Paasnaweek is amper soos Kersfees: ’n tyd vir luilekker niksdoen en ideaal vir familiekuiers. Met dié dat langnaweke so skaars soos hoendertande is, is Paasnaweek die perfekte geleentheid vir ’n mini-wegbreek saam met jou geliefdes.

Vier dae is dalk nie lank genoeg vir ʼn behoorlike vakansie nie, maar dit is ’n goeie geleentheid om jou batterye te herlaai. As jy nie tuis wil bly nie, is daar genoeg wegbreekopsies om die hele gesin se langnaweekbehoeftes te pas.

Hier is ’n paar idees vir só ’n Paasnaweek-wegkomkans:

Drakensberge KwaZulu Natal

As jy klein wil voel tussen ’n nes Drake, gaan wandel in die Drakensberge. Avontuurvrate kan hulself hier verlustig in alles wat jou na jou asem laat snak. As een van die hope staproetes of avontuursporte nie vir jou is nie en jy eerder net wil ontspan, is daar hope verblyf-opsies vir ’n skoene-uitskop-wegbreek.

Wildekus Oos-Kaap

“ʼn Ongetemde paradys” – die Wildekus is dié cliché so waar as wragtig werd. Die Wildekus strek van Oos-Londen in die suide, tot by die grens van KwaZulu-Natal in die noorde. Eindelose strande en riviermondings (soos die Kei-, Mthatha-, Mbashe- en Mzimvubariviere) word hier aangetref en die kus grens dikwels aan inheemse woudgebiede. Gewilde doendinge sluit die Wild Coast Sun Casino en Hole in the Wall in. Beide die avontuurlustige en die toeris wat net wil ontspan sal gaande wees oor die Wildekus, die Oos-Kaap se wilde kant.

Parys / Vaalrivier – Vrystaat

Terwyl Parys je ne sais quoi aan die Vrystaat verleen en jou met sy plattelandse oe-la-la bekoor, sal die Vaalrivier jou met sy belofte van avontuur kan wegvoer na ’n langnaweek met iets vir die hele gesin. Kunsvlieghengelaars stamp hier kop met geelvis, terwyl jy ook jouself kan natspat met kano- en witwaterkanovaart-uitstappies. Andersins kan jy jou kampstoel voor die Vaal neersit en luilekker saam die akkedisse die dag om dut. Gautengers en diegene in die binneland wat ʼn kleindorpie-ervaring en die rus en vrede van die Vrystaat soek, sal versot wees op Parys en haar geliefde Vaalrivier.

Witsand Wes-Kaap

Die pragtige dorpie Witsand lê maar net drie ure van Kaapstad aan die oewer van die Breederivier. Witsand is ’n visvang-mekka en as jy nog nooit ’n walvis gesien het nie, sal jy jou verkyker kan afstof om dié seereuse hier te besigtig. (Walvisseisoen strek eintlik vanaf Junie tot November, maar hou jou oë oop vir Suiderlike Noordkappers gedurende die res van die jaar; jy word dalk net verras!) Dit is ook ’n vlieërbranderryer se droom danksy die Suid-Ooster wat hul vlieërs vol woema blaas. Witsand het ’n 4 km lange pragtige, wit strand wat deur eksotiese Kaapse fynbosspesies omring word. Die Kaapse Fynbosdistrik is in hierdie omgewing verklaar as ’n Wêrelderfenisgebied. Ek kan ook verstaan waarom kunstenaars en skrywers graag inspirasie en hul muses by Witsand loop soek – vra net vir die Nederlandse sanger Stef Bos, wie se lied “Witsand” daarvan getuig: “Waar de brederivier zich verliest in de zee / waar een wolk in de verte het zonlicht breekt / En de tijd ademt traag want de tijd die slaapt / in die armen van die baai / waar die suidoos waai / … in Witsand.

Hartbeespoortdam Noordwes

Harties is ’n lekker dam waar binnelanders oor naweke van die gedruis van die stad vlug. Wraggies, Hartbeespoortdam is ’n smeltpot van doendinge, nie net kan jy by die bekende dam kuier nie, maar dit bied ook talle kunsgalerye, plaaslike kunsvlyt en genoeg kuierplekke om die ergste kuierkoors te breek. Die dorp is genestel tussen die Magaliesberge, en kyk uit oor die dam en die bergreeks. As die hope doendinge hier nie genoeg is nie, kan jy maklik en sonder te veel moeite Sun City, Pilanesberg Natuurreservaat of ander dorpies in die omgewing besoek. Harties, jou lekke ding!

Kleinmond Overberg

Kleinmond kruip weg tussen Bettiesbaai en Hermanus en is maar net 90 km van Kaapstad af. Die klein kusdorpie in die Overberg is binne ’n UNESCO-biosfeergebied geleë. Al pronk die suidelike noordkapperwalvis tussen Junie en November in dié streek se blou waters wanneer hul kalf, is daar ’n kans dat hul regdeur die jaar vanaf die kuslyn af gesien kan word, so bring gerus jou zoemlenskamera saam. Om die “wilde” kersie op die koek te sit, kan jy ook Suid-Afrika se enigste trop wilde perde in ’n moerasland-habitat by die Botrivier-strandmeer langs die Rooisand-natuurreservaat sien. Kleinmond het ook ’n Blouvlagstrand wat hope pret vir die hele gesin inhou.

Pelgrimsrus Mpumalanga

Dié ou myndorpie bars uit sy nate met doendinge vir die hele gesin. Weens die dorp se ryk geskiedenis as ’n myndorp (sedert 1873) en die meestal oorspronklike argitektuur, is die dorp as nasionale monument verklaar en in 1986 as ’n provinsiale erfenisgebied. Pelgrimsrus is in wese ouwêrelds, asof Vader Tyd van dié hoekie van Mpumalanga vergeet het (of dalk net hier afgetree het). Die dorp is egter die ideale bestemming vir gesinne waarin elkeen soms sy eie gang wil gaan. Dit het werklik iets vir elkeen, insluitend om goud te soek soos die myners van ouds, die nabygeleë Blyderivier-canyon, die Krugerwildtuin, die Sudwala-grotte en dinosouruspark, asook doendinge soos kunsvlieghengel, voëlkyk, rotsklim en die Loskopdam-natuurreservaat (met die grootste dam in die suidelike halfrond).

Paternoster Weskus

Paternoster is sonder twyfel die gewildste Weskusdorpie. Buiten sy bekendheid as een van die laaste tradisionele vissersdorpies, is dit ’n romantiese en rustige bestemming met die see as die oggendson en middernagmaan. Paternoster is ’n toevlug vir paartjies wat net wil verdwyn, of ’n wonderlike wegbreekbestemming vir die hele gesin. Tussen die golwe en die vissersbootjies wat dobber, kan jy walvisse, dolfyne, robbe en pikkewyne se waterkaskenades bewonder. En wanneer jy eenvoudig nie meer kan stilsit nie, kan jy op die oop waters gaan roei. Vir rus en vrede oor Paasnaweek is daar min plekke soos pragtige Paternoster.

Of jy die pad vat of tuis bly, maak jou Paasnaweek saam met jou geliefdes een om te onthou.