Franschhoek se groen wingerde, kranskopberge, fynproewerskos en ouwêreldse bekoring maak hierdie dorpie ‘n ewebeeld van Provence. Die mense wat weet verwys nie verniet na Franschhoek as die kos- en wynhoofstad van Suid-Afrika nie! As Frankryk jou hart vinniger laat klop en jy wil weet waarheen om te gaan wanneer jy hierdie stukkie paradis in Suid-Afrika besoek, lees gerus verder!

Wynkelders

Die luisterryke Franschhoekvallei is deurspek met die Hugenote se diep spore. Die uitsonderlike argitekektuur in en om die dorp getuig sierlik van hulle teenwoordigheid. Menige wynplaas in die omgewing, soos La Dauphine en La Provence bestaan al vandat die eerste Franse die wêreld hier makgemaak het in 1688. La Motte is een van die oudste en beste wynplase in die omgewing. Dit is ‘n ou gunsteling onder plaaslike inwoners en ook nou deel van die Franschhoek Métode Cap Classique (MCC)-roete.

Hierdie skilderagtige landgoed het deur die jare al verskeie internasionale toekenings ontvang vir sy uitmuntende wyne. Bo-en-behalwe die fantastiese wyne en geregte by die restaurant is daar ook natuurlike- en historiese wandelpaaie, staproetes, museumtoere en klassieke musiekkonserte gedurende die spitsseisoen. Moenie vergeet om ‘n draai te maak by die plaaswinkel vir varsgebakte- en ingelegde lekkernye nie!

Kos

Franse kookkuns lyk pragtig en smaak fenomenaal. Liefhebbers van Franse kos kan hulself bederf met ‘n besoek (of twee!) aan die volgende eetplekke met outentieke resepte en ambiances:

Bistro – French Connection Bistro is op die hoek van Bordeaux- en Hugenotestraat en wink voegangers nader met sy hartlike atmosfeer. ‘n Verskeidenheid Franse geregte word hier bedien, van pate de champagne tot moules frites en haselneut anglaise. Engelse- en Skotse geregte verskyn ook nou en dan op die spyskaart. Die kaggel is ‘n wenner in die winter en in die somer gons dit behoorlik by die tafels op die sypaadjie.

French Connection Bistro

Brassier – Mon Plaisir by Chamonix Landgoed neem elke besoeker op ‘n smaakavontuur met ligte tapas, wynparing en hoofgeregte soos qual ‘a la Francaise en Chateaubriand. Hierdie betowerende ervaring wag op jou in Uitkykstraat.

As jy in die bui is vir ‘n klassieke, informele Café-ervaring, klop gerus aan by Le Café by Boschendal Manor. Hier kan jy heerlik kuier saam met jou vriende terwyl julle smul aan ‘n keur uit die beste plaaslike kase op hulle kaasbord. Ligte middagetes is ook beskikbaar en hulle wyne en warmdrankies c’est magnifique!

Welwees

Die Franse is nie die enigste nasie wat daarvan hou om gepamperlang te word nie, maar hierdie sjiek nasie het welwees verhef tot ‘n seisonale kuns. Om die waarheid te sê volgens Franse statistiek bederf Mademoiselles hulself ten minste 4 keer per jaar met ‘n gesigbehandeling en die aantal masserings waarvoor hulle gaan word net deur hul persoonlike finansies beperk. Moenie bekommerd wees dat jou skoonheidsroetines gedurende jou vakanise- of sakeverblyf in Franschhoek onderbreek hoef te word nie. The Secret Wellness Studio is geleë op La Terra de Luc Landgoed en bied ‘n fantastiese plattelandse wegbreek. Daar is verskillende gesigbehandelings met RegimA-produkte en ook “Peel”- en “Heel”-behandelings. Tanning en verskillende lyfmasserings, gesigmasserings en refleksologie word ook hier gedoen.

Verblyf

Vir ‘n Frans-geïnspireerde wegbreek in Franschhoek, is die keuses byna oneindigend. Een gunsteling is La Cle de Montagnes, ‘n luukse selfsorg-paradys op ‘n wynplaas wat “Franse hoekie” beteken. Met die wingende, pruimboorde en indrukwekkende berg-uitsigte, sal dié vier individueel-versierde villas jou in vervoering hê!

Laat weet ons gerus van nog lekke besienswaardighede en doendinge in die Franschhoek-omgewing.

 
Hooffoto: flowcomm via Flickr
Foto 1: Werner Bayer via Flickr en Basse Provence Country House via LekkeSlaap
Foto 2: La Cle des Montagnes via LekkeSlaap
Hierdie blog-inskrywing is deur Roseanna McBain geskryf en deur Herman Botha vertaal.