Groen-vakansies is die nuutste gier. Dit is dus tyd dat jy ook op dié wa klim en sodoende jou deeltjie vir ons omgewing doen. Alhoewel ekovriendelike vakansies en wegbreke heerlik kan wees, is dit belangrik om te verstaan waar dié idee vandaan kom.

Ons stort rommel in riviere, grou gate waarin vullis vir dekades lank lê en vrot, ons roei berge en woude uit vir papier en steenkool, en elke Jan Rap en sy maat besit ’n motor wat meer en meer koolstofdioksied die lug in pomp. Ons lewe voort asof daar ’n ander planeet is waarheen ons kan gaan wanneer dié een heeltemal onherbergsaam word. Ongelukkig is daar nie ’n Plan B nie, daar is net Plan A(arde). Dit is nóú die tyd om self verantwoordelikheid te neem vir die kwynende stukkie rots onder jou voete. Ons planeet ly al hoe meer onder die mensdommes se morsige manier van lewe, maar elkeen van ons kán ’n verskil maak ─ as ons wil. Die grootste aandeel aan die swaarkry van die aarde is die hoeveelheid mense wat vandag op haar leef.

Ons as mense streef na dieselfde goed. Ons verskil dalk in drag, kleur, geloof en vorm, maar ons is één mensdom. Ons streef almal na genoeg kos, skoon water, goeie gesondheid, waardigheid en goeie verhoudings. Ons is op soek na geleenthede en die hulpmiddels om ons potensiaal te bereik. Ons wil ons kinders grootmaak in ’n veilige en gesonde omgewing. Ons wil die aarde se prag en natuurlike milde ervaar. En tog pas ons nie die aarde op nie! Die einste planeet, waarvan ons so baie verwag, kry seer weens menslike gierigheid en onkunde. Die toestand van die aarde is dus die rede waarom klimaatverandering en die verlies van biodiversiteit ons onverdeelde aandag verg.

Die gesondheid van die lug, water en grond affekteer ook óns gesondheid. Die gehalte van ons lewens en die lewens van toekomstige geslagte is direk verwant aan die grootte van die menslike “familie” en die manier waarop ons na ons oermoeder omsien. Dit is dan tog logies dat vinnige bevolkingsaanwas die sosiale, ekonomiese en ekologiese probleme sal vererger.

Die krag wat ons nodig het om die foute van die verlede én die hede reg te stel, is nogal skrikwekkend. Tog is daar maniere om ons pragtige Moeder Aarde te help, en jy kan dit sommer vanuit jou eie huis doen. Krimp jou koolstofvoetspoor en help jou oermoeder terug op die been. Elke bietjie help! As elke persoon net één “groen” ding per dag doen, sal dit al klaar beter wees. Dit is nie nodig om onmiddellik drastiese stappe te neem nie, probeer net één voordelige ding elke dag doen en bou dan so daarop voort.

Jy wonder dalk teen die tyd wat die bogenoemde nou eintlik te make het met vakansie. Wel, by LekkeSlaap spog ons met ’n paar wonderlike blyplekke met ekovriendelike beginsels sodat jy heerlik kan ontspan met die wete dat jy terselfdetyd jou deeltjie vir die omgewing doen.

EKO-VRIENDELIKE BLYPLEKKE

Indien jy eers wil sien hoe mense met groen harte die ding nou eintlik doen voor jy dit self probeer, is daar ’n paar plekkies waar jy dit eerstehands kan ervaar. Ekovriendelike blyplekke is die nuutste gier en wat is nou beter as ’n heerlike vakansie wat op die koop toe voordelig vir die aarde ook is? LekkeSlaap het ’n paar lekke groen-instansies op die boeke.

Black Leopard Camp in Lydenburg is trots self-volhoubaar en genereer hul eie elektrisiteit en water en sorg ook vir hul eie vullisverwydering. Hulle het ook ’n kragopwekker wat net sekere tye loop indien jy jou haardroër moet gebruik. Hiér kan jy ’n ware bos-ervaring geniet.

Go Green is ’n groen-onderneming in Seepunt wat slegs omgewingsvriendelike skoonmaakprodukte gebruik en oor sonkragpanele beskik. Daar is spesiale wasbakke wat die spoeltoilette vul en hulle herwin glas, plastiek, papier en blik. Hulle gebruik ook slegs energiebesparende gloeilampe.

 

Kaapstad se lughawe-hotel, Hotel Verde, spog met die titel van Afrika se “groenste” hotel ─ Luukse akkommodasie sonder ’n koolstofvoetspoor! Die grootste groen-treffer van hierdie hotel is die gimnasium wat ingerig is met splinternuwe gimnasiumtoerusting wat krag opwek as jy dit gebruik. ’n Gesonde liggaam gereed vir ’n gesonde planeet!

Karoo Eco Reserve is slegs 46 km van Graaff-Reinet af en bied omgewingsvriendelike vakansies in die lieflike Karoo. Hier word sonkrag gebruik en die stowe, yskaste en geisers werk met gas.

Mashovhela Bush Lodge in Limpopo het lieflike grasdak-chalets wat lyk soos tradisionele Venda-hutte. Die lodge is bekroon met die Gold Leaf-toekenning vir sy ekovriendelike beginsels en volhoubare energiegebruik. Die lodge werk slegs met sonkrag en daar is ’n unieke hangmat-kamp waar jy onder die pragtige sterrehemel kan slaap.

By Platbos Forest in die Overberg kan gaste ’n unieke eko-ervaring beleef. Die akkommodasie by Platbos straal respek vir Moedernatuur uit. Platbos gebruik slegs sonkrag. Die warmwatertenk werk met ’n “donkie” en jy kan hier met gas kook. Daar is ook ’n unieke waterlose kompostoilet – nié jou gewone “long drop” nie!

TenteToe in Parys is op ’n 100 hektaar-wildplaas geleë en gebruik net sonkrag en battery-lampe. “Donkies” word gebruik vir warm water en die kombuise beskik elk oor ’n gasstoof.

Indien jy graag die ekovriendelike beginsels van ons treffer-instansies graag by die huis ook wil probeer, het LekkeSlaap vir jou ’n maklike lysie saamgestel wat dit maklik maak vir enigeen om “groener” te lewe.

1. Ruil die gewone ligte in jou huis vir energiebesparende ligte.

2. Skakel saans jou rekenaar af (nie op die sleep-opsie nie, af), dit kan tot 40-watt-uur per dag bespaar (dit is genoeg krag om ‘n ketel, met genoeg water vir 2 koppies tee, te kook).

3. Herwin veral glas – dit kan tot ’n miljoen jaar neem om af te breek in die natuur.

4. Herwin koerantpapier. As slegs die Sondagkoerante herwin sou word, sou ons meer as 500 000 bome per week kon spaar.

5. Stort vinnig, dit neem baie minder water as ’n bad. Jy kan selfs jou storte beperk tot 3 of 4 minute.

6. Plant ’n boom of twee in jou tuin.

7. Koop plaaslike, organiese produkte.

8. Kanselleer jou telefoonboek. Ons grondopvulling-gebiede bestaan uit 10% telefoonboeke. Gebruik eerder die internet om foonnommers op te soek en herwin jou ou telefoonboeke.

9. Gebruik herlaaibare batterye.

10. Sit toestelle met LED-liggies by die muurprop af (die gloeiende liggies trek ’n skrikwekkende hoeveelheid krag) – dit sluit toestelle soos TV’s, radio’s, CD-spelers ens. in.

11. Hou jou grasperk 6-7 cm lank. Langer gras absorbeer meer sonlig en is dikker met dieper wortels. Dit beteken dat jy dit minder hoef water te gee en dit is beter vir die insekte wat natuurlik daar woon. 

12. Gebruik materiaaldoeke, soos vroeër jare, wat jy kan was en hergebruik. Daar is deesdae vreeslike oulike ekovriendelike doeke beskikbaar op die mark wat beter is vir jou babatjie én die natuur. SKOKKEND: ’n Kind tot en met die ouderdom wat hy/sy ’n toilet leer gebruik, sal ongeveer 5000 tot 8000 doeke dra in daardie tydperk. Dit dra by tot 3,5 miljoen ton vullis in ons grondopvulling-gebiede per jaar. 

En ten slotte, vir diegene wat ’n hart vir die aarde het, of selfs nuwe groen-entoesiaste is, is daar ’n boek wat mens ten minste een keer móét deurblaai. Jy kan dit sommer digitaal op jou rekenaarskerm deurblaai (dan spaar jy sommer ’n paar boompies terwyl jy daarmee besig is). Die OVER-boek is verskriklik interessant en roep om hulp namens ons planeet. Jy kan selfs die boek aanvra sodat jy dit kan versprei en die noodlot van die aarde onder die aandag van al hoe meer mensdommes kan bring.

Indien jy op soek is na nóg eko-vriendelike blyplekke, stel LekkeSlaap mos nooit teleur nie. Hier is maar net ’n paar van ons ekovriendelike instansies: Wolwekrans Eco Lodge, Sacred Forest Eco Vegetarian Backpacker Lodge, Swell Eco Lodge, Thaba Eco Hotel, Struwig Eco Reserve, Peace of Eden Eco Forest Dream, iNkosi Eco Lodge, Khula’s Kothuis, Swartberg Backpackers, Raptor Ridge Lodge, Jakkalswater Gasteplaas, Platbos Log Cabins.

Hooffoto: JD Hancock – Apple Earth (Flickr)

Bronne: Planet Natural, 50 Ways to Help the Planet en EFA Nappies