars. Kinders geniet dit veral om hier bessies te pluk. Die plaas bied ook allerlei lekkernye vir die hele gesin.

 Vredefortkoepel

Parys is so te sê die poort na die Vredefortkoepel waar ʼn meteoriet met ‘n deursnee van 5-10 km die aarde hier met ʼn knal getref het. Dit is die wêreld se oudste en grootste meteorietkrater en ook ʼn Wêrelderfenisgebied (Suid-Afrika se 7de!). Die gevolg van hierdie oer-gebeurtenis is ʼn krater van 10 km diep en 100 km wyd.

Avontuurvrate vrek oor dié plek! Wandelroetes (beide tegniese en “makker” wandelroetes is hier te vinde), rotsklim, warmlugbalonvlugte, hengel en kunsvlieghengel, bergfietsry, paint ball, voëlkyk …

Die area bied ook ʼn wonderlike ruskans vir siele wat hulself saam met iemand spesiaal in die uitsig wil verloor.

Die Parys Dome Adventure Festival is die enigste fees wat in ʼn Wêrelderfenisgebied gehou word. Dit is ook vinnig besig om die top-buitelugfees in die land te word – die “Dragon Boat”-resies is altyd ‘n hoogtepunt. Die fees vind jaarliks tydens die eerste week van November plaas.

 Spat jouself nat

 

Word bietjie (of sommer baie) nat op die Vaalrivier met witwatervlotvaart – roetes is beskikbaar vir groentjies en vir die wat regtig ʼn rede soek om aan die kano vas te hou. Maak sommer jou vislyn ook nat as jy halflyf in die rivier staan en ‘n geelvis tart met ʼn kunsvliegie.

Ander doendinge in Parys

Parys bied ook ander lekke doendinge soos gholf, voëlkyk (256 voëlspesies kom hier voor) en wildkyk. Jy kan ook net rustig langs die rivier sit met ʼn goeie boek.

Buitelugliefhebbers sal ook mal wees oor die wandel-, bergfiets-, vierwielmotorfiets- en perdryroetes.

As die honger byt

Parys het 18 restaurante wat sorg vir lekke en interessante maaltye. Moet nou wel nie Europese delikatesse hier verwag nie – “tradisionele” Suid-Afrikaanse kosse kraai hier koning: vetkoek, afval, pap en wors en ander boerekosse sal jou jou lippe laat aflek (ander opsies is ook beskikbaar). Kry jou koppie boeretroos by een van die 10 koffiewinkels in die dorp. Van hulle is vermom as boekwinkels, ʼn bus, ouma se kombuis en allerlei straatkafees.

Prentjiemooi

Parys ís die polsslag van die Vrystaat se kunsbedryf. As jy in die vele kunsgalerye in die dorp rondwandel, is dit maklik om te verstaan waarom verskeie kunstenaars hier bly – die dorpie loop oor van talent en artistiese moontlikhede wat ontgin kan word. Liefhebbers van oudhede sal ook gaande wees oor al die antiekwinkels. Dis moeilik om met leë hande huis toe te gaan.

As die stad te veel word of jy eenvoudig net iets anders soek om te doen, gaan beleef die eksotiese in die alledaagse soos dit net in Parys gedoen kan word.

 
Titel geïnspireer deur ‘n Stef Bos lied: “Ek wil”
 

 

Foto-erkenning.

Hooffoto: Kim Soiland – www.flickr.com

Eiffel toring: Louise Burger – http://showme.co.za/vaal/tourism/thats-parys-with-a-y/

Sonsak oor Vaalrivier 1: http://www.bacheloradventures.co.za/

Sonsak oor Vaalrivier 2: Tjpytheas – http://www.southafrica.net/za/en/articles/entry/article-southafrica.net-parys

Breëstraat: losttheplot2 – www.flickr.com

Breëstraat straatnaam: www.redactor-images-live.s3.amazonaws.com

Winkel: Renier Rossouw – www.flickr.com

N.G. Kerk 1: www.wikimedia.com

N.G. Kerk 2: www.media-cache.ec0.pinimg.com

Bessies: Bon-Af Landgoed – www.berry-farm.co.za

Kaaskoek: Bon-Af Landgoed – www.berry-farm.co.za

Vredefoertkoepel: http://lists10.com/top-10-biggest-known-asteroid-hits-earth/

Dragonboat-resies: http://www.dirtyboots.co.za/operators/gauteng-dragon-boat-association/

Wiwatervlotvaart: groupon.co.za

Kunsvlieghengel: http://www.parysonvaal.co.za/activities/activities.html